Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features

Open Book Festival Verslag 4: Wysheid met die grysheid


Bibi Slippers - 2011-09-22

Untitled Document

Ek is nie heeltemal oortuig dat almal wys word met die gryswordslag nie. So het ek byvoorbeeld op 21 reeds my eerste grys haar gehad, met min (goed, géén) teken van die wysheid wat toe al sigbaar was nie. Vandag is ek baie grys, maar nog steeds nie baie wys nie. “Wysheid met die grysheid”, ’n voorlesing deur Peter Snyders, Hennie Aucamp en Johann Nel (van MM Walters se werk), het nie veel gedoen om my te oortuig nie.

Peter Snyders: “Ek moet ’n stem word vir die stemloses.”
Hennie Aucamp: “As iemand sterf, dan word sy hare die bollings van die wolke.”

Eerstens was die titel van hierdie voorlesing was misleidend: Peter Snyders het nie ’n enkele grys haar op sy kop nie. Meer presies: Peter Snyders het nie ’n enkele háár op sy kop nie. Hy kan dus nie as grys getel word nie. Maar hy is bepaald wys. Hy het van sy gedigte voorgelees en staaltjies vertel oor die ontstaan van die gedigte, en hulle impak toe hulle destyds gepubliseer is. Hy vertel hoe hy, eendag terwyl hy by die busstop gewag het, besluit het om die mense om hom se frustrasies in ’n gedig te verwoord. Hy het op ’n grappige wyse met homself en met die Suid-Afrika van ouds die spot gedryf, maar ook op die nadraai van sy verse gewys, en so die sosiale funksie van die protesdigter belig. “Die gedig wat tussen die krake geval het en die taal wat tussen die krake geval het, het darem iets gedoen.”

Na Snyders was Hennie Aucamp aan die woord, en hy is wel grys. Hy het ’n kort verhaaltjie oor sy ouma voorgelees, en daaruit kon die gehoor wel heelwat wysheid oor kwepers en adders put, asook raad oor hoe om nie die lot te tempteer nie. Daarna het hy gedigte voorgelees, oa ’n sonnet oor ’n grot waarin hy oor die begin van dinge besin. “Alles het in grotte begin/ Ystydperke terug.” Hy het ook ’n gedig oor sy ouma se dagboek voorgelees, asook gedigte uit sy jongste bundel, Ghoera, waarin die volgende mooi ding oor wolke staan: “As iemand sterf dan word sy hare die bollings van die wolke.” A, dink ek. As ’n wyse mens sterf, is die wolke grys, soos op ’n winterdag in Kaapstad. En dus is daar wel ’n verband tussen wysheid en grysheid, een wat in die wolke geskryf staan.

Johann Nel
“Transvaalse vroue hoort nie in ’n kroeg nie.” – MM Walters
Verushka van the Book Lounge het die geleentheid gereël.

Laaste aan die woord was Johann Nel, wat gedigte van MM Walters voorgedra het. Johann is nie grys nie, maar dit maak seker nie saak nie. Volgens fotografiese getuienis op die internet is MM Walters wel grys, en dit is sy wysheid wat hier verwoord is. Nel het MM Walters se satiriese verse met insig en deernis voorgedra, en staaltjies vertel oor die digter se lewe, terwyl die Walters-kwinkslae een na die ander opklink. Wyshede soos “[D]ie een wat die poësie bedryf moet deesdae sonderling wees” en “Transvaalse vroue hoort nie in ’n kroeg nie” het my bygebly.

Ek het ook ’n bietjie trivia oor MM Walters en Breyten Breytenbach bekom: die twee digters was in dieselfde skool op Wellington (tien jaar uitmekaar) en het dieselfde Afrikaans-onderwyser gehad. Die onderwyser het vertel dat Walters ’n soeter seun as Breyten was, maar dat Breyten beter opstelle kon skryf.

My slotsom: daar is heelwat ruimte vir wysheid sonder grysheid. As jy goed genoeg skryf, kan jy die wêreld verander. As jy onverwags ’n adder teëkom, gaan net ’n stywe dop jou senuwees beredder. En as jy ’n goeie opstel wil skryf, moet jy stout wees, nie noodwendig oud nie.


Foto's: Izak de Vries

 
Lees ook: