Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

“Awudubule ibhunu” – shoot the boer


Cornelius Thomas - 2011-09-16

Mens kan sê ’n klassieke geval van haatspraak is “bululani abathakathi” (“maak die towenaars dood”). Alhoewel apokrief, is hierdie stelling aanduidend van vrees en haat vir “die ander”, en toe-eiening. In 1952 is daar gesê “Kill the Romans” en suster Aidan Quinlan is vermoor en gekannibaliseer. Later het die PAC se “militêre vleuel”, Poqo, gesê “kill the amaBhulu”. In die sewentigerjare is “impimpi” gegil en is daar doodgemaak met brandende bande om onskuldige nekke. In die laat 1980’s is daar getoyi-toyi en gesing “Shoot ... shoot to kill ... ta, ta-ta.” Ironies het die laaste uitdrukking nie ’n militêre konfrontasie met die staatsmagte tot gevolg gehad nie.

Regter Colin Lamont het dit reg dat slegs een woord volksmoord kan ontketen; een beskuldiging kan xenofobie tot gevolg hê.

Deel van die probleem in die nuwe Suid-Afrika is die ongesonde klem wat akademici, politici, en opinie-pundits die afgelope tyd op identiteit geplaas het. Daar word aangevoer dat dit gesond is, dat dit mens anker. Dit is waar – mens moet tog trots wees op taal, godsdiens en skeppende uitdrukking, maar die ankering beteken noodwendig die “othering” van die “ander”. Sodra ons sê “ek is”, sê ons ook “die ander is nie”. Of dit ‘n positiewe diversiteit is al dan nie, maak nie saak nie, ’n Manichese opposisie is opgestel.

Identiteit, deur self of afgedwing, noop mense om “racial separations” te maak en “die ander” te definieer. En as dinge skeefloop, word daar tot geweld oorgegaan. Die geskiedenis is deurspek met die demonisering van “die ander”, of dit nou Jode was of Indiërs of sigeuners of Tutsi’s.

Ek wil voorstel dat dit juis die vrees van “die ander” is wat geweld aanmoedig, soos in geval van die vrees dat vreemdelinge wat kwansuis ons hulpbronne kry en verorber, die vrees dat hulle ons van werkgeleenthede sal ontneem, dat hulle “parasitiese” markdominerende minderhede is en dus uitgeroei moet word.

Maar identiteit floreer op meer as vrees; daar is ook rassisme (mag) en toe-eiening; daar is ook die houding dat ons verontreg was en nou mag ons dinge regstel (wraak neem). Die proses begin deur “die ander” te teiken.

“Kill the Boer; kill the farmer” is ’n opposisionele scenario; dit het motiewe. In wese is die lied ook ironies en oneerlik.

Ironies was die lied kontekstueel tuis in die “struggle”, maar is dit nooit regtig tot uitvoering gebring nie. In stede daarvan dat die Afrikanerbeheerde staat aangeval is, is swart burgerlikes aangeval, en hier praat ons van halssnoermoorde.

Dis oneerlik, want daar word aangevoer dat die lied deel van die “struggle”-kultuur is. Maar die struggle is verby en die ANC regeer amper sonder opposisie.

Daar is twee verdere aspekte wat die lied uitlig.

Eerstens, dit gaan oor rassisme – die aanwend of misbruik van mag, spesifiek politieke mag, om die “ander”, merendeels die swakkes in ’n samelewing, te benadeel. Net soos onder apartheid.

Die toepassing van mag teen die “ander” lei ook tot ’n kultuur van toe-eiening. Ons is etniese Afrikane en dus moet ons die werke, kontrakte, tenders, beurse en toelatings kry – ongeag meriete.

Tweedens gaan dit oor grond. As ons terugkyk na plaasmoorde in Suid-Afrika en Zimbabwe, asook Kenia tydens die Mau-Mau-tydperk, weet ons dat onskuldige boere aangeval is. En aangeval gaan word. Die krygsgeraas is nie kultureel of neutraal nie. Dit laat oergevoelens van verontregting ontwaak: ons land is gesteel; ons wil dit terughê. Die swart mense in Suid-Afrika wil egter nie grond hê nie; hulle wil die Afrikaner-boere se ontwikkelde plase hê.

Regter Lamont van die Gelykheidshof is korrek. Niemand mag tog “Kill the kaffir” sing nie. Te min sake word egter na hierdie hof geneem, en dus kom die nuwe rassis met moord weg. Ook konstitueer die lied verbale geweld. Die uitspraak plaas Suid-Afrika op ’n konstitusionele mespunt. Sal gehoor gegee word aan die hof se uitspraak? Ek twyfel. Sal die staatsinstrumente hul statutêre pligte uitvoer wanneer die lied gesing word? Ons sal maar sien. Hierdie moontlikhede plaas die publieke veiligheid in gevaar. En as die publiek in gevaar is, moet daar gevrees word vir ons konstitusionele demokrasie.








<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<