Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices > Afrikaans

Taalmuseum se “Ommietafel” vanjaar regstreeks op RSG


2011-09-22

Untitled Document

Ommietafel met stories
Die Taalmuseum, Historium Konferensiesentrum, Paarl
Saterdag 29 Oktober
Toegang: R200
Besprekings: www.cultivaria.com

Die Taalmuseum in die Paarl bied op Saterdag 29 Oktober die vierde “Ommietafel met stories” as deel van die Cultivaria-fees aan. Dié storievertelprogram, wat in samewerking met LitNet aangebied word, sal regstreeks deur RSG uitgesaai word.

Die program, wat van 12:00 tot 14:00 in die Taalmuseum se Historium Konferensiesentrum aangebied word, fokus vanjaar op reisstories. Die deelnemende kunstenaars is Mathys Roets, Alistair Izobell, Carina Stander en Gerrit Rautenbach. Die RSG-aanbieders Martelize Brink en Johann Rademan sal as seremoniemeesters optree. Gaste geniet ’n buffet-ete tydens die program en besoek die Taalmuseum ná afloop van die geleentheid.

Die sanger Mathys Roets het sy musiekloopbaan in 1989 begin toe hy met sy kitaar in die hand, in 'n winkelsentrum in Pretoria, vir fooitjies gesing het. In 1996 maak hy 'n belangrike deurbraak met sy debuutproduksie op die KKNK, waarin hy musiek van Koos du Plessis sing. Deur sy loopbaan het Mathys bekendheid verwerf vir sy vertolkings van bekende ballades, veral die musiek van Leonard Cohen, Roger Whittaker en Neil Diamond. In April 2009 is Mathys in ʼn motorfietsongeluk wat hom verlam laat. Sy biografie, Steeds Mathys, is in 2010 bekendgestel.

Alistair Izobell is bekend as solo-musikant, omroeper en akteur, onder meer vir sy rol as een van die oorspronklike Broertjies in David Kramer en Taliep Petersen se musiekblyspel District Six. Hy is bekroon met ʼn Sir Laurence Olivier-toekenning vir sy West End- en Broadway-optredes in Kat and the Kings. Izobell verskyn binnekort in Kramer se nuwe musiekkomedie, Some like it vrot. Hy besit sy eie produksiemaatskappy en bring gereeld plaaslike talent na die verhoog.

Die bekroonde woord- en visuele kunstenaar Carina Stander se debuutroman, Wildvreemd, het so pas verskyn. Haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg was op die 2006-kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys. Agt van dié gedigte is in Groot Verseboek 2008 opgeneem. Haar tweede digbundel, woud van nege en negentig vlerke, het in 2009 verskyn. Sy het ’n honneursgraad in Beeldende Kuns en ’n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk verwerf. Stander het reeds aan talle groeps- en solokunsuitstallings deelgeneem.

Die reisskrywer Gerrit Rautenbach het sy skrywersloopbaan in die reklamebedryf begin, maar ná twee dekades daarvan besluit om eerder reisiger te word. Hy was die stigtersredakteur van die tydskrif Mooiloop en is dus ver die wêreld in vanwaar hy met baie stories teruggekom het. ’n Handvol van dié stories vorm sy debuutbundel, Kopreis, wat vroeër vanjaar bekendgestel is. Hy werk nou aan ’n opvolgbundel sowel as sy eerste roman.

Kaartjies kos R200 en is beskikbaar by tel. 021 872 9754 of www.cultivaria.com.