Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Ongepubliseerde digters

Verras-vers: Vir see


Louis Roux - 2011-10-04

Untitled Document

Vir see

dit het gereën hier
vir dae en dae aanmekaar
dit was of god ons
weer wou wegwas
en oor begin

en vandag het dit opgehou
en die lug was blou
die amper-deurskynende
blou van jou oë
en die wolke het gelyk
soos die stukkies watte
wat kleuters op hulle
arts+crafts-projekte plak
(en ek het uiteindelik
verstaan
hoekom kinders altyd vir
die heilige soek in die lug)

en die landskap
wat agter die karvenster
verbygeflits het
was groen
die groen van lig

                       en spasie

       en lewe

en ek het gesien dat alles
op so ’n dag weer kop uitsteek
en opnuut begin groei
(en ek verstaan
uiteindelik
hoekom die romantiese digters
vir die heilige gesoek het
in die natuur)

en nou is die maan amper
amper
vol

(hei,
      jy onthou daai een cliché?
die een van
        as ek na die maan kyk
        en jy na die maan kyk
        dan kyk ons na dieselfde maan
en op een of ander manier,
in ’n logika wat net in
disney-flieks bestaan,
is ons gekoppel in ’n oomblik?

wel ek verstaan dit ook nou)


Hierdie gedig is voorgelees tydens die Verras oop-mikrofoon-sessie by die pas afgelope Versindaba.