Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language

Die pad van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans


Christo van der Rheede - 2011-09-22

Untitled Document

Agter: Van links na regs: Jan Mutton (Trustee), Biebie van der Merwe (Trustee), Hendrik Theys (Trustee), Dirk Brand (Voorsitter en Trustee), Chisto van der Rheede (Uitvoerende Hoof), Danny Titus (Trustee), Bun Booyens (Redakteur van Die Burger)

Voor: Van links na regs: Ton Vosloo (Trustee), Zelda Jongbloed (Redakteur van Kaap-Rapport)


Die loodsvergadering van die Stigting Afrikaans is in die Naspersraadsaal op 7 November 1991 om 14h15 gehou. Onder die aanwesiges was bekendes soos mnr Ton Vosloo, prof E Botha, mev RB Noor Mahomed, mev CM Rens, mnr F Stroebel, ds GE van der Merwe, prof TH Links, mnr TL de Beer en mnr JA Marais. Afwesig met verskoning was dr N Nkatini en mnr CH Wiese.

Mnr Vosloo het almal aanwesig hartlik verwelkom en het die byeenkoms as ’n geskiedkundige geleentheid bestempel. Die politieke omwentelinge van daardie tyd het ook nuwe uitdagings aan Afrikaans gestel en daarom moes ’n “nuwe staanplek”vir Afrikaans geskep word.

Verskeie ander kwessies is ook tydens die vergadering geopper. Dit het onder meer ingesluit die skep van ’n nuwe logo deur die ontwerpkunstenaar Willem Jordaan, die daarstelling van ’n Raad van Trustees, die samestelling van ’n grondwet, die aanstelling van moontlike beskermhere, soos wyle dr Anton Rupert, wyle prof Piet Cillié en dr Richard van der Ross, en die loodsing van ’n intensiewe geldinsamelingsveldtog. In dié verband het mnr Vosloo onderneem om Nasionale Pers se koerante en tydskrifte, soos Huisgenoot, in te span om fondse vir die Stigting te werf.

Van die mees belangrike beginselstandpunte wat in die eerste vergadering geopper is, was dié van prof Tony Links wat dit duidelik gestel dat “as die Stigting met die regses gemene saak sou maak” dít hom “in ’n moeilike posisie plaas”. ’n Voorstel deur mnr De Beer dat “sulke organisasies aanvanklik net ingelig word en dat die Stigting hulle nie uitdefinieer nie”, is aanvaar. Voorstelle vir verdere aksies het ingesluit ’n memorandum wat verband hou met taalbeplanning wat deur prof Botha voorgelê is. Die doel daarvan was om “’n hoëvlak-beleidsdokument voor te berei wat as sluitstuk vir Afrikaans in die nuwe bedeling kan dien” en wat “’n belangrike basis vir die bevordering van Afrikaans kan bied”. Skakeling met die buiteland, veral die breë Nederlandse taalgemeenskap, was ook deur mnr Vosloo op die tafel geplaas. Dié aspek is deur prof Links ondersteun en hy het onderneem “om in verbinding te tree met kontakpersone wat hy in die buiteland ontmoet het”. [1]

In opvolgvergaderings is die voorgaande kwessies voortdurend onder die loep geneem om mense so te betrek. Tydens die vergadering op 23 September 1992 is aangekondig dat mnr Achmat Davids ’n trusteeskap aanvaar het, maar dat prof Vernie February dit ongelukkig van die hand gewys het. Hy het wel te kenne gegee dat hy die Stigting goedgesind is en dit in Nederland sou bevorder.

Dit is ook tydens hierdie vergadering, onder voorsitterskap van mnr TL de Beer, dat prof Botha die grondbeginsels van die Stigting geformuleer het. Dit lui soos volg: “Die behoud van al die funksies van Afrikaans wat deur sy amptelike status verseker word, beteken dat elkeen wat Afrikaans praat, ten volle aan al die prosesse in die samelewing kan deelneem – opvoedkundig, ekonomies, juridies, administratief. Dit beteken ruimte, “bemagtiging”, die volle potensiaal vir selfverwesenliking deur taal vir elkeen wat Afrikaans praat. Taalbevordering, taalverryking het tog volledig te make met die bemagtiging en bevryding van mense, nie waar nie? Hierby moet twee dinge helder gestel word: i) die behoud van Afrikaans se funksies sal nie ten koste van ander tale geskied nie; ii) die “geringstes” van Afrikaans se sprekers is die uitgangspunt, dié wat deur Afrikaans deelname aan die samelewing sal verkry. Die vriendelike kommunikasiemoontlikhede, die lewensruimte wat Afrikaans vir Afrikaanssprekendes skep, is hier innig verbonde.”[2]

Ten einde prakties uitvoering aan hierdie grondbeginsels te gee, het mnr Ton Vosloo voorgestel dat die Stigting op vier vlagskip-projekteikens moet fokus. Dit het behels: Geletterdheidsbevordering, Gemeenskapsbetrokkenheid, Internasionale kultuurkontak-situasies en Sekretariaat-aktiwiteite soos lidmaatkap, fondsinsameling, reklame en beeldbouprojekte. Hierdie voorstelle is deur almal teenwoordig aanvaar.

Die eerste heeltydse amptenare, by name dr Karel Prinsloo en prof Flip Strydom, is tydens die jaarvergadering van die Stigting vir Afrikaans op 3 Augustus 1993 deur die waarnemende voorsitter, prof Tony Links, verwelkom.[3] Onder hulle leiding het die Stigting vir Afrikaans uitgebreide ontwikkeling op die geletterdheids-, kunstefeeste- en skryfskoolterrein geïnisieer.

Befondsing is onder meer aan vele verdienstelike gemeenskapsorganisasies bewillig. Dit sluit in die Breughel-teater te Cloetesville, Carnavon Advieskantoor Karoo-projekte (geletterdheidsklasse), ABC Development Trust te Kaapstad (geletterdheidsklasse), Vereniging vir Liggaamlik Gestremdes te Beaufort-Wes, Atlantis Volwasse Onderrigsentrum (geletterdheidsklasse), Klein Karoo Kunstefees, Resource Action Group, Bishop-Lavis (geletterdheidsklasse), Valley Primêre Skool te Durbanville (geletterdheidsklasse), Riemvasmaak Trust (geletterdheidsklasse), ATKV-skryfskool en Afrikaanse Letterkundige Vereniging.

Op 18 September 2001 word ’n nuwe tydvak onder leiding van die voorsitterskap van mnr Conrad Sidego, dr Christa van Louw as uitvoerende hoof en me Ria Olivier, wat haar opgevolg het, ingelui. In sy voorsittersrede van daardie jaar beskryf hy dit soos volg: “’n Jaar gelede het ons nog druk besin oor die transformasie van die Stigting vir Afrikaans. Met die hulp van ’n konsultant (dr Bertie du Plessis) is ’n reeks gesprekke gevoer met sleutelspelers in die wêreld van Afrikaanses. Dit was om vas te stel of daar ’n koers- of aksentverstelling aan die missie van die Stigting vir Afrikaans moes kom. Daar is letterlik links en regs gepraat. Ons kry toe ’n resultaat en vinnig pleeg ons die daad! Die SBA word gebore: Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) is die nuwe vlag waaronder ons vaar.”[4]

Hierdie nuwe vlag vir Afrikaans wat in 2001 gehys is, waai vandag op vele terreine. Nie net word die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans op die Afrikaanse opvoedkundige terrein deur Onderwysdistrikskantore, Afrikaanse vakadviseurs, onderwysers, prinsipale en beheerliggame as ’n belangrike rolspeler geag nie, maar dit word ook “as een van die voorste, onafhanklike rolspelers vir taalberegtiging geag”.[5] Dit speel dus ’n invloedryke rol in die Wes-Kaapse Kultuurkommissie, die Nasionale Kunsteraad, Afrikaanse Taalraad, asook die XhosAfrika-netwerk. Hierdie netwerk, bestaande uit organisasies wat Xhosa en Afrikaans ter ondersteuning van gemeenskapsontwikkeling bevorder, is op nasionale regeringsvlak uitgesonder as ’n voorbeeld van nasiebou en samewerking oor grense heen.

Die Stigting het ook noue bande met Kunstekaap, ABSA-KKNK en Suidoosterfees en dit bied blootstelling aan die kunste aan duisende leerlinge jaarliks. Verder word die ontwikkelingsgerigte kundigheid van die Stigting deur middel van verskeie aksies soos navorsing, referate, strategiese insette ens ook jaarliks met verskeie organisasies gedeel. Dit sluit in die Rachel’s Angels en Inkwenkwezi Bemagtigingstrusts, die Goedverwacht en Elim Erfeniskomitees, Independent Development Trust (IDT) en die Centre for Advanced Studies of African Society (CASAS).

Vandag word die doelstellings van die SBA verwesenlik deur ’n vyftal voltydse personeel, 162 fasiliteerders en vrywilligers. Jaarliks word ongeveer 500 skole bedien en vind sowat 100 000 leerlinge en 3 000 onderwysers baat by die projekte. Duisende halfgeskoolde volwassenes is ook die afgelope jare geskool in ’n verskeidenheid geletterdheids- en vaardigheidsprojekte.

Ons dank en waardering aan mnr Vosloo vir sy versiendheid om ’n nuwe en inklusiewe platform daar te stel waarin Afrikaans as ’n “glansende werktuig”,soos Van Wyk Louw dit stel, kon gedy.

“Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind ... Dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika ... En wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek. Maar wat ons nooit moet vergeet nie, is dat hierdie verandering van land en landskap as' t ware aan die nuwe wordende taal geslyp, geknee, gebrei het ... En so het Afrikaans in staat geword om hierdie nuwe land uit te sê ... Ons taak lê in die gebruik wat ons maak en sal maak van hierdie glansende werktuig ...” (NP Van Wyk Louw).


[1] Notule van die Loodsvergadering van die Stigting Afrikaans, Raadsaal van die Nasionale Pers, Kaapstad, 7 November 1991, 14h15

[2] Notule van vergadering van die Stigting vir Afrikaans se Raad van Trustees om 10h30 op 23 September 1992, in die Nasionale Pers-Sentrum

[3] Notule van die Jaarvergadering van die Stigting vir Afrikaans op 3 Augustus 1993 om 14h00 in die Nasionale Pers-Sentrum

[4] Notule van die Algemene Jaarvergadering van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans gehou op 18 September 2001 in die Raadsaal van Naspers, Kaapstad

[5] Notule van die Algemene Jaarvergadering van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans gehou op 19 September 2006 in die Raadsaal van Naspers, Kaapstad