Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies-resensie-essay: Op soek na lig. Uitbeelding van die mistiek in Die reise van Isobelle deur Elsa Joubert


Chris van der Merwe - 2011-09-21

Die reise van Isobelle
(Heruitgawe 2011)
Elsa Joubert
Uitgewer:
Tafelberg
ISBN: 9780624053088
Prys: R180.00

Klik hier en koop Die reise van Isobelle nou van Kalahari.net!


Goedegebuure en Die reise van Isobelle


Toe daar verlede jaar in Nederland ’n boek verskyn met die titel Nederlandse schrijvers en religie, 1960-2010, geskryf deur die Leidse hoogleraar Jaap Goedegebuure, het dit my aan die dink gesit. Goedegebuure argumenteer dat, veral in die sestiger – en sewentigerjare van die vorige eeu, Protestante en Katolieke so vies vir dominees en pouse was dat godsdiens nie beskou is as ’n gespreksonderwerp vir beskaafde mense nie. Onder dié omstandighede het die opmerklike religieuse element in baie Nederlandse literêre werke by literatore verbygegaan – het hulle byvoorbeeld nie opgelet dat ’n radikale vernuwer soos Lucebert in wese ’n “Godzoeker” was nie. Hierdie leemte wou Goedegebuure met sy studie aanvul.

Goedegebuure en sy boek Nederlandse schrijvers en religie

In dieselfde tydperk wat Goedegebuure ondersoek, 1960-2010, het religie ook in die Afrikaanse letterkunde ’n belangrike rol gespeel sonder dat dit na behore ondersoek is. Ek dink hier aan religieuse elemente in prosatekste soos Kennis van die aand, Toorberg 30 nagte in Amsterdam en Die sneeuslaper. Om nie te praat van Karel Schoeman en Anna M Louw nie. Dit is ’n boeiende studieveld wat braak lê.

Baie mense sal die wenkbroue lig vir so ’n studieveld, want hulle assosieer religie met benoude kerke en verkrampte dogmas. Die term religie moet egter verbreed word om by konsepte aan te sluit wat die laaste tyd al hoe meer in filosofiese gesprekke gehoor word: spiritualiteit en mistiek.

Mistiek is die fokus van hierdie essay. Die olie op my vuur was die verskyning van ’n nuwe druk, ’n sagteband-uitgawe, van Elsa Joubert se roman Die reise van Isobelle. Want ’n grootser, meer omvattende uitbeelding van die mistiek is daar nie in die Afrikaanse prosa as in hierdie werk nie.

Wat is mistiek?

Wat word met die begrip mistiek bedoel?

Op hierdie vraag is daar net soveel antwoorde as wat daar boeke oor die mistiek is. HAT se definisie van mistiek is eenvoudig: “strewe na die innige vereniging van die siel met God”. Maar dit is té eenvoudig, want daar is baie mistieke ervarings, by die Boeddhisme en panteïsme byvoorbeeld, waar daar nie sprake van ’n ontmoeting met God is nie.

Meer inklusief is die werksdefinisie van Denise en John Carmody: mistiek is ’n “direct experience of ultimate reality”.1 Mistiek verwys dus na ’n direkte ervaring, buite taal of sintuiglike waarnemings om – so direk, so oorweldigend, dat dit by die mistikus geen twyfel laat oor die werklikheid daarvan nie. Dit dui op ’n verbinding met ’n ultimate reality, met die grond van alle dinge, nie herleibaar tot ’n verdere, dieper grond nie. Hierdie definisie gebruik die Carmodys as “werksdefinisie”, maar hulle erken dat dit nie alle probleme oplos nie. Is enige ervaring ooit volkome direk? Word ’n mens nie deur jou kulturele konteks beïnvloed nie? En kan enige mens ooit die “ultimate reality” konfronteer? Sou dit jou nie vernietig nie? Is ’n mistieke ervaring nie eerder slegs ’n glimp van die “ultimate reality” nie?

Ek begin dus hierdie essay sonder ’n omvattende definisie van die mistiek – slegs ’n werkdefinisie. Maar ek om lig te werp op die verskillende vorme van mistiek wat in Die reise van Isobelle voorkom. As algemene opmerking net dit: in ál die gevalle wat bespreek word, is daar sprake van ’n persoon wat buite hom – of haarself gelig word – verbind word met iets groters, iets oorweldigends.

Skrywe in lig

Die frase “om lig te werp” in die vorige paragraaf is doelbewus gekies. Want die ligmotief is nóú verbonde met die tema van die mistiek in Die reise van Isobelle – die verhaal is as ‘t ware deurtrek met ’n mistieke lig wat oor vier generasies heen strek. Emma van die eerste generasie, vrou van dominee Josias van Velden, skryf as laaste boodskap aan haar gesin ’n stuk met die titel “A Vision”. Tot die dood toe siek, kry sy ’n visioen wat sy soos volg beskryf:

In an instant of time, I know not how, I found myself in a place which for the grandeur and glory and the brilliancy of its light so dazzled me, that I was well nigh bewildered, nor can pen ever describe the vastness and the wonderful glories of those mansions fair. I thought of all the beautiful scenes I had beheld on earth, sunrise and sunset and rainbow, it was all this and much more – floods and floods of golden light, tinted with the most exquisite colouring. (116–7).

By Agnes, die skoondogter van Josias en Emma van Velden, word die ligmotief ook sterk beklemtoon. Sy verskyn in “’n stralekrans sonlig” by die voordeur; sy loop deur “die koel donkerte van die gang” na die studeerkamer waar “klein speke sonlig die kleure in die vertrek laat skitter” (133-4). Die toneel herinner aan die etimologiese verklaring van die woord fotografie, wat meer as een keer in die roman genoem word: fotografie beteken naamlik “om te skryf in lig”. Wat die fotograaf met sy kamera doen, is soortgelyk aan wat die skrywer van die roman doen. Soos die fotograaf wil die skrywer die werklikheid vaslê, maar sy wil ook meer as dit doen: sy wil die werklikheid transformeer deur ’n mistieke lig daarin te bring.

Lyding en mistiek

Emma van Velder kry haar “Vision” wanneer sy op sterwe lê. Meer as een keer vloei die mistieke ervaring in die roman voort uit lyding. Wanneer Josias van Velden tydens die Anglo-Boereoorlog as pastorale versorger ’n konsentrasiekamp besoek, kom hy uit by tant Hester Prinsloo, wat vir almal in die kamp ’n steunpilaar was en wat nou sterwend is. Dan, plotseling, verdwyn die doodsreuk uit die tent, “en kom daar iets soos die lieflike geur van soetemalings en vul die tent” (56). Haar laaste woorde voordat sy sterf, is: “Hoe heerlijk is dat, en kijk de menigte engelen om ons vergaderd” (56). Dominee van Velden peins hieroor: “Is lyding die prys van die Godsbewussyn? dink hy toe hy na sy tent toe loop. Is dit dan tog waar dat lyding die instrument is waarmee God sy kinders na Hom toe bring?” (56). Die toneel in die konsentrasiekamp vind ’n parallel in die vertelling van ’n episode uit die Eerste Wêreldoorlog: “By Mons in Vlaandere in die ’14 oorlog, ná die groot slagting, het hulle vertel dat duisende sterwende en gewonde soldate in die hemel ’n skare engele sien verskyn het” (60).

Ook by Hennie, dominee Van Velden se broer, is lyding die prys wat betaal word vir ’n ontmoeting met die Absolute. Op die sendingveld is hy erg vermink deur ’n leeu – en dit is belangrik om te onthou dat die leeumotief in die roman simbool van die Goddelike is. Hennie worstel swaar met die lewe; maar sy dominee-broer troos hom:

Is jou pad, boetie Hennie, wat soveel moeiliker was, dan uiteindelik nie meer geseënd as ander s’n nie? Jou uitdaging soveel groter? Die uiteindelike Eenwording soveel suiwerder? Het ons nie gelees dat die heiliges jaloers was op lyding nie? Eerder die leeu wat spring as die leeu wat verbyloop, sou verkies? (214)

Later onthou Josias se dogter Leonora wat haar pa nóg oor sy broer gesê het: dat hy “die heiligste van alles ervaar het: God in die oog van die leeu. En dat oom Hennie die Absolute geken het voor die vernietiging” (528).

Afgodery

Nie alles wat na mistiek lyk, is egter waaragtig mistiek nie. Agnes, wat so mooi met ’n stralekrans van lig by die voordeur verskyn, gaan mettertyd op die weg van ’n valse mistiek, ’n ervaring wat as afgodery uitgebeeld word. Agnes weet nie wie haar pa of haar ma is nie, en soek daarom intens na geborgenheid, na identiteit. Dit vind sy in die opkomende Afrikaner-nasionalisme van haar tyd. Nasionalistiese gevoelens kom baie met die mistiek ooreen, soos wat Agnes se dogter Belle aan haar oupa Josias verduidelik: “(T)oe ek daardie fakkel gedra het, het ek so snaaks gevoel. Ek was nie meer ek nie, maar iets anders.” Waarop haar oupa haar vermaan: “Mens moet baie, baie versigtig met so ’n gevoel wees ... Mens kan so maklik verkeerde kant toe” (228-9). In Belle se latere lewe kom sy agter watter kwaad nasionalisme kan doen, wanneer sy aan eie lyf die ontmensliking ervaar wat daaruit voortgevloei het.

Die inwyding van die Voortrekker-monument in 1949.
Agnes gaan, in die woorde van haar pa Josias, “verkeerde kant toe”. Sy word deel van die opwelling van nasionalisme by die inwyding van die Voortrekker-monument in 1949 en raak daar betrokke in ’n owerspelige verhouding met iemand wat haar herinner aan die man wat haar as ’n “vader” opgevoed het. Sy soek dus haar identiteit en haar geborgenheid in die verbinding met ’n vaderfiguur sowel as met haar volksgenote. Maar die feit dat haar wit rok in die proses met modder besmeer word, is ’n duidelike teken dat sy dwase keuses gemaak het. Religieuse mistiek word hier vervang met ’n onsuiwer mengsel van nasionalisme en religie (oftewel van religie in diens van nasionalisme), en die verlange na ’n vader verlei haar tot huweliksontrou. Dit word duidelik: die waarde van die mistiek lê nie in die emosionele ervaring op sigself nie, maar eerder in die etiese resultaat wat met die ervaring gepaard gaan.


Moslem – en Boeddhistiese mistiek

Mistieke ervaring word in die roman nie met een spesifieke godsdiens verbind nie. Belle, die dogter van Agnes, kry ’n Indiër-Moslem, Hussein, lief, en deur hom leer sy die poësie van die Islamitiese digter Muhammed Iqbal ken. Ook hy het ’n mistieke lig in die mens ontdek: “Hoewel ek net ’n stofdeeltjie is,/ Behoort die stralende son aan my” (333).

Deur haar verhouding met Hussein ontdek Belle dat liefde die grense van geloof en ras oorskry; meer nog, dat liefde dié uiteindelike waarde is; dat dit, in die woorde van Iqbal, die wese van die heelal vorm: “Liefde het my geboetseer: ek het ’n mens geword/ En kennis verkry van die wese van die heelal” (396).

Die mistieke ervaring van Leo, die dogter van Belle, het weer parallelle met die Boeddhisme. Haar ontwikkeling op die weg van die mistiek begin met ’n proses van bewuswording; sy kom tot die besef dat sy ’n mummie is, ’n “momio”: “(M)omios ... kyk, maar sien nie. Hoor, maar begryp nie. Hulle beskou die wêreld met ’n kil oog” (512). Leo word algaande bewus van die onreg van apartheid, van die verskriklike gevolge van die “forced removals” (548); sy begin te sien, hoor en begryp; sy kry ’n passie vir wat reg is, en dan gaan sy tot optrede oor. Sy word deel van die struggle en kom daardeur in die tronk te lande. In haar verset ontwikkel sy tot heldin; word sy die “leeu” wat in haar naam verskuil is.

Hierdie proses van bewuswording, van “wakker skrik”, sluit nóú aan by die leringe van die Boeddhisme. Gisela Ullyatt stel dit so:

(M)indfulness cannot be separated from the word “consciousness”, which comprises a spirit of mindful awareness ... This waking-up experience is crucial in Buddhism; the root “budh” means to wake up; therefore the word “Buddha” means “Awakened One”.2

In die tronk luister Leo na die sang van Xhosa-vrouens wat weeklaag oor hul dooies, en dan het sy ’n ervaring wat ongetwyfeld mistiek van  aard is. “Nog nooit het sy so een gevoel met ander, so min haarself nie” (608). Sy kry “die gevoel van onteiening van die self” (609-10), “die gevoel dat sy van iets groters as sy self deel is” (611).

Leo se weg tot die mistiek het anders verloop as by haar oupagrootjie Josias. Hy het ’n “waansin vir God” gehad, en sy omgang met die Goddelike het uiteindelik gelei tot versoening met sy jingo-skoonsuster Issy. Die mistiek by Leo, daarenteen, begin met simpatie vir die lydende naaste; by die aanhoor van die Xhosa-liedere vind sy: “Haar gees styg op: sy is nader aan God as wat sy al ooit gevoel het” (608). Josias het by God begin en by die naaste geëindig; Leo begin by die naaste en eindig by God.

Leonora, Frikkie en ’n omvattende mistiek

Leonora, die dogter van Josias, is die mees sentrale karakter in die boek. Daar is herhaaldelik die suggestie dat dit haar herinneringe is wat die grondstof van die verhaal vorm. Sy is ook die een by wie die tema van die mistiek die sterkste na vore kom.

Sy verlang om ’n passie in die lewe te hê soos haar vrome vader; sy wil deel hê aan sy belewenis van die mistiek. Aanvanklik probeer sy om dit in die natuur te vind, maar sy ervaar die uitspansel as te oorweldigend, sy is bang vir “die onmeetlike nag in die woestyn” (284)3. Maar uiteindelik het sy tog ’n mistieke ondervinding in die natuur:

“Sy buk langs die stroompie, laat die water oor haar hande spoel, kelk haar hande, buig vooroor en drink daaruit. Die gevoel van die verbintenis tussen haar liggaam en die bergwater oorweldig haar [...] [D]aar is geen tyd of afstand of apart-wees nie” (505).

Dié mistieke ervaring vloei voort uit ’n gesprek wat Leonora met haar broer, die fotograaf Frikkie, gevoer het. Frikkie het ’n passie vir sy kuns; hy wil die sluiers van die werklikheid afskeur met sy foto’s (503). In sy soeke na die wese van die werklikheid vra hy ’n doktersvriend om hom met meskalien in te spuit (’n middel met nagevolge soortgelyk aan dié van LSD). Dan volg ’n tipe mistieke ervaring wat baie ooreenkom met wat Aldous Huxley beskryf in The Doors of Perception (1954), teweeg gebring deur die gebruik van ’n dwelmmiddel:

Ek het gesien hoe die lig wat ons omring, opbreek in miljarde deeltjies, in kleure en vorms. Voor my oë het die kleure honderde patrone gevorm, en weer in nuwes vervorm, sterre en driehoeke en sirkels en patrone binne patrone. En hulle is almal hier teenwoordig, in die lig om ons, en ons sien dit nie (500).

Leonora het waardering vir Frikkie se ervaring; sy weet dat dit voortspruit uit sy passie vir sy kuns, en vir Leonora is die belangrikste ding in die lewe om “vir iets ’n passie” te hê (501). Hy verskaf aan haar die durf wat nodig is vir die toneel wat volg, wat die hoogtepunt en sintese vorm van ál die uitbeeldings van mistiek in die roman. Leonora neem haar twee bergie-vriende, Skottel en Maggie, na haar huis, gee aan hulle al die klere in haar koffer en die geld in haar handsak (638), en vra hulle dan om saam met haar die nag op haar agterstoep deur te bring, sodat hulle “die eensaameid van die naghemel vir haar oplaas bevatlik kan maak” (639). Skottel breek vir hulle brood en begin ’n Kerslied te sing: “Ko kinners, ko juig nou met vrolik geskal/ Van wat da gebeur het in Betlehemstal ...” (639). Dan word dit geleidelik donker, die sterre kom uit, die aandster word môrester, en uiteindelik breek die daeraad aan.

In hierdie toneel word verskillende elemente van die mistiek-tema saamgevoeg: die religieuse handelinge van die breek van die brood en die sing van ’n Kerslied; die belewing van die grootsheid van die natuur; die lig wat volg op die duister, simbolies van hergeboorte; en die harmoniese samesyn oor sosiale grense heen.

’n Hoopvolle einde?

Ná hierdie toneel is daar ook op politieke gebied hoopvolle tekens, tekens van ’n nuwe bedeling wat op koms is. Maar dit word gevolg deur sombere gebeurtenisse, deur haat en gewelddadigheid.

Nietemin het hoop die laaste woord. Daar vind landwye massabyeenkomste plaas om vir vrede te bid – oor geloofs- en kleur- en groepsgrense heen (657). Ook dit kan as ’n mistieke ervaring beskou word, omdat mense uit hulself gelig word om óór die ou grense heen met mekaar verbind te word, én met die Onsienlike. Hierdie gebeure word dan gevolg deur die “mirakel” van die verkiesing van 1994 – ’n teken dat die gesamentlike mistieke ervaring ’n helende uitwerking op die politiek van die land gehad het.

Rustum Kozain

En nou, heelwat jare later, in 2011 – wat het van die hoop oorgebly? Rustum Kozain skryf dan ook, aan die einde van sy Rapport-resensie van Die reise van Isobelle (5 Junie 2011): “(D)ie einde laat ’n mens wonder en wonder, veral as ’n mens die boek nou lees, 16 jaar ná sy eerste verskyning.”

Miskien kan ’n mens só reageer op Kozain wat wonder of die slot nie té positief is nie: die einde van die roman is ’n voorlopige slot, nie ’n finale afsluiting nie. Want die stryd tussen lig en donker duur voort – maar in die roman se visie is dit die lig wat oplaas triomfeer, weer en weer ...

Ten slotte

Die uitbeelding van die mistiek in Die reise van Isobelle is, soos ek aan die begin gesê het, groots en omvattend. Verskeie vorme van die mistiek kom na vore: in die waansin vir God wat Josias en sy vrou openbaar, maar ook in die gevoel van eenheid met medegevangenes wat Leo ervaar; in die natuurmistiek sowel as in die ontmoeting van die Absolute in ekstreme lyding; in die Christelike Kerslied en nagmaal en ook in belewenisse van die Islam en die Boeddhisme. ’n “Afwykende” mistiek word uitgebeeld in Agnes se owerspel by die Voortrekker-monument – wat bevestig dat die waarde van die mistiek nie in die ervaring self geleë is nie, maar in die helende werking daarvan in en deur die mistikus.

Boeiend is die geval van die fotograaf Frikkie, wat met sy foto’s “skrywe in lig”; hierin kom hy met Elsa Joubert ooreen, wat met haar roman ook “in lig” skryf, omdat sy die lig van die mistiek op die historiese werklikheid laat skyn.

As ’n mens ’n studie sou wou maak van Afrikaanse skrywers en religie, 1960-2010, sou Die reise van Isobelle ’n goeie beginpunt wees.


1 Carmody, Denise L en John T, Mysticism. Holiness East and West, p 10,Oxford: Oxford University Press, 1996.

2 Ullyatt, Gisela: “The only chance to love this world”; Buddhist mindfulness in Mary Oliver’s poetry. Tydskrif vir Literatuurwetenskap 27(2), Julie 2011, p 117.

3 Sy ervaar wat Pascal geskryf het: “When I consider [...] the small space which I fill and even can see, swallowed up in the infinite immensity of spaces of which I know nothing and which knows nothing of me, I am terrified.” (Pensées and Other Writings, p 26. Vertaal deur Honor Levi. Oxford: Oxford University Press, 1995.)