Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die Malema-haatspraak-uitspraak


Danny Titus - 2011-09-16

Die een ding wat vir my belangrik is in die Malema-haatspraak-uitspraak is die feit dat daar wel ’n uitspraak is. Die proses verder is die appèlprosedures wat nou nog moet volg. Die ANC het aangedui dat hulle appèl gaan aanteken.

Die reaksies op die uitspraak bevestig verder hoe verdeeld ons steeds is as ’n nasie, as ons enigsins ’n nasie is. Malema het reeds aangedui dat hy gaan appelleer. Volgens hom het die Gelykheidshof apartheid by die agterdeur laat inglip. “Die onderdrukker het te veel selfvertroue gekry en ons het hierdie ruimte toegelaat. Die tyd het aangebreek dat ons die onderdrukker op sy plek moet sit. Ons word alweer ondergeskik gestel aan ’n wit minderheid wat bepaal wat ons mag doen, en ons moet dit stopsit.”

Ander partye is weer hoogs tevrede met die uitspraak. Beeld vind die uitspraak ’n belangrike en welkome bevinding. Dis “gewortel in die Grondwet en ’n puik voorbeeld van die voortreflike peil wat ons van ons regbank verwag”. Dit sal hopelik vir die regering en die ANC ’n “wekroep wees tot groter deernis vir die verskriklike vrees om vermoor te word waaronder kwesbare boere en plaaswerkers daagliks weens plaasaanvalle leef.”

Die DA vind die uitspraak aan die ander kant verkeerd, omdat dit die verbod op almal en in alle omstandighede van toepassing maak. Die Grondwetlike Hof sal hom nou oor haatspraak moet uitspreek, sê Dene Smuts van die DA.

En so kom daar helder en duidelik na vore die diepe verdeeldheid in ons samelewing.  Mens sou dink dat die hofuitspraak begroet sou word met: “Ons berus ons by die uitspraak”, maar nee, verre daarvan. Die appèlproses is natuurlik oop vir almal en die ANC is heeltemal geregtig om alle moontlike regsmiddele uit te put. Maar Malema neem die punt veel verder: Hoe demokraties is die regterlike prosesse? vra hy. Die uitspraak wys duidelik dat die howe en die regterlike mag nog nie getransformeer is nie; en as “nie getransformeer nie” “rassisties” beteken, laat dit dan maar so wees, sê hy. “Die regter neem ’n besluit op sy eentjie dat die song of the people verbied moet word, en ons moet daarmee saamstem en sê dis goed so, dis demokrasie, die regbank is onafhanklik? En ons mag dit nie aanveg nie? Dis tog ’n onbillike praktyk.” Dus: ons regbank is ongetransformeerd, rassisties, en ondemokraties. Hieroor is daar lank reeds helderheid en as die president van die ANC Jeugliga dit nie verstaan nie, sal sy regsverteenwoordigers en die ANC regsmense hom spoedig hierin moet oplei.

Transformasie en rassisme op die regbank is van daardie wollerige terme wat veel meer substans moet kry wanneer dit geuiter word. Gaan kyk gerus na die regters van die Grondwetlike Hof: Moseneke, Ngcobo, Chaskalskon, Langa, Mogoeng. Ongetransformeerd? Rassisties? Kyk maar na die ander howe, tot die landdroshowe. Ons sal moet verder delf oor die howe en transformasie.

Ons kan nie alle konflikbeslegting aan die howe wil oorlaat nie. Die Menseregtekommissie kyk na ’n nasionale dialoog oor haatspraak. Ons moet gewoon meer gesprek met mekaar oor hierdie aspekte voer. Die skreeu-dialoog van die dowes moet omgedraai word. Ons sal veel meer moet luister na mekaar. Die diversiteitsuitdagings van Suid-Afrika is juis dit: ons moet mekaar se politieke standpunte aanhoor en verstaan, ons herkomste, ons taalvoorkeure. Ons moet ons verskille op die naam noem en inbind in ’n nasionale projek van saambou aan ’n ander Suid-Afrika. ’n Malema-Suid-Afrika en ’n Afriforum-Suid-Afrika is vir my ewe verwerplik. Die howe is daar om ons te help in die proses, maar soos met die Nasionale Vredesakkoord teen die geweld van die tyd en die verkiesing van 1994 bly die Mandela-opsie vir my steeds die raamwerk wat die rigting aanwys. Sing jou eie toontjie ietwat laer en harmoniseer met die vernuwing van ons land.








<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<