Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

My lyf


Joan Hambidge - 2011-09-28

My lyf

My lyf is soos die naakmodel
in ’n Lucian Freud-skildery:
skrynend vol hompe en hobbels en heuwels
soos in Yerba Buena, oftewel San Francisco
soos in soos in soos in ’n vergelyking wat nie opgaan.
Soma ook South of Market in hierdie stad van soveel vergelykings
waar die lyf soos slaggoed opgeveil word. 
Die lyf verraai die psige, waarsku Lacan,
iewers in een van sy lesings, opgeteken, vertaal
en dalk ook verfomfaai deur Alan Sheridan.
Is dit egter wat hy sou gesê het?
Dat die lyf ’n taal van haar eie verraai?
Ons praat tog van body language?
Eens ’n vesting vir die liefde, koesterende, aaiende hande.
Nou afgesluit met geen begeerte tot die Ander.
Altyd iets versus iets. Is teenoor was.
Skrams vang ek my lyf op in ’n spieël
(soos wat jy ’n blik van ’n ander op jou betrap
in ’n trein waar jy as vreemdeling uittroon bó reisigers
tussen ’n stasienaam en ’n tydelike vesting).
Is dit my lyf? Is dit ek? Is dit hoe ek lyk?
Objet à?   
Odds and ends?

Langue maternelle?
Lyf, liggaam, soma.
Die lyf (in corpore sano of dalk so iets)
verniel deur vele reise
is uiteindelik al wat ek hadde
om sonder ’n vergelyking te wys.
Die stasienaam is die siel; die tydelike vesting,
hierdie hobbelende, heuwelende, eens heerlike lyf.

 

– San Francisco