Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans > Gepubliseerde digters

Charlotte Mew


Nini Bennett - 2011-09-27

Untitled Document

Charlotte Mew

“Yes one can bear hard things under the open sky but for weeks now I have seen little of it except through a window.” – Charlotte Mew

I.

Beaumont Street 37, 15 Februarie.
Deur die eenrigtingglas
van jou kamer in die gestig
het jy gesien hoe die blitse
die hemel splyt in spieëls
en die dampkring wolke voortasem
tot die snelvuur van reguit reën
en die grofgeskut van donderweer.

Jy het jou naam geskryf
teen die vensterruit
maar soos asem vergaan
’n wasemnaam sekondes lank.

II.

23 Maart 1928.
Teen die glasvierkant
het ’n duif teen homself
baklei: spieëlgeveg
en skaduboks
tot die dood

en die beeld word een –

hoe lank nog
voor jy jóú spookbeeld binnevlieg?

III.

Vir laas skryf jy twee briewe
maar The Quiet House
was die dood se selfgefrankeerde koevert.
(Dalk had The Power of Silence
die laaste sê in jou keuse van gif,
die witwas van self-ontsmet en -wis?)

24 Maart 1928.
“Don’t keep me, let me go.”

  • Uit kodeks, 2011, Cordis Trust