Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Supernova beklemtoon Minnie se talent


Elbie Adendorff - 2011-10-06

Supernova
Emile Minnie

Klik hier en koop Supernova nou van Kalahari.net!

 

Emile Minnie is nie ’n onbekende op die musiektoneel nie en het as deel van Vlam reeds sy merk gemaak op die musiektoneel. Van sy lirieke is deur onder meer Laurika Rauch opgeneem. Sy nuwe CD, Supernova, is onlangs uitgereik en toon dat Minnie ’n liriekskrywer van formaat is.

Supernova is ’n CD wat daarvan getuig dat hier ’n musiek- en woordkenner aan die woord is. Daar is in die CD ’n terugkeer na die elektroklanke waarmee Minnie in Vlam begin het. Dit is alles oorspronklike musiek, geskryf deur Minnie self, behalwe een getoonsette gedig van ID du Plessis, “Eenling is die mens gebore”. Die lirieke is so universeel dat elkeen wat daarna luister, met die woorde en gevoel sal kan identifiseer. Die CD is ’n wegbreek van die vorige akoestiese CD, Nagmusiek, en bevat van popliedjies tot ballades – met die fokus beslis op die elektroklanke.

Die CD handel oor die liefde: nie net die verliefdheid en die vryheid van die liefde nie, maar ook die verlange na ’n vorige geliefde en die pyn wat met die liefde gepaard gaan. Verder raak die luisteraar weer bewus van Minnie se talent as liriekskrywer en sy fyn aanvoeling vir die woord. Ook die beeldspraak en klankrykheid is opvallend, byvoorbeeld: “En die takke skuur soos ’n ding wat lag”; of “Ons liefde was die sekelmaan, ’n roos, ’n blom, ’n vreugdestraan/ Nou’s my nagte koud en leeg, ’n doodloopstraat in elke steeg”; of “Ek wonder of die silwer maan nog laggend deur jou lewe gaan/ Of is jou nagte hard en koud en veg jy net om selfbehoud?” Minnie maak in sy lirieke gebruik van natuurbeelde om emosies oor te dra of om stemming te skep en dis veral die wind, son, sterre en maan wat opvallende motiewe raak.

Die CD skop af met die energieke “Vang my”, wat kletsrym gebruik om die storie van omgee en liefde oor te dra. Dit word gevolg deur “Fladderhang”, wat opgewek van die liefde vertel, maar nie sterk elektroklanke bevat nie. Opvallend in die lied is die stemafwisselings wat Minnie gebruik om die “fladdering” uit te beeld. In “Vryheid” kom Minnie se woordrykheid in sy gebruik van beelde en metafore na vore. In al drie hierdie snitte is die ritme lekker vinnig en wikkel die luisteraar die tone op die ritmiese herhalende ondertone. In “Eva” kom die ballade-gevoel sterk na vore deur die gebruik van die klavier en die stem. Die lied is ’n ode aan vrouens en in die metafore kontrasteer Minnie die sagtheid van die vrou met haar krag en sterkte. Sy is die argetipiese Eva. In “Ek wonder” kontrasteer Minnie die verlange na ’n vorige geliefde met die vrolike, opgewekte elektroklanke. “Die lig wat my laat skyn” verwys na die titel van die CD, naamlik “My lewe is ’n supernova” en wek ’n nostalgie op. Die meesleurende ritme en klavierspel gee ’n romatiese klank aan die lied. “Hoe jy my soen” verwoord die nagklublewe in die lirieke, maar ook in die dansritme, maar tog kom ’n onheilspellende en donker ondertoon voor. Die popklank kom weer na vore in die enigste Engelse liefdesliedjie op die CD, naamlik “Rainbow”; terwyl die ongebondenheid duidelik uitgebeeld word in die opgewekte en elektroklanke van “Ongebonde”. “Jy was lief vir my” is weer eens ’n tone-wikkelende, opgewekte liedjie. Die lekker vrolike ritme veroorsaak dat mens die naaste persoon wil gryp om ’n paar danspassies uit te voer, terwyl die liriek tematies herinner aan “Ek wonder”, wat spreek van ’n verlange na ’n vorige geliefde. Die laaste lied op die CD is ’n toonsetting van ’n ID du Plessis-gedig (weer eens nie ’n eerste vir Minnie nie). Hier bewys Minnie dat hy nie net ’n liriekskrywer van formaat is nie, maar ook ’n toonsetter van formaat. “Eenling is die mens gebore” bevat reeds in die inleidende gedeelte ’n donker ondertoon, wat dwarsdeur die toonsetting in die ritme voortgesit word. Die alleenheid en eensaamheid kom sterk deur in hierdie toonsetting.

Supernova beklemtoon die talent van Minnie as liriekskrywer en komponis. Koop die CD en luister na oorspronklike Afrikaanse elektromusiek en -lirieke oor die liefde.