Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Zuma was nog nooit die ''ware Jakob'' nie


Jason Lloyd - 2011-10-04

Untitled Document

 President Jacob Zuma se leierskap laat veel te wense oor. Reeds daarom is dit veilig om te impliseer dat hy nie die “ware Jakob” is nie. Sy strategiese-leier-eienskappe skiet in baie opsigte heeltemal te kort. Zuma se onlangse optrede in die parlement deur belangrike vrae van die opposisie te systap – nogal met die hulp van die Speaker – is baie kommerwekkend en bewys sy gebrek aan ware leierskap.

Wanneer daar van Zuma verwag word om ferm op te tree, dan trap hy klei. Hy gee dan nie rigting aan nie en kom dus voor as ’n weifelende leier. Wat anders kan ’n mens verwag van ’n sogenaamde leier wat op die rug van populisme tot binne die Uniegebou gery het. Met die nasionale kongres van die ANC in Desember 2012 nie ver nie, gaan sy leierskap ál meer weifelend word.

Die vrees vir wat met oudpres Thabo Mbeki in 2007 in Polokwane gebeur het, gaan Zuma nog behoorlik pak. Die skielike aanstelling van ’n geregtelike kommissie om die Wapenskandaal te ondersoek, word allerweë beskou as iets om die waarheid toe te smeer, “maar ek reken hy dink hy kan die proses beheer, anders sou hy dit nie gedoen het nie,” het Andrew Feinstein, ’n gewese ANC-LP wat in sy boek After the Party die wapentransaksie blootgelê het, gesê.

Dit is nog net die begin. Zuma vrees die ANC-valbyl. Hy vrees veral die ANC Jeugliga wat hom in 2007 gehelp het om van Mbeki ontslae te raak.

Die man van Nkandla het vergeet dat elke hond kry sy dag. Wat jy saai sal jy maai. ’n Tweede termyn vir hom lyk nou net na ’n droom.

Hoe anders dan? Zuma was nog nooit deel van die “historiese bloedlyn” van die ANC nie. Hy was nooit bedoel om president van die ANC en later president van Suid-Afrika te word nie.

Eerstens is hy etnies buite die historiese bloedlyn. Die ANC het sy vastrapplek in die Oos-Kaap, waar die Xhosas die meerderheid en dominante etniese groep is. Die Oos-Kaap is die bakermat van ANC-leiers soos die Calatas, Mbeki’s, Mhlabas, Tambo’s, Sisulu’s en natuurlik die wêreld-ikoon, Nelson Mandela.

Tradisioneel was ANC-presidente nog altyd deel van die intelligentsia wat ’n baie hoë aansien op byna alle vlakke van die samelewing geniet het. Zuma val tragies ook buite hiérdie historiese bloedlyn. Sy intelligensie was al talle kere ’n onderwerp van bespotlike bespreking. Ook die feit dat hy altyd sy toesprake vervelig en onsamehangend voorlees.

Onlangs het ’n joernalis die President gevra hoekom Suid-Afrika ’n nasionale plan nodig het. Sy antwoord was: “We need a plan that says this is the plan.” ’n Belaglike, ongenuanseerde antwoord, om die minste te sê.

Verder moet Zuma die skuld kry vir die ongedissiplineerdheid binne die ANC Jeugliga. Die Amerikaanse politieke wetenskaplike Robert Dahl het opgemerk dat die VSA nie demokraties is as gevolg van sy demokratiese grondwet nie, maar as gevolg van ’n samelewing wat waarde heg aan ’n grondwetlike demokrasie.

Die Suid-Afrikaanse politieke wetenskaplike Anthony Butler het dit in Business Day so gestel: “The belief that a constitution can protect democratic rule is in part tautology (democracy is simply constitutionalism) and in part the product of despair at the challenges of effective political deliberation. Building civil society, creating systems of accountability and defending prudent economic policies are breathtakingly difficult tasks in a poor and divided society – and likewise in a fluid and disorganised liberation movement.”

Kom ons kyk hoe is dit van toepassing op die ANC.

Dissipline in die ANC, en veral in die ANC Jeugliga, bestaan amper nie meer nie. Die nasionale leierskap onder Zuma sukkel om invloedryke en morele leierskap binne die ANC te handhaaf. Hoeveel provinsiale, streek- en takstrukture moes nie al deur die nasionale ANC ontbind word nie?

Die ANC se demokratiese grondwet onder Zuma kan nie demokrasie in die ANC handhaaf nie, bloot omdat die ANC-leierskap en lede nie meer waarde aan demokrasie heg nie. Die ANC is dus demokraties bankrot.

Nou wil Zuma sy gesag en sy herverkiesing volgende jaar red deur comrades links en regs te dissiplineer. Butler stel dit so: “[T]he disciplinary hearings are simply an admission of defeat.”

Jacob Zuma blaas ’n roemlose aftog as president van die ANC en ook as president van Suid-Afrika. Hy was nog nooit die “ware Jakob” nie.