Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices > Afrikaans

Nuut by Naledi: Lang bene & lipstiek


2011-10-04

Lang bene & lipstiek
Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses
Riette Rust
Uitgewer:
Naledi Uitgewers 

Baie feministe sal sê dis ’n doodsonde om jou lang bene en lipstiek in te span om in jou werk te vorder. Maar nou bewys navorsing dit wérk!

Die bekroonde joernalis Riette Rust skryf feitelik, boeiend en soms ook tong in die kies oor erotiese kapitaal, die nuwe gonswoord vir daardie X-faktor wat tot dusver onbeskryf is.

Mens sou erotiese kapitaal kortliks kon opsom as seksualiteit ineengevleg met selfvertoue, sprankel en lewenslus. Of as daardie natuurlike aantrekkingskrag, fisiek en sosiaal, wat jou onweerstaanbaar maak.

Die skepper van die term, dr. Catherine Hakim, is ’n sosioloog aan die London School of Economy. As jy erotiese kapitaal het, het jy die belangrikste professionele eienskap wat nodig is vir sukses in die komende dekade, skryf sy in die European Sociological Review (19 Maart 2010), ’n joernaal oor sosiale studies wat wêreldwyd versprei word.

Jou loopbaanvooruitsigte sal dramaties verbeter, “net soveel soos met ’n goeie universiteitsgraad,” reken Hakim. Belangriker nóg in hierdie taai ekonomiese klimaat: Navorsing bewys jou inkomste kan met tot 15% styg!

Of jy vrou of man, jonk of ouer, mooi of minder mooi is, jy kan erotiese kapitaal aanleer. Byna soos die samelewing ons kinders geleer het om as vrou of man op te tree, sê Hakim. Jy hoef ook nie besonder maer of ryk te wees nie, ander sal in elk geval aan jou lippe hang!

Riette Rust vertel meer oor bekendes wat erotiese kapitaal het, soos ons eie Steve Hofmeyr, Jeannie D, Tammy-Anne Fortuin, Sarah Theron, Izak Davel en Chris Chameleon. Ook oor oorsese bekendes waaronder die Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama, daardie volronde, sexy Britse kok Nigella Lawson en die aktrise, filantroop en ma van vele, Angelina Jolie.

Riette onderneem self ook ’n praktiese eksperiment wat toon dat vaal mense heelwat swakker behandel word as dié wat reeds erotiese kapitaal aangeleer het.
Lang bene & Lipstiek vertel jou ook hoe:

  • om elkeen van die eienskappe waaruit erotiese kapitaal bestaan, aan te leer.
  • die skrywer self omtower is van ’n vaal, oorgewig jong meisie tot ’n goed-versorgde vrou met sprankel en heelwat om te sê.
  • jy jou seksualiteit tot jou voordeel kan gebruik.
  • jy jouself meer vertoonbaar (“presentable”) kan maak.
  • belangrik ’n sosiale bewussyn en sosiale vaardighede is.
  • noodsaaklik deelname aan sosiale netwerke soos LinkedIn, Facebook en Twitter in vandag se werkwêreld is.
  • om jou selfbeeld te verbeter.
  • jou sin vir humor en lag kan bydra om jou erotiese kapitaal te versterk.
  • om in elke stadium van jou lewe finansieel te oorleef. Ja, erotiese kapitaal is ook ’n ekonomiese konsep.
  • om jaloesie te hanteer. Want dit is wat jy ongelukkig sal ervaar wanneer jy sensueel en sprankelend geword het!

Lang bene & Lipstiek is ’n insiggewende, maar ook lekkerlees-selfhelpgids waarsonder jy nie die 21ste eeu behoort aan te durf nie.

Lang bene & Lipstiek word tydens Aardklop op Vrydag, 7 Oktober om een-uur in Rapport se Boeke-Oase op Potchefstoom bekend gestel.