Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > Suzette Kotzé-Myburgh: Fliekvlooi

Forerunners: ’n Pragtige stuk werk


Suzette Kotzé-Myburgh - 2011-09-21

Untitled Document

Forerunners
Regisseur: Simon Wood
Kamerawerk: Felix Seuffert
Rolverdeling: Martin Magwaza, Karabo Malupe en Miranda Puza




Sedert 1994 het vele sosiale verskuiwings in Suid-Afrika plaasgevind, onder meer die opkoms van ’n swart middelklas. Hierdie dokumentêr, vertoon by die Tri Continental Film Festival, volg die lewe van vier van hulle, twee mans en twee vroue. Net deur opskrifte wat verskillende plekname aandui, word elk se individuele verhaal moeiteloos vervleg met die ander s’n, sodat ’n tapisserie van die nuwe bedeling voor die kyker se oë vorm aanneem.

Om vandag swart en bevoorreg te wees, is egter veel meer as ’n blink Mercedes, gholf speel, slaai eet saam met jou braai en in ’n huis in die voorstede woon. Sukses en geld bring sy eie verpligtinge en probleme, en baie daarvan lê op die vlak van menseverhoudings. Van laasgenoemde is die aangrypendste die jong vrou wat uiteindelik haar baba as alleenouer moet grootmaak omdat sy nie bereid is om haar te onderwerp aan die “ou weë” van haar aanstaande skoonfamilie in die Oos-Kaapse platteland nie.

Die treffendste aspek van die film is hierdie jong mense se stryd om die wêreld waar hulle vandaan kom (arm en/of plattelands) te versoen met hulle nuwe stadswêreld van werksdruk en spertye. En interessant genoeg is dit die verbintenis met hulle familie en veral die spirituele aspek van hulle “ou wêreld” wat hulle in staat stel om dit te doen.
Die jong regisseur Simon Wood sorg met sy subtiele en evokatiewe aanslag vir ’n pragtige stuk werk. Forerunners het reeds aandag getrek by Cannes, en is gekies om later vanjaar by nog twee internasionale filmfeeste vertoon te word.