Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > Suzette Kotzé-Myburgh: Fliekvlooi

Robert Mugabe: What happened? – Insigryk en ewewigtig


Suzette Kotzé-Myburgh - 2011-09-21

Untitled Document

Robert Mugabe: What happened?
Regisseur: Simon Bright





Dis een van die bekendste gesegdes in politiek: “Power corrupts, and absolute power corrupts absolutely.” Hierdie dokumentêr oor Robert Mugabe, vertoon by die Tri Continental Film Festival, gee ’n deeglike oorsig oor die lewe van die man wat eens van die mees bekende en gerespekteerde leiers in Afrika was. Verskillende kommentators, die meeste van hulle Zimbabwiërs, verskaf insigte oor die fenomeen Mugabe – in sy eie woorde: “I was a Hitler, and I still am.” (Die snorretjie is dus nie net toevallig nie.)

’n Voëlvlugkyk na die geskiedenis van Zimbabwe verskaf die nodige agtergrond om Mugabe se loopbaan te verstaan: kolonisering in die 1880’s te midde van Cecil John Rhodes se imperialistiese beleid, die opkoms van wit boere totdat hulle 51% van die landbougrond besit het, onafhanklikwording van Afrika-lande sedert die laat 1950’s, wit Rhodesiërs se vasklou aan mag onder Ian Smith, sy UDI in 1965, die burgeroorlog van veertien jaar, en onafhanklikwording in 1980. (Vir Suid-Afrikaners is die apartheidsregering se muishondrol in bogenoemde gebeure veral insiggewend.)

Danksy die Lancaster-ooreenkoms met Brittanje kon Mugabe as nuwe eerste minister (met ’n sosialistiese inslag) grond aankoop wat as kommunale plase deur Zimbabwiërs bewerk is en groot sukses behaal het. Maar teen ongeveer 1983 was die Praagse lente verby. Die Matabeleland-moorde volg, Mugabe word president, en absolute mag verander in absolute magsmisbruik en ’n toenemend ysere bewind van vrees, geweld, intimidasie en korrupsie.

Hierdie insigryke en ewewigtige film is nog ’n voorbeeld van gewone Zimbabwiërs (swart sowel as wit) se heroïese stryd om hulle land te probeer red van totale ondergang.