Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Die digitalisering van NALN se knipselversameling – Wannie Carstens lewer kommentaar


Wannie Carstens - 2011-09-22

Wannie Carstens reageer op die artikel “Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Die bemiddeling van 21ste-eeuse navorsing in die Afrikaanse letterkunde” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Burgert Senekal.

1. Inleidend

Burgert Senekal se onlangse artikel in LitNet Akademies oor die prosesse wat digitalisering verg en die vaardighede wat nodig is om dit moontlik te maak, is inderdaad van groot waarde en belang vir Afrikaans. Dit stippel netjies uit hoe te werk gegaan moet word om dit te doen en ook wat alles onderliggend aan die hele proses lê. Hierdie artikel stippel die pad uit hoe te werk gegaan moet word as digitalisering aangepak word. Ek wens ek het dit alles geweet toe ons met die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde­- (DBAT-) projek begin het. Dalk sou ons eie poging dan soveel beter gewees het.

Ek bestuur reeds oor ’n lang tydperk (al langer as 17 jaar) die DBAT-projek. Alvorens ek meer hiervan vertel (oftewel ’n vorderingsverslag van die projek gee), is dit net eers nodig om sekere afkortings te verklaar, omdat dit help om die nodige agtergrond te gee.

BNTL = Bibliografie Nederlandsche Taal- en Letterkunde
DBNTL = Digitale Bibliografie Nederlandsche Taal- en Letterkunde
BATL = Bibliografie Afrikaanse Taal- en Letterkunde
DBAT = Digitale Bibliografie van die Afrikaanse taalkunde.

Die BNTL is vir navorsers in die Nederlandse taal- en letterkunde ’n standaard­naslaanbron. Dié bron is aanvanklik in lywige boek­dele uitgegee, en later elektronies beskikbaar gestel via ’n beperkte aantal toe­gangs­kanale. Raadpleging vanuit die buiteland was dikwels moeilik, so te sê onmoontlik. In 2005 is begin met ’n vernuwingsprojek om groter toeganklikheid van die bron moontlik te maak. Die gedagte was naamlik dat die BNTL vir almal via die internet toeganklik sal wees en dat wegbeweeg word van die swaar boekdele waarin dit tot dusver opgeneem is. Dit sal ook vir (geregistreerde) gebruikers moontlik wees om self titels en tekste toe te voeg tot die databasis. In hierdie vernuwingsproses moes daar ingry­pend herbeplan word oor die beste manier van doen. Hierdie proses is grotendeels afgehandel in 2008. Belangstellendes kan op die BNTL se webwerf verder hieroor gaan lees – www.bntl.nl.

Aan die ander kant is daar sedert die vroeë 1990’s pogings aangewend om ook ’n BATL, gebaseer op die struktuur en beginsels van die BNTL, tot stand te bring. Vordering aan hierdie projek was om ’n verskeidenheid van redes stadiger as beplan. ’n Uitvloeisel hiervan is die DBAT en hier onder word meer inligting gegee oor hoe die proses wat tot die DBAT gelei het, verloop het.

2. Van die BATL tot die DBAT

Die behoefte aan so ’n bron (ooreenstemmend aan die Nederlandse BNTL) is in die vroeë 1990’s uitgespreek deur PC Paardekooper, die bekende Nederlandse sintaktikus, toe ek hom tydens ’n oorsese besoek in Leiden, Nederland besoek het. By my terugkeer het navraag in Afrikaanse taal- en letterkundekringe getoon dat daar ook belangstelling in so ’n bron vir Afrikaans was. Dit sou dan as opvolger vir die ou bronnegidse beskou kon word.

Die doel van die projek sou wees: toegang tot akademiese inligting oor publikasies rakende Afrikaanse taal- en letterkunde vir enigeen wat binne én buite Suid-Afrika daarin belang sou stel. Die aanvanklike plan was om dit in boekvorm soos die BNTL beskikbaar te stel. Mettertyd is wel besef dat die elektroniese proses eenvoudiger en ook makliker toeganklik is. Die volgende merkers is van belang in die verloop van die proses om hierdie bron tot stand te bring:

  • In 1993 is daar na afloop van korrespondensie met ’n kontakpersoon (mnr Peeters) by die Koninklijke Biblioteek in Den Haag ’n konsepuiteensetting van die moontlike formaat van so ’n bibliografie gemaak. Dit het getoon dat die bestaande BNTL-formaat (besonder gedetailleerd met die onderskeiding van talle kleiner afdelings) te kompleks vir die Suid-Afrikaanse omstandighede was. Die formaat is vervolgens geskaaf om by die unieke Suid-Afrikaanse omstandighede aan te pas. ’n Medewerker in hierdie proses was ’n jong (deesdae dr) Phil van Schalkwyk, student in Afrikaans en Nederlands aan die toenmalige PU vir CHO.
  • Mnr Peeters is mettertyd vervang deur Paul Doorenbosch wat meer insig getoon het in die eiesoortige Suid-Afrikaanse situasie wat ’n eiesoortige formaat geverg het. In 1997 het ek en Dorothea van Zyl van US tydens ’n besoek aan Nederland vir Paul besoek en ons kon met hom ’n werkooreenkoms beding. Hierdie ooreenkoms het behels: ek en Dorothea sou fondse soek en dan vir NALN betrek om die versamelingstaak te verrig. Tydens voorafgesprekke met NALN was daar ’n onderneming dat NALN betrokke sou wou wees by hierdie taak, maar dat hulle ekstra befondsing daarvoor sou moes bekom met die oog op (a) beter rekenaar­fasiliteite en (b) personeelhulp. (Die rede waarom NALN genader is, was heel eenvoudig: NALN is die primêre versamelingspunt vir inligting oor die Afrikaanse letterkunde en sou teoreties ook die taak vir Afrikaanse taalkunde kon oorneem.) In hierdie proses sou die BNTL optree as adviseur.
  • Vervolgens is borge genader om die proses van die grond af te kry en met die hulp van die Fonds Neerlandistiek (geadministreer deur die Universiteit Stellenbosch) en die PUK-Kanselierstrust van die NWU-PUK is basiese befondsing bekom om NALN se rekenaarnetwerk op te gradeer. Toe daar teen 2003 ná talle herinnerings en beloftes oor jare, asook talle besoeke aan NALN, nog geen sigbare resultate was nie, is besef dat alternatiewe planne gemaak sou moes word om die projek van die grond af te kry. Daar is toe besluit dat ek verantwoordelikheid sou aanvaar vir die taalkunde-afdeling en dat ek dan in my eie tyd sal voortgaan met die projek. Die letterkundedeel sou dan later bykom omdat dit reeds grootliks deur NALN gedoen word, alhoewel NALN nie die bronne elektronies beskikbaar stel nie. Dorothea van Zyl sou met die hulp van Hennie van Coller van UV hierdie proses probeer bestuur.
  • Uit ’n terloopse gesprek einde 2003 met Tom Larney, hoof van die Ferdinand Postma-biblioteek aan NWU-PUK, het dit geblyk dat hy belangstelling getoon het om ook by die projek betrokke te raak, en wel in ’n infrastrukturele hoedanigheid – die NWU-PUK sou naamlik die netwerkspasie verskaf vir die stoor van die bibliografie en sou ook ’n kantoor (wat ook as navorsingslokaal vir Afrikaans gebruik kon word) tot ons beskikking stel waar gewerk kon word aan die projek. Die fondse wat hy beskikbaar gestel het, was voldoende om die eerste projekmede­wer­ker, Hester Lombard (vir die duur van 2004 en weer in 2005), aan te stel. Ek en sy het saamgewerk om ’n stelsel te bepaal aan die hand waarvan die versameling gedoen sou word. Dit het ruweg behels: ons sou breë kategorieë aandui (sintaksis, semantiek, morfologie, fonologie, fonetiek, sosiolinguistiek, taalgeskiedenis, historiese taalkunde, pragmatiek, leksikografie, leksikologie, tekslinguistiek, diskoersanalise, normatiewe taalkunde, taalgebruikskunde, taalonderrig, ens) en ons sou data terugwerkend vanaf 2004 in die stelsel intik. Soos die inligting meer word, sou ons dan begin verfyn, soos by taalonderrig. Hester het in hierdie tyd begin korrespondeer met Karina van Daalen (Koninklijke Bibliotheek in Den Haag) en uit hierdie proses (na kontrole met die BNTL) kon ons aan die werk spring. Ons het vooraf besluit om te probeer hou by die stelsel en kategorieë wat die BNTL aan die ontwikkel was vir hulle eie elektroniese BNTL. Dit sou verseker dat ons eie bydrae via die BNTL se netwerke ook internasionaal beskikbaar sou raak.
  • Hester het die data in die stelsel ingetik en hierdie data was gebaseer op inligting wat ek aan haar gegee het. Ons het ook ooreengekom dat ons eers sou konsentreer op artikels in vaktydskrifte, asook boeke, verhandelinge, proefskrifte oor die Afrikaanse taalkunde of oor aspekte van die Afrikaanse taalkunde. Hester moes daarom aanvanklik die inhoudsopgawes van alle taalkundetydskrifte (Taalfasette, SA Tydskrif vir Taalkunde, SA Tydskrif vir Taalonderrig) en van tydskrifte wat moontlik artikels oor Afrikaanse taalkunde sou kon bevat (byvoorbeeld Literator en Tydskrif vir Geesteswetenskappe), kopieer en aan my gee vir ordening en indeling in die kategorieë (hierdie werk is oor naweke en tydens vakansies verrig om nie in te meng met my dagtaak nie). Dit is opgevolg deur uitdrukke (met die hulp van die personeel van die Ferdinand Postma-biblioteek) van die verhandelinge en proefskrifte wat in die biblioteek van die NWU-PUK beskikbaar. Hierna kon ons alle boeke oor die Afrikaanse taalkunde in die FP-biblioteek lys en orden. Ons wou dus eers bepaal wat in ons eie biblioteek was en daarna sou ons na ander biblioteke gaan vir verdere soektogte. Die bronnelyste van boeke, verhandelinge, proefskrifte en artikels is ook sorgvuldig nagegaan.
  • Ons aanvanklike vertrekpunt was dat ons die volledige biografiese besonderhede van elke moontlike bron oor die Afrikaanse taalkunde (waar dit ook al was) sou probeer verkry en opneem in die databasis. Ons wou in soverre dit moontlik was, ook ’n kort opsomming van die bron insluit en waar moontlik ook ’n elektroniese kopie (verkieslik die volle teks) van die bron aangee. Sedertdien is besluit om ook resensies, koerantberigte en internetartikels of -berigte (soos van LitNet) in te sluit. Ons het destyds nie eens gedink oor dit wat Burgert in sy artikel noem nie – die wyses van opname. Die strewe was bloot om die teks van die artikel te probeer kry sodat die persoon wat die inligting sou wou bekom ten minste die teks kon kry. Die moontlikheid van sleutelwoordsoektogte doen, was nie eens ter sprake nie. By nabaat kon ons dit seker anders gedoen het, maar dit was die beste wat ons op daardie tydstip kon doen. Burgert se artikel sal baie help met beter beplanning vorentoe en desnoods ook aanpassings in ons prosesse.
  • Hester Lombard het teen einde 2005 ’n voltydse pos by die FP-biblioteek aanvaar en ek moes dus ’n nuwe projekmedewerker soek om my by te staan. Sedert Maart 2006 verrig Carla Ubbink hierdie taak en ek en sy vergader elke week om oor die indeel van materiaal te praat en ook oor die opspoor van nuwe materiaal. In die loop van jare het ons talle ouer materiaal ook opgespoor (soos Ons eie boek, uitgawes van Die Unie) wat ons kon skandeer en as volteks kon opneem.
  • Waar is die projek tans (2011)?
    • Die ideaal is dat inligting oor taal- en letterkunde in één punt gesentraliseer word. Dit was die doel met die plan om NALN te betrek en hulp te gee waar nodig. Dit het ongelukkig nie gerealiseer nie en daarom is die taalkundeversameling weggeneem van NALN. In die toekoms kan dit dalk wel geskied, maar net die tyd sal leer wat uiteindelik hier gebeur.
    • Daar is reeds (tot Augustus 2011) ongeveer 15 100 inskrywings van taalkundige bronne gemaak. ’n Groot persentasie hiervan is reeds in volteksformaat beskikbaar en kan letterlik met die druk van ’n paar knoppies onttrek word.
    • Dit dek die volle spektrum van taalkunde vanaf die begin van 20ste eeu tot in 2011.
    • Ons maak hoegenaamd nie aanspraak op volledigheid nie. Dit is wel ’n weerspieëling van die data wat via normale kanale toeganklik was vir my as projekinisieerder en my projekmede­wer­kers.
    • Ons het die hulp – en aktiewe medewerking en bemoeienis – van Afrikaanse en Nederlandse taalkundiges nodig sodat gekontroleer kan word of alle bronne wel opgeneem is. Dit kan nie die verantwoordelikheid van net een persoon wees nie, want dit kan op die langer duur ’n probleem skep as die betrokke persoon (ek self) nie meer beskikbaar is nie.
    • Hierdie probleem is in ’n mate opgelos deur dit ’n projek van die taalkundiges (tans Jako Olivier en Adri Breed en ek self) verbonde aan die Vakgroep Afrikaans en Nederlands van die NWU-PUK te maak. Ek bestuur dit bloot tot tyd en wyl ek nie meer beskikbaar is nie. Hierdeur kon ons ’n mate van volhoubaarheid verseker.
    • Ons neem data op soos dit beskikbaar raak en ons dit raaksien in bronne.
    • Ons is konstant besig met die skandeer van ouer materiaal sodat dit opnuut beskikbaar gestel kan word. Dit is ’n groot bate, maar aan die ander kant ’n groot en moeisame taak.
    • Die probleem met kopiereg kon ons nog nie heeltemal oplos nie, maar ons is binne wetlike grense. In hierdie verband volg ons die benadering na van die BNTL.
    • Ons befondsingsaansoeke by die Fonds Neerlandistiek was sedertdien telkens suksesvol. Sonder die FND sou daar geen DBAT gewees het nie en die Afrikaanse taalkundige gemeenskap wat baat vind by hierdie bibliografie, is dus groot dank verskuldig aan die FND. In die vroeë fase van die projek was die PUK-Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom­kampus ’n goeie vennoot.
    • Ons moet ook seker maak dat alle publikasies van Afrikaanse en Nederlandse taalkundiges wel in die stelsel opgeneem is – ons moet derhalwe ook kruiskontroles uitvoer.
    • Die plan is om ook soos die BNTL te maak: bydraers moet self hulle inligting in die stelsel kan invoer.
    • Daar is ook sedertdien besluit om die naam van die projek te verander van die BATL (einddoel) na die DBAT (die korttermyndoel vir Afrikaanse taalkunde).
    • Die projek het reeds daartoe gelei dat talle ouer bronne (artikels in ouer koerante en tydskrifte) wat vroeër bykans ontoeganklik was en in die argief stof lê en vergader het, elektronies gekopieer is (ingeskandeer is) en voortaan beskikbaar sal wees vir navorsingsdoeleindes – dit is al klaar 'n duidelike wins vir Afrikaans.
    • Énigeen kan addisionele inligting aanstuur vir opname in die stelsel. Voorstelle en wenke is baie welkom.
    • Die stelsel moet verder verfyn word – en ons sal die hulp van Afrikaanse taalkundiges nodig hê om seker te maak dat die kategorieë korrek ingedeel is en dat alle toepaslike inligting opgeneem is.
    • Die webadres is nou beskikbaar sodat taalkundiges kan gaan kyk hoe die stelsel werk en kommentaar daarop kan lewer. Gaan Google “DBAT” of “Digitale Bibliografie van die Afrikaanse taalkunde” of volg die volgende skakel na die webblad: http://www4-win2.p.nwu.ac.za/dbtw-wpd/textbases/BATL.htm. As alternatief, kontak vir Hester Lombard (Hester.Lombard@nwu.ac.za) vir hulp om die databasis te vind.
    • Ons moet ook fondse kry om op langer termyn personeel beskikbaar te hê vir die voortsit van die werk om die volhoubaarheid van die projek te verseker. Ek vertrou die FND sal die vaste vennoot bly.
    • Wat van die letterkundeversameling? As NALN dit nie kan doen nie, sal die ALV moet inspring om met hierdie taak te help. Die ideaal is wel dat NALN vir Afrikaanse letterkunde hierdie taak verrig,
    • Daar is vorentoe nog baie werk: kontrole van die bronne en verfyning van die onderskeie kategorieë moet plaasvind (medetaalkundiges sal hier insette moet lewer), tekorte moet aangevul word (alle bronne is beslis nog nie opgeteken nie, net dit waarop ons ons hande kon lê), elektroniese skakels na uitgewers en biblioteke moet bewerkstellig word, die elektroniese beskikbaarheid van boeke moet ondersoek word, en so meer Hef aan lê dus nog voor.
    • Tans word gewerk aan ’n plan om ou boeke te laat inskandeer. Verskeie opsies word oorweeg. Alles het natuurlik koste-implikasies en dit moet te alle tye in ag geneem word. Daar is tans ’n ondersoek aan die gang om hiervoor ’n oplossing te probeer vind.
    • Skakels na uitgewers se webblaaie sal ook verskaf word sodat boeke via die uitgewers self aangekoop kan word.
    • Nuwe netwerke om die werk gedoen te kry gaan nou nasionaal en internasionaal ontgin word, soos via die Gutenberg-projek (met die hulp van Jacques du Plessis van die Universiteit van Wisconsin in die VSA). Hier wag wonderlike geleenthede vorentoe. Dit sal alles daartoe bydra om die saak van Afrikaans nog verder te bevorder.
    • Daar was uiteindelik ’n formele bekendstelling van die DBAT op 24 Mei 2010 te Potchefstroom. Tydens hierdie geleentheid het ek gesê: “Ek het lank sit en wik en weeg voordat ek so ver kon kom om die amptelike bekendstelling te begin omdat hierdie projek soos 'n kind vir my is. Ek wou hierdie ‘kind’ nie die huis laat verlaat nie, maar helaas die tyd daarvoor het ryp geword – hiermee laat ek dan my ‘kind’ los. Mag hy goed vaar daar buite en net groter en beter word en leer om op sy eie bene te staan. Die DBAT se skakel kom binnekort selfs formeel op die webblad van die DBNTL en daarmee word hy dan selfs 'n internasionale reisiger.”
    • Dus: die DBAT is nou daar buite in die openbare domein en die hulp van Afrikaanse taalkundiges is nodig om dit die ware inligtingsinstrument te maak wat dit kan wees. Dan bemagtig ons die Afrikaanse taalkunde waarlik nasionaal en internasionaal. Hiervoor is optrede nodig rakende die volgende:
      • Elke taalkundige moet elektroniese kopieë van sy/haar artikels aan ons stuur met die toestemming om dit te mag plaas.
      • Stuur inligting oor boeke wat jy geskryf het. Ons sal die webskakels probeer invoeg. As jy dit gee, maak dit dinge natuurlik makliker vir ons.
      • Kontroleer of al jou inligting daar is. Indien dit ontbreek, stuur dit aan na Carla Ubbink (Carla.Ubbink@nwu.ac.za).
      • As jy enigiets oor die Afrikaanse taalkunde opmerk wat dalk ontbreek (van watter aard ook al), laat weet ons. Help ons verder deur die betrokke inligting te kry om te kan opneem in die databasis.
      • Sodra ons gereed is, sal ons inligting versprei oor hoe om self materiaal by te voeg.
      • Hierdie projek is vir die Afrikaanse taalkunde – kom ons maak dit ons almal se projek!

3. Samevatting

In hierdie kort artikel is verslag gedoen oor die vordering met sowel die BNTL- as die BATL-projek. Wat betref die BNTL, is dit duidelik dat groot vordering gemaak is en dat dit werklik funksioneel is en as ’n groot hulp in die Nederlandse taalkunde- en letterkundewêreld ervaar word. Wat betref die BATL, is dit duidelik dat goeie vordering gemaak is met die projek en dat dit nou stabiliseer ten opsigte van taalkunde – vandaar dan die DBAT. Die letterkunde verdien beslis nog aandag, maar verwikkelinge rakende NALN kan uiteindelik bepaal wat hiermee gebeur.

Dis ook duidelik dat die DBAT gebaat het by die vernuwingswerk wat gedoen is met die DBNTL, veral wat betref data-insameling en databeskikbaar­stelling. Dit was dus samewerking “in die groter belang” van die studie van die Afrikaanse en Nederlandse taal- en letterkunde. Dit is nou ons taak as Afrikaanse taalkundiges om hierdie instrument te slyp tot wat dit kan en behoort te wees. Dit kan ek egter nie alleen doen nie, en daarom sal elke Afrikaanse taalkundige sy/haar kant moet bring.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<