Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Die vierde wedren


Marlise Joubert - 2011-09-20

Untitled Document

Ek het die helmet vir Pa aangegee.

Voordat hy dit sou opsit, het hy sy kop laat sak, gebid soos altyd: “Omgord my met u krag vir die stryd. Laat my teenstanders onder my buk. Amen.” Toe gee ek die handskoene ook vir hom.

Dit was die gewone ritueel.

Igor het langs my gestaan. Die res van die pit crew was nog besig met verstellings. “Moenie worrie nie, Dan,” sê Igor. “Ons het die tyres stywer gepomp soos jy gevra het. Vandag is jy weer die champ!”

“En wat van die suspensie?” vra Pa.

“Alles okay,” sê Igor glimlaggend. “Ek het die agterste suspensie getune.”

Pa het deur die oop kap ingeklim, sy handskoene aangetrek, die knippies om die polse vasgedruk. Die helmet opgesit. Soos gewoonlik mag hy gou nog ’n paar untimed oefenrondtes inkry voordat die wedrenne begin. Deur die oop skreef in die helmet het ek na sy donker oë gekyk. Miskien is dit die laaste keer, het ek weer eens soos met elke wedren gedink.

Ek kyk deur die swart raster van die venster – Pa, gepantser in sy brandbestande renpak, die traliewerk van lap voor die venster sodat sy arm nie sal uitvlieg en seerkry met ’n ongeluk nie. Hy kyk weer vlugtig na my. Klap die skerm van die helmet af. Hy skakel die enjin aan.

Sy kanse is goed vandag. Met die oefenrondtes het hy weer die eerste wegspringplek kon kry. Maar vandag was nie soos voorheen nie, nie soos al die jare nie. Iets was anders, maar ek het nie geweet wat dit was nie. Miskien was dit Pa se dreigende woorde vroeg vanoggend: “En los in Godsnaam vir George uit! Die man is befok!”

Ek het nie by die wegspring langs die muurtjie gaan staan en wag nie. Gewoonlik het ek daar gestaan. Maar dit was voordat ek paramedikus geword het. Dit was opwindend om halflyf vooroor te leun, te kyk hoe die karre aankom, hoe hulle doelbewus so na as moontlik teen die muur afjaag sodat die lugleegte wat ontstaan die kar daai ekstra hupstoot vorentoe gee.

Ek het George ontmoet. Die ambulansbestuurder. En die afgelope jaar gaan staan ek nie meer langs die muur nie.

Ek stap uit die kuipe weg. Waai vir Pa. Hy waai nie terug nie. Hoekom waai hy nie terug nie?

Ek stap verby die wegspringrooster tot by die kliniek. George sit reeds agter die stuurwiel van die ambulans. Ek tel my sak op en stap soontoe, klim in. Dokter Brown is besig om alles na te gaan, die noodsak met middels, die endotrageale buise, die laringoskoop, spuite en naalde. Die res van die mediese span klim in. Ons ry uit na die eerste draai toe. Ek was agtien daardie jaar en verlief op George. Hy het dit geweet.

Dit was ’n mooi dag vir die kampioenskappe. Daar was ’n ligte wind uit die ooste, min wolke en die son was warm. Dit was die begin van lente en om die baan was die baie wit blommetjies soos ’n see vol brandertjies. Seeperdjies het ek hulle genoem toe ek nog jonger was. Dit het lank geneem voordat Ma my toegelaat het om na die baan te kom. Eers op tien, nadat ek gedreig het om vir altyd weg te loop.

Ma het nooit na die renbaan toe gegaan nie.

Ons huis was reg langs die renbaan, ’n strook port jacksons tussenin, maar steeds so naby dat ek soms die reuk van skroeiende teer en motorbande gekry het tydens ’n wedren. Ek moes in die huis bly, die hele dag die tergende, aanloklike gebrul van jaende karre in my ore, Ma wat onrustig en verwoed deur die huis loop, soms skielik stilstaan en luister, hardop bid: “Here, red vir Danny uit die dreuning van die doodskaduwee …!”

En later, altyd dieselfde gesprek: “Ma, dis jy wat in die kuipe by Pa moet wees. En langs die baan moet staan. Nie ék nie.”

Dit was my wêreld, my plek – tussen die doodskaduwees van stiltes aan die een kant, die vogtige soutreuk van die see as die wind waai en aan die ander kant die indringende, opwindende dreuning van motors op sommige dae, veral natuurlik Saterdae, en ja, onteenseglik, daardie vlugtige reuk van rubber, braaivleisvuur en olie.

Ons het met ’n splinternuwe ambulans uitgery na Continental Corner. Soos gewoonlik het George eenkant langs ’n hoë muur geparkeer, die neus van die ambulans in die rigting van die eerste draai. Die fire-bakkie het reeds daar naby gestaan, gereed vir enige brand. Ek het saam met die span uitgeklim, ’n ent gestap oor die gras en op die swart opgestapelde tyres gaan sit.

In die verte was Tafelberg, drywend agter die helderoranje Continental-vlae, netjies in ’n ry langs die binnebaan en effens wapperend in die wind. Op die muurtjie by die vlae staan dit soos altyd: Tableview Tyres. Links, langs ’n kleiner pawiljoen, die ander advertensieborde, soos BP en Engen. En op die groot halfmaanbrug naby die wegspringplek: GOOD YEAR, in ’n boog van groteske wit letters uitgespel.

Agter die draadheinings, reg rondom die renbaan, versamel die mense, sommige mans reeds met kaal bolywe en ’n blik bier in die hand. Ek het gekyk na die bebaarde brekers, en die een met die wit pet, die wortelrooi baard en lang hare, sy maag drillend vet en rond. Hy dra ’n swart moulose blinkleerbaadjie. Ek het hom nog nie voorheen gesien nie. Na soveel jare ken jy mos al die karakters wat hier uithang. Die brekers is luidrugtig. Die drank vloei tussen hulle.

“Teen vanmiddag is hulle gaar,” sê ek vir dokter Brown langs my en beduie na die spul Vikings.

Hy lag: “En vandag gaan die testosteroon weer vloei!”

Ek verstaan nie wat Brown bedoel nie. Ek vra versigtig: “Hoekom testosteroon?”

“Hoë-oktaan-brandstof!” sê hy en glimlag af na my toe. ”Sommige karre loop mos daarop, soos daai modified sedan met die V8-enjin wat jou pa het! Nice karre, en hulle maak ’n helse geraas!”

“Geraas?” vra ek. “Wel, dis hoekom hulle omtrent 260 kilometer per uur op die agterste pylvak kan haal!”

Ek dink weer aan Pa se kar, ’n streamline ysterperd wat die vuur so agterlangs uitspoeg. Die kragstuur en kolossale remme van koolvesel. Om die draaie kan jy die rubber ruik, sien hoe stukkies van die slicks afskiet! Soms het ’n buffer losgekom, maar ry het Pa like hell voortgery, al sleep die stuk metaal agterna. Ek onthou vroeër het ek graag die gras, klippies en die teerstukkies uit die gladde loopvlak van die bande gegrawe.

George het uit die ambulans geklim en kom na ons toe. Ek staan tussen George en dokter Reitz. Langs Reitz staan Brown. Ons kyk almal vorentoe, na die Good Yearbrug in die verte. Ek voel hoe George se hand op my rug op en af streel, die holte in my nek saggies masseer. My gesig begin gloei. Ek luister na hulle gesprekke terwyl ons wag vir die eerste wedren van die Stannics om te begin. Pa sal eers in die vierde wedren wees.

George skuif sy hand onder my hemp in. Die aanraking van sy vingerpunte teen my kaal rug laat ’n rilling deur my gaan. Ek druk met my heup styf teen hom. Sy hand gly gemaklik om my lyf tot voor by my naeltjie. Vinnig en ongemerk raak hy aan my oop tepels. Ek ruk effens vorentoe. Onwillekeurig. Hy onttrek skielik en staan ’n tree weg van my. Ek kyk na hom, glimlag terug in sy gesig. Die wind rimpel deur sy hare – hulle waai op nes die oranje vlae.

Die karre dreun verby soos hulle die enjins begin opwarm. George draai weer om na dokter Reitz toe. “Ek wonder wat maak van jou ’n goeie renjaer? Wat dink jy?” vra hy.
“Man, daar is drie dinge wat jy nodig het om ’n renjaer te word,” sê dokter Reitz. “Eerstens het jy ’n goeie enjin nodig wat kan asemhaal, jy het goeie laeprofielbande nodig en laastens het jy ’n paar moerse balls nodig!”

Hulle lag so hard dat ek sommer ’n ent wegstap. Pa het seker balls, ja, dink ek toe. Maar hy het geloof ook. Krag van Bo, niks anders nie. En eendag, dit weet ek nou al, sal ek in sy voetspore volg. Sonder balls!

Ek stap tot naby die karre se afloopplek waar dit opgevul is met sand en gruis. En glo met perskepitte ook. Ek soek die perskepitte, grawe rond. Ek hoor hoe die vlagbeampte teen die klein stukkie swart muur vir my skree. Hy waai sommer die blou vlag vir my. Wat dink hy doen hy? Ek is nie Villeneuve nie. Hy beduie ek moet teruggaan. “Die karre gaan begin!” skree hy. “Hulle staan al op die dummy grid!”

Ek stap terug na die mediese ouens toe. Ek gaan sit op my hurke, leun met my rug teen die swart tyres, voel hoe die zip van my jeans in my maag indruk. Ons wag. Gespanne. George is weer terug in die ambulans, slaggereed vir enige ongeluk. Dan hoor ek hoe die karre opref, brullend begin beur. Skielik is die lug vol elektrisiteit.

Onder die Good Yearbrug sien ek hulle verwoed aankom. Soos ’n bankvas skool van blink sardientjies pyl hulle af op Continental Corner. My hart klop vinniger. Die spoed is altyd ysingwekkend, ek kan dit steeds nie gewoond raak nie. My ore dreun. Die lig splinter. Die karre gly om die draai. ’n Prisma van kleure skeur voor ons verby.

Ek gaan lê plat op die gras, kyk hoe die linkeragterwiele oplig om die draai. Regs begin die een kar beheer verloor en tol van die pad af. Die fire-bakkie pyl op hom af, maar die jaer het reeds beduie alles is in orde en swenk terug in die baan in.

“Met die vierde wedren kom jy na my toe,” onthou ek George se woorde.

Vandag, vir die eerste keer, gaan ek nie na Pa kyk nie. Nie langs die baan staan en hom skreeuend aanmoedig nie. Ek kyk om na George waar hy agter die glimmende voorruit sit. Agter die stuurwiel. Ek waai vir hom. Hy sien my en waai deur die oop venster terug. Die eerste skerp reuke van olie en teer vul my longe. Tussen die karavane in die verte warrel die grys rookkolomme van braaivleisvure. Ek hoor die brekers skreeu en lag.

In die tweede wedren word ’n baanbeampte raakgery. Ons hardloop almal na die ambulans toe, jaag uit na die ongelukstoneel toe. Die wedren word tydelik gestop. Die man het baie seergekry – die helikopter neem hom hospitaal toe. Miskien maak hy dit. Miskien nie.

In die derde wedren jaag die Superbikes. Ek is gek oor hulle. Ek staan en kyk gehipnotiseerd na die sierlike bewegings as die ystermeeue Continental Corner vat. Eerder vat die draai vir hulle! Die ouens hang halfpad van die sitplekke af, gesuspendeer in die lug; die knieë skuur rakelings oor die teeroppervlakte. Die dreuning is vlymskerp en sny deur my lyf. My hart tril van opwinding. Ek voel die adrenalien deur my pomp en ek kyk weer na George in die ambulans.

Ná die bikes, nét ná die bikes, sal ek na hom toe gaan.

Ek draai om en kyk hoe vlieg die blikmeeue in die buitebaan voor ons verby. Hulle is so weerloos, dink ek weer. Pa het ten minste die rolraam van staal en pype om hom. En ja, die blusser. Toe die fietse verby is met die laaste rondte, sien ek weer die sirkels oor die teerblad lê. Elke sirkel ’n perfekte doughnut wat die wenner van die dag voor die skare kom maak. Dis die een oomblik wat ek nooit mis nie – die voorwiel stil en die agterwiel wat brullend in die rondte skuur oor die teer. Die dikwit rookwolk waarin die fiets dan feitlik heeltemal verdwyn en dan jaag die wenner uit die ingebrande sirkel uit,  lig sy voorwiel hoog op en die mense juig, word stapelgek van vreugde. A, die groot manlike ego, omhoog, wuiwend vir die skare. Sy ronde stempel getatoeëer op teer!

Die vierde wedren begin.

Pa.

Eers die rolling start. En ek wag.

Ek wag liewer tot die karre hoëspoed aankom, knersend die eerste draai gevat het. Ek sien hoe sit hulle verbete op mekaar se gatte. Hulle gons soos ’n swerm bye verby. Stukkies rubber splinter van die breë bande af. My oë soek na Pa. Ek spot hom in die tweede posisie. Ek druk my ore effens toe. ’n Kar tol, reg in die middel van die baan, swaai sy gatkant na vorentoe. Die vlagman waai twee geel vlae tegelyk. Toe is die eerste karre een keer om en vleg hulle vernuftig om die stilstaande kar in die middel.

“Hoekom trek hy nie af nie?” vra ek vir dokter Brown.

“Die man is bedonderd,” sê hy. “Maar miskien kry hy nie kans nie.”

Ek moenie tyd mors nie. Ek trek my tekkies uit, haal die pet af en sit dit in die holte van die opgestapelde tyres. Ek loop na die ambulans toe, klim voor langs George in. Sy hand is meteens onder my hemp in. Hy frommel my tepels tussen sy vingers. Hy maak die knoop van my jeans los, streel tussen my bene. My wange word warm.

“Jy is ’n moerse girl!” fluister hy vinnig in my oor en kyk weer vorentoe. Die ander sien ons nie. Hulle kyk na die karre, draai soos marionette om, heen en weer, eers na die eerste draai toe en dan na die baan agter die tyres.

“Kom!” sê George. “Gou! Gaan klim solank agterin. Ek kom nou.”

Ek skuif vinnig van die sitplek af, maak die deur weer toe. Ek kyk of die ander my sien. Niemand kyk nie. Ek klim vinnig in die agterste kajuit in. Ek hoor hoe George die deur toeskuif en sluit.
Hy stroop my skoene en jeans af. Toe die broekie. Ek gaan lê op die smal hospitaalbed teen die een kant. Hy vou my soos ’n knipmes oop.

Ek hoor hoe dreun die motors verby; die dak van die ambulans tril liggies.

Hy is oop voor en ek vat aan hom. Hy is stokstyf. My duim gly oor die gladde punt.

My hart klop vinniger.

Ek voel hom in my opstoot en my heupe lig.

“Jy maak my fokken mal!” roep hy uit.

Ek beur en gly teen hom. Sy asem jaag langs my nek af, dreun teen my bors, ruk in my ore. My bene vou krampagtig om sy lyf.

George maak ritmiese heupbewegings, swaai heen en weer soos die karre as hulle die wiele voor die renne opwarm. Ons vat nie die draaie nie – die draaie vat ons, stoot ons voort teen ’n hartstogtelike spoed, gooi ons uit op die pylvak, ruk ons terug van die skouertjies op die draaie. My ore is ’n dolle dreuning, vinniger, aanmekaar, aanmekaar, my asem jaag.

Ek hoor die skare gil. Skerp soos metaal. En weer en weer en … Ek kyk op na die dak van die ambulans. Ek sien splinters blou en silwer vuurwerk wat die dak afstroop. Spirale van rooiwarm draad. Verblindend.

Ek sien dit nog voordat ek die slag hoor, voordat George se liggaam soos ’n lappop van my af wegskiet, voordat my lyf oopskeur en die bloed deur my vingers stroom. Ek sien die helse vlammegloed oopbars in ’n prisma van kleurtonge deur die lug; ek sien dit net voordat my mond gaap, my kop agteroor tussen staal knak.

Ek sien dit voordat ek die slag hoor, voordat Pa se gesig reg oorkant my neerval, die helmet teen sy skouer ingedruk, sy een oog op die wang gesper en oop vir krag, krag van Bo.

Toe het die dag swart ingetol, dieper ingevou, en stil, al hoe stiller in my bors bly dreun.

(Hierdie kortverhaal is ook verwerk na ’n radiodrama toe, wat deur RSG uitgesaai is.)