Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Skool gaan met Theo hopelik nog ver loop


Francois Verster - 2011-09-16

In die saaltjie agter die Breytenbach-huis in Wellington met sy tekeninge en aanhalings teen die mure weerskante ’n eklektiese versameling stoele is ’n verhogie met ’n swartgeverfde agtergrond en ’n groot bos blomme. Die blomme is meestal pienk, dieselfde pienk van die enkele kussing op ’n turkoois rusbank langs sy maat, ’n ewekleurige leunstoel.

Uit die dakluidsprekers rol die ronde, warm klanke van kitaarmusiek terwyl mense stadig by die deur insypel en algaande die musiek na die agtergrond skuif met hulle vrolike stemme. Dit groet en dit gesels, soos Wellingtonners blykbaar maak, en so word elkeen gehelp aan wyn, sitplek en geselskap, almal afwagtend op die uitgewer, Riana Barnard, en die voormalige uitvoerende hoof van die sentrum, wat vanaand ook die gas is: Theo Kemp, outeur van Skool, die boek onder bespreking.

Barnard met haar treffende haredos herinner my aan die strokiesreeks Peanuts, waar die een karakter altyd gesê het: “But I have naturally curly hair.” Soos die karakter het Barnard rede om trots te wees op haar natuurlike hooftooisel wat letterlik ’n stralekrans in die skerp lig op die verhoog vorm. Kemp is sy gewone sardoniese self, skynbaar verras om die fokus van die aandag te wees, en in my verbeelding raak hy ’n Afrikaanse Bob Newhart met báie meer hare.

Barnard val vinnig weg met ’n “strikvraag”: “Die skrywer is meer as die verteller in die boek. Hoekom?” Kemp antwoord dat hy sy eie reaksies, sy gevoelens, wou beskryf om te probeer verstaan wat hy doen en wat hy ondersoek – dus sy aksies en sy tema, sy ondersoek én dit wat hy ondersoek het.

Inderdaad ’n bekvol, maar dit dui reeds met die intrap dat die boek ook is soos Günther Grass se bekende ui-metafoor: jy skil die lae af soos jy dit lees. En dit maak die boek meer as ’n verslag oor ons tragiese onderwysstelsel. Volgens Kemp het hy ’n karakter voel ontwikkel wat wel sy naam het, maar nie nét hy was nie, tot dit later glád nie hy was nie. Hy speel algaande met feite en fiksie, nes hy met die leser speel en hom/haar intrek by die spel. Die onbeholpe hoofkarakter is ’n oordrewe weergawe van Theo Kemp, wat geen opvoedkundige is nie en dus eerder sy ervarings weergee as ’n klinies-wetenskaplike kommentaar. Hy wil die leser op ’n emosionele vlak raak via sy storie en dus met meer as net die feite.

Barnard vra hom oor die onlangse busramp naby Knysna en hy antwoord: “Mens sou ’n boek kon skryf oor kinders wat doodgaan op pad skool toe.” Hy vertel toe van ’n persoonlike ervaring tydens sy eie skooldae, wat dalk ’n rede vir sy latere reis ná en mét hierdie boek was: hy het ook eens bus gery skool toe, maar soos ná elke onderhoud in die boek, weet hy hy kon terugkeer na sy veilige wit bestaan. Hy is kwaad, soos in die boek, oor die regering se versaking van sy pligte, die nalatigheid waarvan busrampe simptomaties word, dít wat sigbaar is van die vrot, pruttende onderbou. Dis onaanvaarbaar. Watter soort samelewing is dit? vra Kemp.

Barnard knik: “Jou boek is ’n poging om mense wakker te skud.”

Kemp: “Ek weet nie of dit enigsins gaan help nie. Mense sal die boek neersit en niks sal verander nie.”

Barnard vra wie wil hy hê moet Skool lees.

Kemp antwoord: “Iets moet verskuif.”

Barnard verander koers na ’n ligter luim en vra: “Hoe het jy bygelieg?”

Kemp lag: “Wat waar is, is die onderhoude, maar met die redigering kon ek nie alles behou nie, nie elke onderhoud gebruik nie, en sekere detail is weggelaat en op ander plekke is ... verhelder.”

Was daar elemente van hoop en geluk? vra Barnard, en Kemp antwoord: “Ja, soos die blommetjies op juffrou se lessenaar te midde van chaos daar buite”, maar hy wou skryf oor wat verkeerd is, nie oor wat reg is nie. Hy voel nou dat hy steeds niks weet nie en dat die kompleksiteit van alles in hierdie land skrywers nie moet laat swyg nie; hulle moet probeer om kwessies “oop te skryf”. Dis ook elke burger se taak om nie op die regering te wag nie, maar eerder nóú groot te word en dinge self reg te maak. Dit moet ons langtermynperspektief op die toekom wees.

Hulle praat nog oor Kemp se studie en sy vorige betrokkenheid in die uitgewersbedryf, oor keuses van voorbladontwerpe – soos dié van Skool: die simboliek (skooldas wat ’n galgtou kan word; die agterblad waar die diktafoon ook iets probeer sê, wat ook eintlik as ’n karakter in die boek misbruik is deur sy oorweldigde medekarakter, die ander Theo Kemp, karikatuur van die onbeholpe verslaggewer.

Dié karikatuur wat vir my as die volgende skakel in die vertellerketting voorkom, soos die disproporsionele beeld wat ’n kind in ’n gebuigde spieël sien. Is dit hy wat hy sien? Hy staan nog nader. Kyk en kyk tot sy oë traan. Hy probeer hard om te sien – gee hom punte dáárvoor ... Want anders as Alice weet hy wel die gekkeparadys is hierdie kant van die spieël. Hy weet dat wat agter hom sigbaar raak, deel van sy eie onvolmaakte omgewing is. En ... kyk – nóg mense staan nader om oor sy skouer te loer.