Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language

SBA-voorsittersrede: Afrikaans – ’n gelyke vennoot in ’n meertalige wêreld


DJ Brand - 2011-09-23

Wanneer Suid-Afrika op grond van taal gedefinieer moet word, sal baie buitelanders dit seker beskryf as ’n Engelstalige land aan die suidpunt van Afrika weens die dominante posisie wat Engels veral na 1994 in die politiek en ekonomie van ons land ingeneem het. Dit is egter net ’n halwe prentjie, en grondwetlik nie korrek nie. Daar is tog volgens die Grondwet 11 amptelike tale en erkenning van nog ’n hele rits ander tale wat ook hier gepraat word.

Die voorgestelde SA Talewet fokus opnuut die aandag op die vraag na erkenning en bevordering van meertaligheid. Dit is dus ook vir die SBA, synde ’n organisasie wat ontwikkeling in Afrikaans doen, nodig om hieroor te besin. Die konsepwetsontwerp is ’n swak poging om te voldoen aan die grondwetlike vereistes vir die skep van wetgewende en ander maatreëls om die gebruik van amptelike tale te reël en te monitor met inagneming van die vereiste dat alle amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet. Hier is ’n gulde geleentheid vir die bevordering van meertaligheid en gelykwaardige erkenning van amptelike tale wat tot dusver nie benut is nie. Daar behoort op ’n meer praktiese en pragmatiese wyse na ons taaldiversiteit gekyk te word en erns gemaak word met die grondwetlike vereiste van erkenning van gelykheid van aansien en billike behandeling van alle amptelike tale.

Hierdie vraagstuk is egter nie uniek aan Suid-Afrika nie en ons kan met vrug gaan kyk na hoe dit elders hanteer word.

Die EU en Indië is twee interessante en relevante voorbeelde. In die EU, met sy 27 lidlande, is daar 23 amptelike tale, wat klaarblyklik vele vrae oor die praktiese hantering daarvan laat ontstaan. In die evolusie van die EU het die begrippe amptelike tale en werkende tale ontwikkel in ’n poging om die kompleksiteit van ’n moderne toring van Babel effens te systap. Hierin het Engels, Frans, en in ’n mindere mate Duits, ’n prominente posisie as werkende tale ingeneem. Dit het uiteindelik tot gevolg gehad dat daar mettertyd een lingua franca ontstaan het, naamlik Engels. Die instellings van die EU kan egter steeds besluit hoe hulle in die praktyk werkende tale gebruik.

Hoe kan minderheidstale binne so ’n situasie steeds gelykwaardige erkenning en ondersteuning ontvang? Ronza en Van Parijs bepleit ’n meervlakkige taalregime waar sogenaamde taalhartlande op nasionale of subnasionale vlak (byvoorbeeld Duits of Italiaans) die keuse van amptelike tale sal bepaal en die erkenning van een of meer gemeenskaplike tale (byvoorbeeld Engels en Frans) die keuse op EU-vlak (Ronza, Political unity and language diversity: the linguistic identity of a European polity, 2006; Van Parijs, Europe’s linguistic challenge, 2004). Ronza verwys goedkeurend na die Wes-Kaap se keuse van drie amptelike tale as ’n voorbeeld van hoe die hantering van amptelike tale binne die lidlande van die EU hanteer kan word.

In die proses van ontwikkeling van ’n taalregime binne ’n meertalige konteks speel die ekonomiese waarde van ’n taal, sowel as die geleentheid tot selfverwesenliking in ’n bepaalde taal, ’n deurslaggewende rol. Dit lê ook ten grondslag van die werk van die SBA.

In die veeltalige Indië word ’n pragmatiese benadering gevolg wat weliswaar nie al die tale gelyk behandel nie, maar deur die meerderheid aanvaar word as ’n billike en werkbare oplossing. Engels en Hindi is nodig om met die nasionale regering te kan kommunikeer en word dus as amptelike nasionale tale erken. Elke burger praat ook minstens die taal van die streek waarin hy of sy woon. Elkeen moet dus twee of meer tale ken. Die Indiese state (provinsies) kan self by wetgewing hul eie amptelike tale reël. Binne die politieke, sosiale en ekonomiese konteks is dit vir elke burger belangrik om meertalig te wees, maar dit word op ’n heel pragmatiese wyse hanteer, met erkenning aan die diversiteit van tale op ’n territoriale basis sowel as erkenning aan die nasionale en internasionale lingua franca.

So ’n praktiese en pragmatiese benadering tot veeltaligheid en die gelykwaardige erkenning van ons 11 amptelike tale op ’n meervlakkige basis is wat nou nodig is met die skryf van die nuwe SA Talewet.

Waar pas Afrikaans in hierdie kaleidoskoop van tale in? NP Van Wyk Louw het Afrikaans meer as 50 jaar gelede onder meer beskryf as “die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika”. Hy het Afrikaans as ’n lewenskragtige taal beskou en gesê “Afrikaans kan vitaal bly alleen solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-albei-kante-toe bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe” (Vernuwing in die prosa, 1959). Dit is vandag steeds relevant. Afrikaans beskik vandag steeds oor die eienskap brugbouer, maar nou ook in ’n nuwe konteks van ’n meertalige Suid-Afrika. Die vitaliteit of lewenskragtigheid van Afrikaans is vandag toenemend sigbaar, onder meer in die kreatiewe advertensies in Afrikaans, ontwikkeling van nuwe vakterminologie in elke denkbare vakrigting, die erkenning van die verskillende variante van Afrikaans, en selfs Google in Afrikaans. Afrikaans moet dus as ’n gelyke vennoot in hierdie meertalige konteks erken word.

Teen hierdie agtergrond kan die basis van die SBA se werk beskryf word as die skep van geleenthede tot selfverwesenliking en bevordering van ekonomiese moontlikhede in Afrikaans. Taal is meer as bloot ’n kommunikasiemiddel. Dit is inderdaad ’n kragtige instrument vir komplekse denke en toegang tot ekonomiese aktiwiteite. Die werk van die SBA, hoe beskeie dit soms mag klink, lewer ’n wesenlike bydrae hiertoe. Dit is met dank dat ons op die werk van Christo van der Rheede en sy span die afgelope jaar kan terugkyk.

Enkele voorbeelde van die suksesvolle programme vanaf Februarie tot einde Augustus 2011 is:

1. Leesvaardigheidsprojekte in skole het 53 952 leerders in 421 hoër- en laerskole bereik.

Lees-vir-leerprojek (10- tot 15-jariges)
752 leerders ontvang intensiewe leesremediëring by 14 skole.
50 000 leerders by 350 skole ontvang die Funda!-leesblad.
1 200 leerders van 22 skole het aan die Spel- en Vasvra-kompetisie deelgeneem.
Lees-vir-suksesprojek (16- tot 19-jariges)
2 000 leerders van 35 skole is bereik.

2.Volwasse taalvaardigheidskursusse het 537 volwasse leerders betrek.

3. Letterkunde- en taalwerkswinkels is dwarsdeur die Wes-Kaap gehou, asook een in die Oos-Kaap, en het 1 535 onderwysers betrek.

Die statistieke is maar een kant van die munt – die ander kant is die impak wat hierdie projekte in die lewens van baie mense het om só ’n bydrae tot hul selfverwesenliking en ontsluiting van ekonomiese moontlikhede te lewer.

Belangrike deurbrake is ook vanjaar gemaak waar die SBA spesifiek ook as brugbouer opgetree het. Vir die eerste keer in die geskiedenis het Afrikaans en Xhosa saamgewerk om ’n konferensie oor Xhosa aan te bied. Nuwe projekte met onderwysers in die Oos-Kaap en Noord-Kaap is in samewerking met ander vennote ontwikkel. Groter begrip en ondersteuning vir die werk van die SBA is in Vlaandere gekry. Die Zoë-tuisleesprojek vir 4–9-jariges is met groot sukses van stapel gestuur.

Namens die Raad van Trustees bedank ek graag vir Christo van der Rheede, die ander personeel en al die fasiliteerders en vrywilligers wat die werk van die SBA in verskillende gemeenskappe verrig.

Vandag bring ons ook hulde aan ’n man wat 20 jaar gelede ’n visie gehad het om Afrikaans te bevorder en om mense in Afrikaans te ontwikkel. Dit was inderdaad ’n belangrike brugbou-aksie wat toe gebore is. Mnr Ton Vosloo tree nou af as trustee en ek hoop die drome wat hy toe gehad het, het gerealiseer. Dankie vir u visie en waagmoed om in onseker tye ’n baken van hoop te vestig. Dankie dat u deurgaans sterk strategiese leiding gegee het en die rigting van die SBA help vorm het. Dankie vir die gesonde finansiële basis wat u deur die verbintenis met Media 24 gevestig het en wat die werk van die SBA ondersteun.

Ons bedank ook vir mev Biebie van der Merwe, wat na etlike jare as trustee, onder andere as voorsitter, uittree. Dankie vir die belangrike bydrae wat jy oor die jare gelewer het. Jou fyn taalkundige oog met die hantering van notules en verslae sal gemis word.

“Die versierings van taal kan nie ontdek word sonder organisering en uitdrukking van gedagtes nie; net so kan gedagtes nie verlig word sonder die lig van taal nie.” – Cicero

Mag die SBA voortgaan om ’n brugbouer te wees, om die lewenskragtigheid van Afrikaans te benut en te bevorder en ’n posisie as gelyke vennoot in ’n meertalige wêreld inneem.

Dr D J Brand
Kaapstad
20 September 2011


>>> Lees Christo van der Rheede se "Die pad van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans" hier.