Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Die digitalisering van NALN se knipselversameling – Jacques du Plessis lewer kommentaar


Jacques du Plessis - 2011-09-22

Jacques du Plessis reageer op die artikel “Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Die bemiddeling van 21ste-eeuse navorsing in die Afrikaanse letterkunde” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Burgert Senekal.

Miskien sou dit van waarde wees om my eie konteks, as iemand in die diaspora, toe te lig, sodat die hoek waaruit ek die saak benader, duideliker is.

Ek het aan UNISA en UP studeer en in die middel-tagtigerjare ’n unieke geleentheid benut om in Amerika verder te studeer, waar ek my BA, MA en PhD voltooi het. Sedert 1984 doseer ek Afrikaans in Amerika. Eers aan Brigham Young Universiteit en toe later aan die Universiteit van Wisconsin. Deurgaans was ek nou betrokke by die digitale revolusie in opvoedkunde.

Ek bly nou verbonde met inisiatiewe rondom oop onderwysbronne, of Open CourseWare soos dit op Engels bekend is. In 2004 begin ek toe om www.openlanguages.net te ontwikkel met Afrikaans as die modeltaal. Ander tale, veral Afrikatale, word ook stelselmatig bygevoeg. Die webwerf is nou die handleiding, die leerruimte en die naslaanruimte vir die Afrikaanse klasse.

Met dié kort inleiding wil ek nou drie stellings maak oor die behoefte aan en moontlikhede van digitalisering van Afrikaanse letterkunde.

1. ’n Argief is ’n wonderlike plek, met waardevolle inligting om die verlede te herkonstrueer en insae te bekom. Wat die letterkunde betref, sou ’n versameling van ou werke altyd kosbaar wees. Dink maar net as die biblioteek in Alexandrië nooit afgebrand het nie. Watter besonderse kultuurskatte sou daar nie vandag vir ons beskikbaar gewees het nie. Nou gestel daai hele biblioteek was gedigitaliseer en beskikbaar vir snuffel en soek en hergebruik sonder enige beklemmings van kopiereg.

2. Die diaspora van Afrika is ons realiteit. Dit is ’n relatief nuwe verskynsel vir Afrikaners en ook in ’n mate vir blanke Suid-Afrikaners. (Die struggle het reeds dekades gelede voormalig-benadeeldes die buiteland in gestuur.) So, daar is ’n noodsaaklikheid tot herbesinning oor wat die verspreiding van landgenote beteken. Die Indiërs en Jode is eeue lank al gewoond aan die diaspora en die oorlewing van ’n kultuur binne dié konteks. Hier kan ons baie van hulle leer – hoe hulle kultuur en taal vastheid behou en ’n netwerk bou vir sake en onderwys en sosiale doeleindes.

3. Aangesien ek onder die Amerikaners woon, beleef ek ’n wonderlike voorbeeld van vrywillige dienslewering. Dit is ’n bate met besonderse potensiaal, maar beslis onderbenut in ons eie geledere. In die algemeen is die Afrika-mentaliteit om net vir direkte eie gewin deel te neem. Ons behoort die gees en daad van vrywillige dienslewering aan te gryp.

Nou gaan ek die drie punte bymekaar bring. Vanuit punt 1: Afrikaans het ’n wonderlike kultuurskat, waarvan baie besonderse werke reeds in die publieke domein val en dus reg is om vir die gebruik van almal “ontgin” te word. NALN is ’n voorbeeld, en die argiewe by ander universiteite, asook die versameling van die nasionale biblioteek, is voorbeelde. RSA-kopiereg bepaal dat as die skrywer reeds 50 jaar lank oorlede is, al die gepubliseerde werke voor die skrywer se afsterwe in die publieke domein val. So het ek byvoorbeeld ’n begin gemaak om die kinderstories van Helena Lochner te digitaliseer en vir die genot van alle lesers op my webwerf te plaas. (Sien http://www.openlanguages.net/afrikaans/culture/op-afrikaans/literature/short-stories/helena-j-f-lochner.) Dus is daar groot potensiaal in die werke wat reeds in die publieke domein val.

Nou oor na punt 2: die mark vir gedigitaliseerde werke strek nie net tussen Phalaborwa en Pofadder of van Tsumeb tot by Tafelberg nie, maar met die diaspora is daar ’n wêreldwye belangstelling. Ek het kontak met Afrikaanssprekendes op elke kontinent. Die lewering van ’n oop webtuiste vir toegang tot die werke sal die taal en verwante kulture sterk bevoordeel. Maar hoe nou? Wie gaan dit doen?

Hier is waar punt 3 saak maak. ’n Patetiese eienskap by baie Afrikaners was die verwagting dat die regering getaak behoort te word met enigiets wat te groot is vir een individu om uit te voer. In die ou Kaapse geskiedenis is ’n wet deurgevoer dat geen kerk owerheidsondersteuning sou kry nie en die NG Kerk in daai dae was knorrig hieroor, want dit sou darem so lekker gewees het om te kon terugsit en jou geldjie van staatskant te kon ontvang, pleks om dit direk van gewillige lidmate te moes verkry. In die apartheidsjare was dieselfde mentaliteit waarneembaar – dat die staat vir die taal en kultuur moes sorg. Vir ‘n minderheidskultuur sonder veel politieke inspraak is daardie dae verby. Dis nou sink of swem. En hier is waar die punt van vrywillige dienslewering so belangrik is. Ek het geleer dat om te wag dat belangrike dinge deur die regering of by een of ander “instansie” gedoen moet word, nie vrugte afwerp nie. Gereeld is dit ek wat aan die idee gedink het wat dit gaan moet doen, of dit kwyn in die idee-stadium. ’n Mantra wat vir my werk, is: “Ek is betrokke vir die liefde van my taal en my mense.” Diegene wat hunker na faam of geld, sal nie lank die pas volhou nie.

Die digitalisering by NALN het getoon hoe om ’n projek op ’n redelik groot skaal aan te pak. Kry die boeke, sny die rugkante af, laat loop elke boek bladsy vir bladsy deur die inleser, en doen dan die karakterherkenning en redigering. Maar die proses verg geld: (i) die aankoop van die oorspronklike kopieë, omdat dit opgesny gaan word; (ii) die gebruik van die duur inleesmasjien; (iii) persone om die herlees- en redigeerwerk te doen. Sou daar geld wees, is die proses effektief en professioneel. Maar sonder veel geld word die proses lamgelê.

Die alternatiewe, of selfs aanvullende, voorstel is dat ons ’n internasionale netwerk van vrywilligers bou. Vandag se fotokopieermasjiene kan die dokument inlees en buiten ’n papierkopie kan alternatiewelik ’n PDF-dokument geskep word. Met vrywilligers kan die eerste fase, om boeke op fotokopieermasjiene in te lees en dan die PDF-dokumente op te laai, effektief gedoen word. Die oplaai van die ingeleeste PDF’s kan gedoen word met ’n gratis produk soos dropbox.com, wat die dokument dadelik met alle ingeskrewe lede tot die bepaalde vouer deel. Die tweede fase kan te eniger plek op aarde gedoen word – dit is die karakterherkenningsfase met sagteware. Weer eens is daar die opsie om gratis programmatuur te gebruik. Daarna kan die ingeleeste kopie vergelyk word met die kopie waarop karakterherkenning gedoen is. Die finale produk is ’n teksdokument. Dié kan op vele plekke beskikbaar gestel word, soos onder meer op die Gutenberg-projek. Vanuit so ’n sentrale versamelpunt kan die gedigitaliseerde kopie herbruik word op vele webwerwe, voorlesings kan gedoen word en bygevoeg word, en die taal kan wyd gerepliseer word.

My hoed af aan die span wat so hard werk om die knipselversameling by NALN te digitaliseer. Struikelblokke en uitdagings is daar wel, maar ten behoewe van die kultuur, plaaslik en in die diaspora, is nou die gepaste tyd om gemeenskap rondom die doel te bou om die Afrikaanse letterkundeskat te digitaliseer en kosteloos beskikbaar te stel. Wêreldwyd is daar ’n behoefte aan toegang tot ons letterkundige erfenis, vir beide navorsing en taalverwerwing. Toegang tot hierdie bronne kan ’n noemenswaardige bydrae lewer om Afrikaans op interessante wyses te verstek. Ook sou die bron toekomstiglik gebruik kan word om nuutskeppinge te inspireer.

Laastens wil ek ook die wens uitspreek om die momentum selfs verder te neem. Namate ons momentum bou in die digitaliseringsproses, stel ek voor dat ons inklusief dink om mee te doen om die kultuurskatte van onder meer die Zoeloe-, Xhosa-, Tswana-, Sotho- en Pedi-sprekers te digitaliseer. Om die medelandstale te help digitaliseer sou simbolies baie bedagsaam wees en welwillendheid bou. Hier in Amerika staan ons as onderwysers van Afrikaans, Zoeloe en Xhosa same om ons take te bevorder. Die meelewing daarvan is terapeuties, veral nou terwyl sommige politici fokus op verskille en doelbewus wantroue probeer aanwakker. In vandag se konteks noop dit ons om buite ons eie kultuurboksie te dink en uit te reik oor die taalgrense heen met ondersteuning en welwillendheid.


<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<