Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Roepman in die Kloof, met Jan


Francois Verster - 2011-09-20

Untitled Document

Vriende van ons is entoesiastiese ondersteuners van gereelde kultuurgeleenthede op die Bolandse plaas Koopmanskloof. En dis hulle wat ons saamnooi na ’n boek- en filmbespreking daar: Jan van Tonder sal ons oor Roepman vertel.

Die plaas lê styf teen die blad van ’n koppie wat ’n entjie weg van Bottelarypad verby loop en ons ry met ’n hobbelrige paadjie tussen bome deur terwyl dit vinnig donker word. By ’n vurk in die pad onthou ons net betyds dat ons by ’n vorige geleentheid links gedraai het. Ons klim huiwerig uit, maar ons vriende stop kort agter ons en die groot kelder se ligte lok ons nader soos ’n vuurtoring in die koel, windstil aand: ons is by die regte plek.

Binne is al ’n paar mense, duidelik meestal gereelde besoekers, besig om te groet en gesels – daar is ’n gees van ontspannendheid, maar ook afwagting. Oudergewoonte is vars brood en sop op die spyskaart, voorafgegaan deur die kelder se wyne; nét die ding om die lywe warm te kry op ’n wintersnag. Die goeie geselskap sal vir die res sorg, met Van Tonder as die hoofgereg, darem net figuurlik gesproke.

Hy voel skynbaar ook dat hongerige oë op hom gerig is terwyl hy diep weg in die kelder tussen die rye wynvate sit – sy grys kop lyk wit teen die grouer ingewande van die kelder. Gelukkig sal niemand darem soesji van hom af wil eet nie: die klein skare wat die lang tafel (dit herinner wel aan die Laaste Avondmaal) toepak en selfs ’n tweede linie begin vorm, is ooglopend beskaafd – hulle wil net die skrywer se brein kom “pick”. Ek dink skielik aan Hannibal the Cannibal en ruk myself weg van dié grieselrige metafoor.

Toe Van Tonder later verbystap en almal een-een groet, stel ek hom gerus: “Onthou, niemand sal weet as jy iets vergeet nie, so sê net waarvoor jy tyd kry en moenie komkommer oor die res nie.” Hy antwoord: “Ja, niemand weet immers méér van die onderwerp as ék nie.” Hoewel sy gebrek aan selfvoldaanheid duidelik blyk, lyk hy nogtans nie verbouereerd nie. Nie op die oog af nie: goed vir ’n skrywer – jy moet in jouself glo, maar nie te veel nie. Dis tog onsekerheid en onvergenoegdheid wat jou gedurig dryf om weer en weer te skep, skat ek.

Ná John Kannemeyer hom voorgestel het, begin Ons Skrywer praat, is álle tekens van benoudheid weg. Hy kwyt hom inderdaad uitstekend van sy taak; hy praat rustig, vertel op sy eerlike en ongekunstelde manier van hoe hy eers, van alle dinge, dominee wou word. En onopsigtelik messel hy sy humor tussen die boublokke van sy vertelkonstruksie in; bou hy ’n boeiende relaas op en vermaak hy die toehoorders sodat hulle genotvol aan sy lippe hang: Wie is nóú die eter en wie die spys? wonder ek. Maar dis eerder ’n wederkerige genieting, soos die talle vrae later toon – almal wil deelneem met ’n kompliment of ‘n vraag. En Die Outeur, met géén afstand van enige tipe tussen hom en sy gehoor nie, antwoord geduldig, al moes sommige vrae al vir hom al so effe sandsuiker soos voorlaasjaar se moskonfyt gesmaak het. Eish, wyk satan, al die gedagtes oor eet dring alweer deur my goeie voornemens om Van Tonder se gestroopte (no pun intended, ek belowe) styl te vereer!

Maar eers oor Kannemeyer se siening: Van Tonder is ’n prominente skrywer, sê die gesoute literator, ‘n belangrike persoon in die Afrikaanse letterkunde. Hy sluit ook aan by die ouer tradisies in ons letterkunde: sy roman Is Sagie se hooffiguur trek na Jochem van Bruggen se Ampie, máár, sê Kannemeyer, Van Tonder het nie bloot afgeteken by sy voorganger nie – hy het ’n nuwe inslag waarmee die karakter van ’n ander kant belig is. In die geval van Die kind het Van Tonder weer aangesluit by die folkloristiese tradisie van PJ Schoeman. Wat Roepman betref het hy aan Sewe dae by die Silbersteins herinner: die surrealistiese swembadtoneel; dog hy boots Leroux nie bloot na nie. Ek wonder dadelik of daar ’n biografie vir Jan van Tonder in die pyplyn mag wees, maar hou vir ’n verandering wyslik my smoel.

Dan skuif ons fokus van Jan van Tonder self. Hy sê hy “kyk af by die lewe, want [hy] kan nie eens uit sy kop skryf nie”. Hy antwoord egter nie op die literator se ontleding nie; hy verwys na die gebruik van sy notas wat hy voor hom rondskuif. En dan vertel hy van al sy omswerwinge en die talle beroepe wat hy gevolg het. Aangesien hy Grieks en Hebreeus nie op universiteit kon baasraak nie, het hy besluit dis ’n Vingerwysing – dat hy nie ’n dominee moet word nie. Verder het die bank hom beter behandel as die kerk toe hy nie sy studieskulde dadelik kon vereffen nie. Laastens het hy ook besef die kerk sou hom nie toelaat om eens twee keer te preek nie: sy boodskap verskil van dit wat hulle verkondig. Tog wou hy altyd met mense praat, iets aan hulle verduidelik: dalk niks anders as die sogenaamde “menslike kondisie” nie. Dís tog wel wat kunstenaars doen, so hy moes net eers die medium ontdek wat hom pas. Ironies genoeg is dit toe die woord, en nie die Woord nie, wat hom sy lewe lank sou agtervolg.

En die plek waar hy dit ontdek het, was die tronk, darem nie as gevangene nie, maar toe hy tronkbewaarder in Durban was. Om nie homself óf die hoofbewaarder te skiet nie, het hy ’n minder ekstreme uitlaatklep benodig. Hy smokkel toe iets by die tronk in: nie ‘n vyl of ‘n bom nie, maar ’n aantekeningboek en ’n skryfding. Hieroor haal hy Peter Ustinov aan: “I believe in beginner’s luck.” Wel, dis hoe hy begin het, maar hy was nie summier gelukkig nie.

Die ekstreme toestande van die tronklewe het hom laat besluit om ’n karakter te skep wat die teenpool is van die tipe wat die norm van die helhool was, iemand sonder sonde, iemand met oë soos ’n kalf: mooi, maar eintlik leeg en dom. Die goeie mens was toe Sagie, wat eers die hoofkarakter van ’n kortverhaal sou wees en later dié van ’n boek. Want nadat Van Tonder alle boosheid uit hom gehaal het, was hy toe nie meer so slim nie. Heel anders as Frankenstein se monster was die skepping dus. Met hierdie kortverhaal, so rondom Sagie gebou, wen hy toe Huisgenoot se prys vir Kortverhaal van die Maand. Daarna, heel opgetrek met die suksessie, is hy aangevuur om ’n boek te skryf – veral nadat hy Karel Schoeman se ’n Lug vol helder wolke gelees het. Dit het immers nogal maklik gelyk, dag hy toe. Hy sou ’n boek skryf wat onneersitbaar is – dit was die plan.

Mettertyd het daar toe ’n paar boeke gevolg, maar hulle was skynbaar net-net nie heeltemal so goed soos hy hulle wou gehad het nie – ander skrywers het telkens die pryse voor hom weggeraap; ook Roepman sou vir vier belangrike pryse benoem word ... waarmee Agaat sou wegstap. Die kind het toe wel in 1990 die ATKV-prosaprys gewen, (al was sy eerste resensie nogal striemend) en word toe vir 20 jaar voorgeskryf. Dit het ook die FAK-prys vir ontspanningsleesstof in 1991 ingepalm. En Roepman word, ten spyte van sommige ouers se besware (soos by HS Paul Roos), steeds by sekere skole as voorgeskrewe boek gebruik. Hieroor sê Van Tonder dat hy nie begryp hoekom mense ’n probleem het met sy boeke nie – soos die een tannie wat die aantal vloekwoorde in een boek gaan tel het. Hy verwag net dat mense (ook resensente) gebalanseerd moet kyk na die teks, en byvoorbeeld nie verwag ’n spoorwegwerker moet soos ’n dominee praat nie. Hy behoort te weet – hy was op ’n stadium ’n spoorwegwerker en was ook – wel, amper! – ’n dominee.

Van Tonder sê hy skryf visueel (wat seker help om sy boeke in films te omskep), hoewel dit glad nie maklik is nie. Hy reken sommige tonele kan mens net eenvoudig nie in ’n boek beskryf soos jy dit in ’n film kan uitbeeld nie. En ek sit en suig aan ’n olyf en wonder: hoe ánders as visueel skryf mens? Sién die skrywers dan nie die beelde – die tonele en die karakters – nie? Aan die ander kant, is mens dan nie veronderstel om reuke en smake ook in jou beskrywings in te bring nie? Dan kan dit mos nie net by visueel (sommige praat mos van “filmies”) bly nie? Maar regte skrywers sal weet waarvan hulle praat.

Ons luister, peusel verder, neem ’n slukkie van die kelder se eige Cabernet Sauvignon, geniet die warmte van die vuur agter die spreker wat sy silhoeët glimmend met ’n oranje buitelyn afets (nee regtig; dis waar! Sien wat ek bedoel met “ visueel”  skryf?). Ons Spreker die Skrywer praat oor ander skryfwerk, soos dramas, byvoorbeeld Lewensreg, waarvoor hy pryse gewen het. Hy vertel van die advokaat oor wie se eerste hofsaak hy, toe nog ’n joernalis, verslag gelewer het – die man wat ’n vriend geword het, met wie hy kontak verloor het en wat toe uit die verlede teruggekom het met die voorstel om van Roepman ’n fliek te maak. Van Tonder was eers skepties - ander mense het ook al sulke idees gehad. Later sou ’n Nederlandse regisseur weer die storie wou verander. Gelukkig het Piet de Jager dié Kaas toe met Paul Eilers vervang.

Van Tonder is baie tevrede met die film, die eindproduk in sy geheel: die akteurs was ook almal goed, en soos John Kannemeyer ook genoem het, was die hoofrol ’n moeilike een; om ’n jong seun te vind wat die rol dwarsdeur goed sou vertolk ... en Van Tonder lig toe die sluier oor die keuse van John-Henry Opperman as Roepman. Hy het self lankal besluit dat hierdie lid van die musiekgroep Klopjag die rol moes speel, sou daar ooit ’n film van Roepman gemaak word, en toe gebeur dit! Van Opperman se kant was dié ook baie beïndruk met die boek. So: die regte man op die regte plek én tyd.

Oor die boek wat ’n film geword het, sê Van Tonder dit was nogal moeilik om van die boekkarakters “dood te maak” deur hulle nie in die film te laat “leef” nie – en omdat daar heelwat outobiografiese elemente in Roepman is, is daar regte mense wat nou vir hom kwaad is – hy het “hulle” immers “doodgemaak”! Hoewel mense dikwels sê dat vir films soos dié daar dele bygeskryf moet word wat nie in die boek was nie, moes hy dele weglaat. Oor die outobiografiese aspekte laat hy val dat hy wel ook iemand afgeloer het wat gebad het en dat sy suster se man ook in die werklike lewe weggestuur is weens godsdiensverskille. Soos hy gesê het: hy kyk af by die lewe en dis dalk hoekom hy, en sy werk, so eerlik en oortuigend oorkom.

Oor die film sê hy dat hy bly is dat hy in die skiet van die film geken is, al was hy net ’n week lank op die stel, wat in Springs geskiet is, en wat beteken het dat die doodgerypte grasperke met groen kleursel bespuit moes word sodat dit soos Durban kon lyk. Inderdaad bied die skryf van filmdraaiboeke nuwe uitdagings: hy het gaan oplees – insluitend Screenwriting for dummies – en hy het geleer dat hoe minder dialoog in films voorkom, hoe beter (soos met No country for old men, sê hy); en Jamie Uys het hom dié wenk gegee: “Los die feite, vertel die stórie.” Nogtans was die uitbeelding van die karakters vir hom moeiliker as in die geval van ’n boek, dalk selfs as in die geval van radiodramas, wat hy ook al gedoen het.

Een ding is seker, sê Van Tonder, hy skryf nie vir effek nie, hy wil nie mense skok nie, al hoop hy tog hy ráák sy lesers. En, voeg hy by, van al die skrywers wat hy al gelees het, het Chris Barnard hom die meeste beïnvloed. Hy voel bowenal die lewe is ’n storie en ’n storie is die lewe (lees: moet sóós die lewe wees). Maar Jan van Tonder is duidelik nie iemand wat lank ernstig kan wees nie: hy noem half tersluiks dat hy ’n komedie geskryf het vir Aardklop “oor die amoreuse deel van die lewe wat, soos mens ouer word, al hoe meer klugtig word”. Sy humorsin in ag geneem, klink dit nogal na iets wat beleef moet word!

Toe is dit vraetyd en sommer baie mense wil hulle stuiwers ingooi. Eerste vraag: hoekom skryf hy? Hy lyk effe uit die veld geslaan – dis iets wat mens móét doen, sê hy, maar hy weet nie regtig nie. Dalk help dit dat hy nie kinders het nie. Hy voeg by: “As ek nie skryf nie, raak ek erg onaangenaam.”

Maar skynbaar kan die gehoor nie dít van die innemende man glo nie en iemand vra toe vir Kannemeyer hoekom mense skryf. Sy antwoord is effe dramaties-geheimsinnig: “Daar is ’n demoon in mens”, wat wel aansluit by Van Tonder se antwoord oor die “onaangenaam” word – ek neem aan hulle bedoel dat spanning in mens opbou wat uiting moet kry, want dit kan ek nogal verstaan.

Die ander skrywer in die gehoor is PJ Haasbroek, en hy word óók dié vraag gevra. Sy antwoord is makliker om te begryp: hý skryf om dinge vir homself verstaanbaar te maak. Maar, sê hy, dan word dit soms amper toevallig ’n storie. Dís weer moeiliker om te verstaan, altans vir diegene wat nie self skryf nie – só maklik kan dit mos nie wees nie!

Duidelik is daar nie ’n maklike antwoord nie en om dinge verder te beduiwel, doen verskillende skrywers dit om verskillende redes.

Nog vrae het deur die lang vertrek getrek en die aand nog verder gerek, maar uiteindelik kom alle goeie dinge tot ’n einde. Om sy deel van die verrigtinge af te sluit het Van Tonder een van die vrae netjies gevang en, met kleurvolle humor toegedraai, teruggestuur na die vraesteller: “Wat, meneer Van Tonder beveel jy aan – moet ek eers die boek lees of eers die fliek gaan kyk?” Hy kyk haar aan met ’n droë blik en sê: “Die eerste ding wat jy doen, gaan koop die boek.” Toe voeg hy by: “Ek het toevallig ook éérs die boek gelees.”

Haasbroek doen toe die bedanking en sê sy grootste kompliment aan Van Tonder is dat hy met Roepman iets vir Suid-Afrika gedoen het wat al ’n rukkie in Australië aan die gang is – ‘n filmbedryf word daargestel wat ’n belangrike uitvoerproduk sal word. Hy hoop dus dat Jan van Tonder nog etlike draaiboeke sal skryf. En ons almal hoop natuurlik dat daar eers ’n boek vóór elke film sal wees. Want soos Van Tonder, hou ons van die reuk van ’n nuwe boek alvorens ons ons eie prentjies begin maak, al lesende.

Ons hoop ook daar sal nog talle sulke aande in die kelder van Koopmanskloof wees ... en met daardie wens is ons heelwat later weer met die hobbelrige paadjie terug huis toe. Maar heelwat stadiger. Ons kronkel deur die laning versadiger as luislange – na liggaam én gees.

Eers die volgende oggend soek ek “Jan van Tonder” op die internet, en tevrede dat ek gewapen is met name en datums, skryf ek oor Roepman in die Kloof en veral oor ’n sagmoedige man wat eens op ’n muur gesit het met ’n drang na ontvlugting. Die nasmaak is steeds aangenaam, soos goeie wyn en goeie herinneringe altyd mos is.

Een nagedagte oor die vloekwoorde-in-boeke-probleem. Miskien kan die skrywer hom/haar as volg verontskuldig: Soms wil mens so graag goed skryf dat jy begin mooi skryf en die ironie is dat mooiskryf nader aan swak skryf is as wat lelikskryf aan goeie prosa kan wees ... of so iets.