Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Kennisgewings | Notices

Operafees van twee eenakters met Black Ties in Staatsteater, Pretoria


2011-09-22

Untitled Document

Die Georgiese tenoor, George Oniani (foto verskaf deur die Black Tie Ensemble)

Operafees van twee eenakters met Black Ties in Staatsteater, Pretoria

Die volledige eenbedryfoperas Cavalleria Rusticana van Pietro Mascagni en Gianni Schicchi van Giacomo Puccini het Woensdagaand in die Dramateater van die Staatsteater in Pretoria geopen met die Black Tie Ensemble (BTE), uitgebreide Black Tie-operakoor en -orkes onder leiding van die Oostenrykse dirigent Philipp Pointner.

Die  gesiene Georgiese tenoor George Oniani vertolk saam met Black Tie-soliste die hoofrolle. Marcus Desandro is die regisseur vir albei operas, wat nog drie, moontlik vier keer op die planke gebring word – die vierde hangende genoeg belangstelling.

Die gasdirigent, Philipp Pointner – geen vreemdeling aan Suid-Afrika nie – beklee tans die pos van Kapellmeister by die Staatstheater-Nürnberg in Duitsland. Hy was ook ’n gasdirigent by die Operahuis in Köln, asook by dié Duitse stad se Radiosimfonieorkes. Pointner was onlangs ook gasdirigent by die Simfonieorkes van Oviedo in Spanje en by die Operahuis in Bern, Switserland.

Dié Oostenrykse dirigent was al in die verlede in Suid-Afrika op die podium. In die jare 1994 tot 1996 was hy die dirigent asook repetiteur by Kaapstad-Opera. Hy was ook gedurende dié tyd ’n gasdirigent tydens die Grahamstadse Kunstefees.

Die opera-tweeluik word ter afsluiting van die jaar se BTE-bedrywighede op verskillende tye tot 16 Oktober aangebied, te danke aan ’n borgskap van die National Lottery Distribution Trust Fund (NLDTF).


Cavalleria Rusticana

Mascagni se Cavalleria Rusticana, met die alombekende Paaskoor en Intermezzo, word in die eerste helfte van die aand opgevoer.

Sopraan Loveline Madumo

Die hoofrolverdeling van Cavalleria Rusticana is as volg: die sopraanrol van Santuzza word deur die ervare Loveline Madumo vertolk, terwyl die tenoor George Oniani sal toon waarom hy in die rol van Turiddu in die buiteland bekendheid verwerf het. Alfio se rol word deur die voormalige BTE-lid Linda Zitha gesing, terwyl die rol van Lola deur Kathy Neuland en moeder Lucia deur Carina Kruger vertolk word.

Die Georgiese tenoor George Oniani het al in die rol van Radames in Giuseppe Verdi se Aida teenoor die internasionaal-bekende mezzo-sopraan Dolora Zajick opgetree, en het die naamrol in Don Carlo van dieselfde komponis vertolk. Sy repertorium sluit  ook onder meer die rolle van Roberto in Puccini se Le Villi, Pinkerton in Puccini se Butterfly, Don José in Bizet se Carmen,en Turiddu van Mascagani in Cavalleria Rusticana in. In die loop van vanjaar het hy die rolle Prinz in Dvořák se Rusalka in Cavalleria Rusticana  en Boris in Katia Kabanova van Janacék vertolk.

’n Vergrote BTE-operakoor neem onder leiding van Susan Steenkamp-Swanepoel aan dié opera deel. Die stelontwerper is Nadine van Aswegen en die beligting is deur Faheem Bardien van Kaapstad ontwerp


Gianni Schicchi

Die gewilde komedie-ensemble-opera Gianni Schicchi van Puccini het die menslike gedrag by die vooruitsig van ’n moontlik groot erfporsie as tema.

Die naamrol van Gianni Schicchi word deur die ervare bariton Thabang Senekal vertolk, en sy dogter, Lauretta, se rol word deur die soprane Caroline Modiba en Caroline Nkwe gedeel. Die res van die rolle vir hierdie ensemble-opera sal deur lede van die Black Tie Ensemble gesing word. 

Bariton Thabang Senekal

Die kostuums vir Gianni Schicchi is deur Arnold Cloete en Marcus Desando ontwerp.


Plek 

  • Dramateater,  Staatsteater, Pretoria

Opvoerings

  • Vrydag 30 September om 20:00
  • Sondag 2 Oktober om 15:00
  • Vrydag 14 Oktober om 20:00
  • Moontlik ook 16 Oktober om 15:00, afhangende van bywoningsgetalle.

Pryse 

  • Blok A: R220; Blok B: R200; Blok C: R150


Afslag van 10 persent word op groepbesprekings van 10 en meer gegee.
Kaartjies vir seniors en studente vir Blokke B en C kos R100 elk. 
Bespreek by Computicket of skakel 011 340 8000 of besoek www.computicket.com.

Navrae
Madeleen Engelbrecht: 012 3227944 of 0842093161   


  • Foto's: Dewald von Solms