Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Friends with Benefits: Darem hoofsaaklik ''Benefits'' vir dié ''Friends''


Jacques Liebenberg - 2011-10-05

Friends with Benefits
Regisseur:
Will Gluck
Kamerawerk: Michael Grady
Rolverdeling: Mila Kunis, Justin Timberlake, Patricia Clarkson en Richard Jenkins
Looptyd: 109 minute

 

Anders as wat die geval was met die vervelige No Strings Attached, kan mens wrintiewaar bly sit totdat die slottoneel in Friends with Benefits vervaag.

Dié twee romantiese komedies is nog een van daardie Hollywood-verskynsels soos mens ook met Armageddon en Deep Impact, Dante’s Peak en Volcano gesien het: melk die koei vir al wat hy werd is, en die beste deel van die hele oefening is dat mens nog jare later à la Lou Reed se Wild Child laataand en vele alkoholiese drankies later kan redekawel oor watter een beter is. (Dis ’n hartseerpartytjie op enige dag, daai.)

Teen die Justin Timberlake-verwagting in is Friends with Benefits ’n heel vermaaklike fliek. Ja, die skynbaar onvermydelike “kyk, ek’s ’n wêreldbekende sanger en danser”-tonele is daar, maar Timberlake is nie so steurend dat die rabbedoe Mila Kunis se groot oë (onder meer) nie die herinnering daarvan kan laat vervaag nie.

En wonder bo wonder, vir ’n romantiese komedie, is die slottoneel nie ’n jaagtog of swemtog of valskermsprong of deurdrenk-van-Hollywood-reën nie. Dié het in elk geval nog net omtrent twee keer gewerk – in Breakfast at Tiffany’s en Four Weddings and a Funeral – en dit hoort nooit weer in die slottoneel van ’n romantiese komedie nie. Friends with Benefits is eerder ’n fliek wat deurgaans sy momentum behou en nie op goed soos toilethumor of karikatuuragtige karakters of totaal onvanpaste storie-afwykings steun nie.

Dis ’n pluimpie vir die regisseur Will Gluck, wat nog ’n groot fliek gaan maak. Sy debuut was die uitsonderlik prettige skoolkomedie Fired Up! en hy het dit vroeër vanjaar met die Emma Stone-baken Easy A opgevolg. Terloops, dis inderdaad Stone se gesig op die foon wanneer Timberlake se eks hom bel. Nog ’n Easy A-verwysing is die naambordjie van O Penderghast wat Kunis se karakter op die lughawe annekseer.

Benewens sy hoofspelers se ewewigtige spel (hoewel Kunis se manewales soms oordadig is – sy’t nie die inherente coolheid van iemand soos Zooey Deschanel of Lizzy Caplan nie) lê die fliek se bekoring in die rustige pas wat Gluck handhaaf en die balans wat hy tussen die onderskeie elemente vind. Dis amper of die fliek sy eie weg vind, soos dit seker veronderstel is om in verhoudings te gebeur. En hoewel mens moet wonder hoe die nuut aangestelde en onervare kreatiewe redakteur van ’n tydskrif soos GQ skynbaar min tyd op kantoor hoef deur te bring, moet mens onthou die werklikheid het net plek-plek plek in Hollywood. En die onderskeie brandpunt-kwessies – soos Timberlake se hantering van sy pa (die altyd kykbare Richard Jenkins) se siekte – word wel heel gerieflik opgelos, maar dis nie regtig waaroor dit gaan nie.

Eintlik doen Gluck en sy drie medeskrywers heel goed daarmee om aan die storie ’n skynsel diepte te gee, en dit word versterk deur nog gerekende byspelers soos Patricia Clarkson as die nou-hier-nou-daar-ma en Woody Harrelson as die gay kollega. As jou hoofkarakters liggewigte soos Timberlake en Kunis is, kan die byspelers sake dikwels beredder (nie dat dit hier nodig is nie). Dis nou maar die Hollywood-resep en daarmee moet ’n mens vir lief neem: die hoofkarakters het altyd oulike, vreemde, anderster vriende en/of familie wat ampertjies die kollig steel, maar hulle’s net effentjies te dwarstrekkerig vir opgevoede geselskap. Dis soos mense met kinders – verdra moet hulle verdra word.

Nog ’n bron van irritasie is die fiktiewe fliek waarna Kunis-hulle kyk en waarvan die gebeure in die storielyn neerslag vind. Sulke foefies laat mens altyd wonder of die fliekmakers nie genoeg vertroue in hul storie en karakters het dat dié op hul eie bene kan staan nie.

Gelukkig vir die bo gemiddelde kyker – dis nou die fliekganger wat toemond kou en nie in die teater SMS nie – probeer Friends with Benefits niks meer wees as al sy dele saam nie. En onthou, New York is koning, of so iets.