Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Wasted on the Young ook ’n verspeelde kans


Jacques Liebenberg - 2011-10-04

Wasted on the Young
Regisseur:
Ben C Lucas
Kamerawerk: Dan Freene
Rolverdeling: Oliver Ackland, Adelaide Clemens en Alex Russell
Looptyd: 97 minute

 


’n Vriendin se geskeide kêrel is ’n welgestelde, Engelse Jood van Kaapstad se suidelike voorstede. Hy’t ’n 18-jarige seun en ’n 14-jarige dogter, en my vriendin vertel die vreesaanjaendste goed van hoe die tieners in dié kringe tekere gaan.

Die 14-jarige se 17-jarige kêrel kom kuier en hy slaap sommer oor. En nie in ’n afsonderlike vertrek nie. Hul idee van ’n gesinsete aan tafel is, wel, bloot ’n gedagte.

Ek’t daaraan, en aan voorslag-Afrikaner-adel soos die Waterkloof-vier, gedink toe die storie in die Australiese fliek Wasted on the Young sy voete vind. Dis ’n riller oor ’n oulike matriekmeisie by ’n privaat skool wat op ’n partytjie deur die swemspan se kaptein en sy regterhand verkrag word en die rol wat sosiale media in die teistering van ’n persoon kan speel.

Ben C Lucas, die skrywer en regisseur, het ’n fliek gemaak wat mens tot ’n punt laat kriewel. Die vrae wat hy stel is pertinent, hoewel hy nie sy woorde versigtig kies nie. Dis jammer hy raak gaandeweg so meegevoer dat sy fliek verval in onwaarskynlikhede en ’n grandiose, idealistiese ontknoping. Sy visuele foefies – veral die SMS-taal wat bo-oor die karakters vertoon word – help ook net deels; die flikkerbeelde wat as waarskuwing teen skoolslagtings moet dien, is uiteindelik maar koue pampoen. Dit maak van Wasted on the Young meer Eva Mendes se Live! as Gus Van Sant se Elephant.

Daar’s ’n sterk ooreenkoms met Rian Johnson se supercool Brick in die oorbeligte, amper mafia-agtige uitbeelding van die skoolhiërargie en die verwyderdheid van enige gesagsfiguur. Vir dié kinders is ouers en onderwysers nie te onderskei van die swembadtoerusting en swartbord nie en hulle dien een doel: Gee daardie geld – ook vir dwelms – en koop daardie kar, skootrekenaar en slimfoon en moenie vrae vra nie!

Nog iets tel in Wasted on the Young se guns: Lucas het sy akteurs goed gekies in die sin dat die hoofspelers sag op die oog is, sonder dat hulle na ekstras in High School Musical lyk. Die spel is wel middelmatig, maar dis van sekondêre belang soos Lucas sy skuiwe op die redigeerbord maak. Dat die boodskap gebring word, is hier belangriker as die boodskap se inhoud.

En die boodskap is, soos, so verlede jaar. Nie een van die kinders pluk eens ’n iPad uit nie.