Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features

Open Book-verslag: Poësie van lirieke


Bibi Slippers - 2011-09-30

Hier is ’n belangrike brokkie inligting vir dié wat dit nog nie weet nie: Computicket bring nie deeltekens op hulle kaartjies aan nie.

Toe ek ná die bekendstelling van Leon de Kock se boek Bad Sex skarrel om betyds by die Fugard-teater te wees vir die volgende geleentheid (Poësie van Lirieke, sonder die deeltekens) het ek begin dink dat die literêre fees dalk ontaard het in ’n ander tipe feestelikheid.

Feestelik was die Poësie van Lirieke bepaald, maar (gelukkig?) nie op die manier wat die afwesigheid van deeltekens sou suggereer nie. Vier van Afrikaanse se top-toorders met woorde is bymekaargebring op een verhoog. Valiant Swart, Toast Coetzer, Andries Bezuidenhout en Stef Bos is almal ikone van ons musiekbedryf, maar met die visioenêre verbeelding en organisasievermoë van Verushka-van-die-Book-Lounge Louw is hierdie liriekskrywers nader gehark om hul lirieke te kom voorlees – as gedigte. Dit was ’n geïnspireerde idee en die aand kon nie anders as suksesvol wees nie.

Verushka Louw van The Book Lounge is die boekverkoper se ekwivalent van ’n rockster.

Toast Coetzer, Andries Bezuidenhout en Stef Bos raak meegevoer deur Valiant Swart se voorlesing.

Valiant was eerste aan die beurt en het die storie agter die woorde van sy legendariese liedjie “Die mystic boer” vertel. Daarna het hy die lirieke voorgelees, kompleet met mystic moves om atmosfeer te skep. Op aandrang van die ander liriekskrywers/poëte op die verhoog het hy ook die lirieke van “Waar die dromers dwaal” gelees. Die ander het binnensmonds saamgeprewel. Dit was ’n mystic moment, iets met die makings van rock ’n roll-mitologie en die heiligheid van ’n Tibettaanse dreunsang. ’n Toordery, met ander woorde. Lees ook sommer die resensie van Valiant se bundel lirieke Toorwoorde roep my hier.

Valiant Swart raak mystic met sy moves.

Valiant verduidelik waar die woorde vandaan kom.

Andries Bezuidenhout, diep in gedagte

Volgende was Toast Coetzer, voorprater van The Buckfever Underground. Hy het lirieke voorgelees van nuwe liedjies wat hy geskryf het as deel van ’n nuwe side project met die naam Simply Dead. Met titels soos “Die Here is my herderspastei” (wat ook oortuigend vertaal is as “The Lord is my shepherds’ pie”) en sy kenmerkende vermenging van Engels en Afrikaans was dit ’n stukkie Toast op sy beste. (Wil iemand nie tog maar Toast se lirieke bundel nie? Ek vermoed dit sal soos soetkoek verkoop. Of soos brood, wat oor die algemeen nog vinniger as koek van die rak af vlieg.)

Toast Coetzer vra raad van sy kollegas.

Toast lees lirieke wat hy by die Wimpy op Klawer geskryf het.

Andries Bezuidenhout, in musiekkringe beter bekend as Roof van die Brixton Moord en Roof Orkes, is reeds gepubliseer as digter (lees ’n resensie van sy bundel Retoer hier) en is tans besig om aan sy tweede bundel te werk. Andries het besluit om eerder gedigte as lirieke te kom lees, maar het verse uitgekies wat met refreine werk, en dus verwant is aan musiek. Literêre hibride van die heerlikste soort. If these poems are anything to go by – en ek wèèt eintlik hulle is – dan gaan die volgende bundel op verskeie vlakke gat skop. Soos in die beste gedigte gaan daar in hierdie tekste ’n klomp goed gelyk aan, maar soos met die beste lirieke is hulle onthoubaar. Die refreine bly by jou lank nadat Andries weer op sy hoë bar stool gaan sit het na sy voorlesing, en dae nadat hy terug is Pretoria toe, dink mens nog steeds aan die refreine. Nog steeds aan die refreine. Nog steeds.

Andries Bezuidenhout hou sy hande hip hop.

Andries glo die refrein kan die liriek maak.

‘n Rockstar in All Stars – Andries Bezuidenhout in aksie

Laaste aan die beurt was Stef Bos, waarskynlik ons bekendste invoerproduk uit die Lae Lande. Sy lirieke en gedigte is ook al gebundel, en terwyl ek luister, wens ek dat sy stem, sy aksent, sy unieke vermenging van Afrikaans en Nederlands en Vlaams gebottel kan word. Dis om van op verlief te raak. Stef het lirieke voorgelees en gesels oor die verwantskap tussen musiek en taal. Hy kom tot die volgende gevolgtrekking: “Musiek gee die ballas aan die taal.” En wie kan of wil nou stry met so ’n uitlating? Tydens sy voorlesing het hy egter bewys dat die taal heel oortuigend ook alleen kan staan, dat daar genoeg musiek in die woorde is om vir ballas te tel. Maar soos hy tereg sê: “Alles in die lewe is eintlik ’n huwelik.”

Stef Bos glo dat elkeen moet skryf soos hy self is, maar, sê hy, “Dit is die moeilikste ding in die lewe.”

Stef Bos

Ek onthou so ’n picture poem  van Hunter Kennedy wat ’n rukkie gelede op MK gespeel het. Dit begin met “musiek moer orgasmes op my oordromme” en eindig met “sonder musiek beteken my woorde niks”.

Hiervan is ek nie heeltemal oortuig nie. Die poësie van lirieke beteken dalk iets anders wanneer die magic van musiek bykom, maar daar bly (met of sonder deeltekens) ’n onbeskryflike genot in die woorde, die lirieke, die poësie.