Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Hygliteratuur | Erotic literature > Straight > Kompetisies | Competitions

''Quickie''-kompetisie: Die laaste oefening


Amos van der Merwe - 2011-09-28

Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.


Die klimaks was intens, asemrowend, amper onmoontlik mooi. Sy handbewegings het ongekende passie in haar laat ontvlam totdat sy haar later, toe-oog en bewend, oorgegee het aan die skoonheid van die oomblik.

Die stilte na die hoogtepunt spoel oor hulle.

“O, Maestro ...” Sy vertrou nie haar stem nou nie en fluister die woorde in verwondering. Is dit moontlik dat daar soveel deernis in sy bejaarde lyf kan wees – soveel kennis, soveel van ... haarself?

“Jy het ongelooflike talent. Mense gaan verstom wees,” sê hy terwyl sy die strykstok versigtig toerits.

Sy glimlag skaam. “Dink u regtig so?”

Hulle stap saam van die verhoog af. Sy móét rus.

Buite sal die mense al begin toustaan vir vanaand se uitvoering.