Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features

Versindaba 2011: Chris Chameleon en Louise Viljoen gesels (oa) gedigte, musiek en rugby


Bibi Slippers - 2011-09-26

Chris Chameleon het tydens vanjaar se Versindaba ’n insiggewende gesprek gehad met Louise Viljoen oor sy toonsettings van Ingrid Jonker se gedigte. Buiten die diep sake van woorde en musiek het Chameleon ook gereeld die gesprek in die rigting van rugby geswaai. Jip. Bokke!

Chris Chameleon en Louise Viljoen praat oor gedigte, musiek en (natuurlik) rugby.

Die gesprek het geraak aan die proses wat Chameleon volg om die gedigte te toonset, asook sy belangstelling in Jonker as persoon en die aard van lirieke teenoor poësie. Chameleon het vertel dat hy op skool reeds kennis gemaak het met Jonker se werk, maar eers later in sy lewe, toe hy na die dokumentêre film oor haar lewe gekyk het, werklik in haar poësie begin belangstel het.

Viljoen het daarop gewys dat Jonker se persoonlikheid deur Michael Cope (seun van Jonker se eertydse minnaar Jack Cope) beskryf is as “a compelling combination of sex, rebellion and death”. Chameleon het erken dat dit ’n raak beskrywing is in terme van sy eie siening van Jonker se karakter. Volgens hom identifiseer hy met haar verse omdat hy self ook swaai tussen die maniese en die depressiewe, en sodoende in ’n mate haar verse “leef”. Die gesprek het dan ook geraak aan die verskillende fasette van Chameleon se karakter, asook die reikwydte van sy stem. Volgens hom is daar in sy stem ’n man, ’n vrou, ’n kind en ’n dier opgesluit, en beroep hy hom op die gepaste een van hierdie “karakters” soos die konteks dit vereis. In hierdie opsig het sy agtergrond as akteur hom baie gehelp.

Chameleon het gesê hy identifiseer die gedigte wat hy wil toonset, op baie dieselfde manier as waarop hy teenoor mense reageer: hy vertrou sy intuïsie en kan binne vyf sekondes sê of hy van ’n persoon of van ’n gedig kan hou. Dit kan die inhoud of die klank wees wat tot hom spreek – soos met vroue. Volgens Chameleon spreek party vroue se voorkoms tot hom, en in ander gevalle is dit hul karakter wat hom aantrek – en dieselfde is waar van gedigte. Hy meen dat daar in elke gedig ’n inherente melodie opgesluit is, wat hy as musikant ontdek en neerpen. Die gedigte boei hom egter op die vlak van inhoud en vorm: hy is verwonderd oor hoe Jonker in staat was om met so min woorde so baie te sê, en dat die werk op verskeie verskillende vlakke kommunikeer.

Viljoen wou ook weet of Chameleon dink dat lirieke as deel van ons poësie gereken moet word. Sy antwoord hierop was ja, aangesien hy al Leonard Cohen se “Suzanne” in ’n versameling Engelse poësie gesien het. Hy het egter gewaarsku dat hierdie inklusiwiteit noodwendig beteken dat ’n groot klomp baie swak lirieke dan ook by ons digkuns ingereken moet word ... daar is immers net sóveel woorde wat rym met “bokkie” en “rokkie”. Bokke!

Teen die einde van die gesprek raak-raak hulle aan die feit dat daar iets enigmaties aan Chameleon is – ingebou in die naam, kenmerkend van alles wat hy doen. Hy erken: “Ek is 100 persent eerlik in my uiting, maar die volle verhaal is nooit daar nie.” En dis waarskynlik waarom ons almal aanhou wonder. Dit, en die musiek. Bokke!