Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features

Fotoverslag: Versindaba 2011


Bibi Slippers - 2011-09-27

Die jaarlikse Versindaba is op Vrydag 23 en Saterdag 24 September op Stellenbosch gehou. Hierdie jaar se tema, Roer die snare, het in ’n wye verskeidenheid items opslag gevind, en besoekers is getrakteer tot ’n smorgasbord digterlike woorde en gesprekke oor die digkuns.

Die program het Vrydagaand afgeskop met die DJ Opperman-gedenklesing, gelewer deur Lina Spies. Spies het “God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van DJ Opperman” as haar onderwerp gekies en lig gewerp op hierdie aspek van Opperman se werk. Opperman was Spies se mentor en leermeester, en  sy het die godsdienstige inslag by Opperman beskou, belig deur haar eie geloofsoortuiging. 

Lina Spies
Foto: Sonja van den Heever

Saterdag se program het begin met ’n gesprek oor die briewe van die Louw-broers. JC Kannemeyer en medewerkers Suzanne Bezuidenhout, Shané Kleyn, Catrina Aldrich en Marelize Ferreira het die sluier gelig oor die korrespondensie tussen twee van ons land se bekendste digters.

JC Kannemeyer
Foto: Sonja van den Heever

Die Dana Mouton-gedenklesing is pitkos vir ernstige poësieliefhebbers, en is vanjaar gelewer deur Ronel Foster. Foster het gepraat oor Marthinus Nijhoff se bekende gedig “Impasse” en oor ander digters en literatore se reaksie daarop.

Ronel Foster
Foto: Sonja van den Heever

Floris Brown, die Worcester-troebadoer, was die fokus van die vierde item op die program. Charles Beukes en Michael le Cordeur het bydraes gelewer oor Brown se lewe en werk, waarna Brown self repliek gelewer het.

Michael le Cordeur, Floris Brown en Charles Beukes.
Foto: Karel Cupido

Een van die hoogtepunte op die program was “Adam Small se kitaar en kruis”, waartydens meer as 20 digters hulde gebring het aan Small met verse van hul eie wat met hierdie groot gees in gesprek tree.  Lees meer oor die geleentheid hier.

“Adam Small se kitaar en kruis” was die breinkind van Iris Bester van RSG.

Na middagete was dit die beurt van Chris Chameleon, wat in gesprek was met Louise Viljoen oor sy toonsettings van Ingrid Jonker-gedigte. Klik hier om meer te lees oor hierdie gesprek.

Louise Viljoen in gesprek met Chris Chameleon.

 

Elmari Rautenbach, nasionale boekeredakteur by Media24, het haar buiging by Versindaba gemaak tydens die voorstelling van die debutante wat vanjaar ’n eerste digbundel vrygestel het. Rautenbach het die digters Fourie Botha, Jasper van Zyl, Anne-Ghrett Erasmus, Andries Samuel en Nini Bennett bekendgestel, waarna die digters uit hul werk voorgelees het. 

Lees gedigte deur die debutante hier:

Digters wat in 2011 gedebuteer het, op die verhoog saam met Elmari Rautenbach.

Elmari Rautenbach stel die digters bekend.

Anne-Ghrett Erasmus

Nini Bennett

Fourie Botha

Andries Samuel

Jasper van Zyl

Laaste op die program wat by die Ou Hoofgebou aangebied is, was die Stellenbosch Literary Project, of SLiP, wat vier jong performance poets aan die gehoor bekendgestel het: Pieter Odendaal, Adrian Different, Khanyisile Mbongwa en Mambesi Goje het ’n veeltalige vertoning gelewer waarin hulle onder andere ook mekaar se gedigte voorgedra het. 

Mambesi Goje in aksie.

Adrian Different

Pieter Odendaal

Khanyisile Mbongwa
Khanyisile Mbongwa Mambesi Goje


Hierna het die verrigtinge verskuif na die Lanzerac Hotel en Spa, waar digters en poësieliefhebbers bymekaargekom het vir die belangrikste geleentheid van die dag, die jaarlikse Digtersgala. Klik hier vir ’n volledige verslag van hierdie glansryke geleentheid.

Melt Myburgh en Louis Esterhuizen is beide by die Digtersgala vereer.

 

Die heel laaste item op die program het die geleentheid gebied vir aspirantdigters om hul verse tydens die oop-mikrofoon-sessie voor te lees. Pieter Odendaal was die gasheer by hierdie geleentheid, en Loit Sôls het vir vermaak gesorg. 

Pieter Odendaal speel gasheer by “Verras”, die oop-mikrofoon-sessie.

Loit Sôls in aksie tydens “Verras”. Loit het verse uit sy bundel Die faraway klanke vanne Hadeda getoonset en gesing.


Die groot opkoms en algemene entoesiasme oor die digkuns wat by hierdie jaar se Versindaba te bespeur was, asook die hoë kwaliteit van die gedigte wat voorgelees is en die bundels wat bekroon is, is beslis aanduidings dat dit goed gaan met die Afrikaanse digkuns, en dat die doemprofete vir eers kan gaan vakansie hou in Mauritius.

 

Foto’s: Bibi Slippers, tensy anders aangedui.