Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

’n Bietjie meer regs, baas Jack


Marius Ackermann - 2011-09-16

Selfs die CIA se enigsins oningewyde snuffelaars kon onmiddellik agterkom waar Fanie Verspuy se hart sit. Stapels lêers en ’n verweerde mat kry jy in elke staatsdienskantoor, maar hier is dit die mure wat praat: ‘n jeugdige Naas Botha wat die leerbal sool, ‘n lugfoto van die Uniegebou en ‘n landsvlag wat in drie kleure waai, ’n bebloede Thys Lourens wat die Curriebeker omhoog hou en, in die ereplek, ’n ou foto wat bevestig dat wat verbrou is, is verbrou: Ellispark, 6 Augustus 1955, en Jack van der Schyff het pas met die belangrikste skop van sy hele loopbaan misluk. Oor, sou die Springbokke wen. Mis, wen die Britse Leeus met een enkele puntjie. Dit was mis. Van der Schyff se kop hang, al kyk die skrumskakel die bal nog angstig agterna. Agter die suidelike pale juig die nieblanke pawiljoen. Origens swyg die mure: g’n familiefoto’s, niks, want op 59 is die heer Verspuy onomkeerbaar oujongkêrel.

Fanie se pa was daardie dag op Ellispark. Van jongs af het sy pa na die foto gewys en die betekenis van daardie laaste skop by sy seun ingeprent: "Jy gaan eendag in Van der Schyff se skoene staan. Jou lewe soos ’n rugbybal in jou hande hou. Oor vir wen, mis vir verloor. En as dit mis is, het gedane sake geen keer nie, kan mens dit nie regbuig nie. Jack van der Schyff het nooit ooit weer vir die Springbokke gespeel nie!"

Ander ouens se pa’s het met hulle gepraat oor politiek, karre, meisies, wat hulle ná skool gaan doen, daai soort goed, maar nie Fanie se pa nie. Die verbroude skop is keer op keer opgehaal: "Moenie iets doen wat jy nie kan regbuig nie, moenie soos Jack van der Schyff …"

Fanie se pa was ‘n handige man. Hy het by ’n tweedehandse winkel ’n stukkende bandspeler raakgeloop en dit reggemaak. Boonop het hy êrens ‘n bandopname van Johan de Bruin se radiokommentaar van die toetswedstryd raakgeloop. Fanie se ma was nie iemand vir praat nie. Saans ná ete het Fanie se pa gewoonlik eers deur die koerant geblaai, nuus geluister, en vir Fanie aangesê om die bandspeler nader te bring. Dan het Pa met groot sorg die groot bandopnamerol uit die buffetlaai gehaal en in die masjien gesit. Fanie se ma was teen dié tyd klaar in die kombuis en reeds kamer toe. Met elke aand se luisterslag was dit asof Pa gedink het die uitslag sal dié keer dalk anders wees. Eers loop Suid-Afrika voor, dan die Britte. Met die telling 23–11 lyk alles verlore, maar twee drieë, en die Bokke is skielik binne trefafstand. En dan, in die doodsnikke van die wedstryd, swenk Teuns Briers tussen ’n trop Leeus deur en duik langs die hoekvlag oor, hoofpawiljoenkant van die veld. Elke aand sien Fanie hoe sy Pa vorentoe skuif, oë stip op die los matjie voor hom. Dan beskryf Johan de Bruin die ou, ou verhaal, die nasionale ramp, met ’n snik in sy stem: "Jack van der Schyff kom vorentoe en hy skop … Dis links verby … Suid-Afrika verloor die toets met een enkele puntjie!"

Die Van der Schyff-foto het saam getrek, van rooibaksteenhuis na rooibaksteenhuis.

In Fanie se matriekjaar is sy pa dood. Fanie het in die halfdonker kamer na die versonke gesig teen die kussings gekyk, en vir die eerste keer gewonder of sy pa dalk die een of ander tyd in Van der Schyff se skoene was. Of daar dalk iets gebuig het wat selfs iemand soos sy pa nie kon regbuig nie.

Die klop aan Fanie se woonsteldeur klink hoflik, maar beslis. In Sunnyside maak ‘n man deesdae nie sommer jou deur oop nie, en so deur die loergat takseer Fanie eers die twee figure onder die ganglig. Lyk na ordentlike manne, en hy nooi hulle in. Daar is iets geheimsinnig aan dié twee jasdraers, dink Fanie. Klandestien.

"We don't blame you for being somewhat suspicious, Fannie," begin die grootste een van die twee, en vroetel in sy binnesak. "Thanks for inviting us in. I'm Webster T Brown, and this is Rob Gurr. We're both CIA." Fanie bekyk die aanstellingkaarte sorgvuldig. Hy knik, maar sy blik vra vir ’n verduideliking.

Die redes vir die besoek neem stuk-stuk vorm aan. Hulle was by sy kantoor. Ná ure, bely Webster T Brown.

Fanie se wenkbroue lig, maar hy sê niks.

Webster T Brown se stem sak. Daar is baie konflik in die wêreld, en Washington het ’n belang daarby. Vandaar die belangstelling in ’n plek soos Suid-Afrika waar die stryd uiteindelik vreedsaam bygelê is.

Why me? wil Fanie nog vra, maar die manne lees sy lippe. Washington stel belang in wat mense dink, meer in besonder iemand soos old-school Fanie Verspuy wat nog met die een voet in die ou Suid-Afrika staan.

Fanie weet nie heeltemal waarheen die CIA mik nie, maar hy laat hulle praat.
En dit doen hulle soos net Amerikaners kan. Met die derde beker Frisco is alles duidelik – vreemd maar duidelik: Washington is nie net nuuskierig nie, Washington is ook slim. Hierdie ouens kan hom terugstuur, die verlede in. Die keuse is syne – jaar, plek, ensovoorts. Maar daar is voorwaardes: hy kan die gang van die geskiedenis probeer verander, maar hy sal nie oor die mag van lewe en dood beskik nie. Origens geskied die operasie onder CIA-beheer. Hulle verwag nie probleme nie, maar daar is wel risiko’s. Vandaar die belofte van ’n stewige rol dollars by Fanie se terugkeer. En, verseker Webster T Brown hom, hulle verstaan, dis nie sommer vir ja sê nie. Hulle het juis nou die geval van ’n Zimbabwiër wat die sestigerjare in is om vir Ian Smith sy fortuin te gaan vertel en hulle sukkel om hom terug te kry.

Die nagverkeer het al bedaar, maar Fanie lê nog en rondrol. Sy lewe lank was hy te bang om iets aan te pak, en nou? Hy glo die Amerikaners wanneer hulle sê dat dit gedoen kan word. En buitendien: Word sy pa se profesie nie dalk nou waar nie? Dat hy nou met die bal, met sy lewe, in die hande staan? Hy wat Fanie is, kan die 1994-verkiesing se uitslag swaai, maar wat van Nelson Mandela, Francois Pienaar en die Wêreldbeker? Hy sou die polisie en sommer die hele parlement teen Tsafendas kon waarsku, maar die CIA sê mos hy't nie mag oor lewe en dood nie.

Jack van der Schyff! As dit wéér 6 Augustus 1955 kan word, en Fanie kan sorg dat hy daar is, sal hy die Springbok-heelagter aanraai om so ’n bietjie meer regs te mik. Dan hoef Johan de Bruin nie meer met ’n snik in sy stem ’n nasionale ramp te beskryf nie, maar ’n Springbok-oorwinning besing! Dan kan Fanie se pa vir die res van sy lewe gelukkig wees! Met ’n rustige gemoed raak Fanie uiteindelik aan die slaap.

Fanie is skaars klaar met aandete toe die Amerikaners weer aan die deur klop. Webster T Brown noem terloops dat hulle intussen met Washington in verbinding was, en dat daar groot afwagting heers. "As you can see, Fannie, Washington is committed to this project, now how about you?"

"Yes, I have decided," begin Fanie, en sy gaste skuif nader.

"Which year will it be, and what'll be the occasion?" Hulle moet dié dinge weet, verduidelik Webster T Brown. Operasionele detail.

"Johannesburg, 1955," antwoord Fanie sonder skroom.

Webster T Brown kyk skrams na sy kollega. "Interesting choice, Fannie.” Brown val weg met die gebeure op 26 Junie 1955 by Kliptown naby Johannesburg, die aanvaarding van die Freedom Charter. Seker ook maar om vir Fanie te wys dat hulle as Amerikaners waardering vir sy keuse het.

Maar Fanie skuur by Kliptown verby. Sy pa het nooit met hom oor dié dinge gepraat nie. Nooit verduidelik waarom swart mense op die ou Ellispark net op een plek kon sit, en hoekom hulle gejuig het wanneer die Leeus of die All Blacks die Springbokke klop nie. "No, no, not Kliptown, Ellis Park, Johannesburg, 6 August 1955. Rugby international, South Africa against the British Lions. Rugby, you know, the oval ball …?"

Webster T Brown klink dié keer minder entoesiasties.

Fanie verduidelik die ding van die skop. Jack van der Schyff se skop.

"Is that the photograph in your …" begin Webster T Brown.

“My office, ja! Look, I want to be on the grandstand touchline. It’s crucial that I'll be there during the last minutes of the game."

Webster T Brown lag gerusstellend, soos net iemand wat namens Washington praat, kan doen. "Don't worry, you'll have a window seat on your journey into the past. The few minor operational details are our responsibility, but still … Now have a look at this letter of consent, will you? Only a draft, only a draft, read it in your own time. It’s just that Washington has been a bit touchy since the case of the Zimbabwean …"

Fanie lag. Nee, hy sal terugkom, hy sal terugkom.

Die Amerikaners het wragtag woord gehou. Fanie staan op die kantlyn, vlak voor die hoofpawiljoen. Ou Ellispark is vandag koud en winderig, en die veld lê soos ’n vaal hoëveldse tapyt voor hom uitgestrek. Die voorwedstryde is pas verby, en die hele stadion bewe van opwinding. Sy pa was reg. Hier’s vrek baie mense. Nagenoeg negentig duisend. ’n Rekord, het sy pa altyd gesê. Waar sou sy pa wees?

Fanie kyk af, en hy skrik. Sy klere is wit, maar sy hande swart. Hy voel vervaard oor sy gesig. In sy broeksak vind hy ’n haastige nota van Webster T Brown: "Sorry, my friend. Options limited. You're the ball boy. Job reservation, you know." Langs hom is ’n skinkbord vol halwe lemoene, en alles word meteens duidelik. Rustyd moet hy dié aandra, en met afloop van die wedstryd hoekvlaggies uittrek. Tussendeur die bal aangee. Van dié kant van die kantlyn af, natuurlik. Niks meer as dit nie. Vandag ’n besluit neem wat die geskiedenis gaan draai? Ha!

Die bal word afgeskop en die skare brul. Dan en wan sug dit van teleurstelling wanneer ’n Springbok verbrou. En die stryd is verwoed, feller as wat Johan de Bruin ooit kon beskryf. Alles gebeur hier vlak voor Fanie: Van Vollenhoven, Chris Koch en Johan Claassen, name wat Fanie op vadersknie leer ken het, hardloop met hoewegedonder heen en weer voor hom verby, hulle groen truie gou donker van die sweet.

Die Springbokke kry ’n strafskop en Jack van der Schyff staan nader. Moet hy die man nou bedag maak op wat later gaan volg? Vir die witkopseuntjie wat die sand aandra sê om hom te waarsku? Hy probeer die seun se aandag trek, maar dié kyk nie eens na hom nie.

Rustyd. Hier’s sy kans! Flink dra hy die skinkbord met lemoene na die kring groen truie. Kaptein Stephen Fry praat hard met sy manne. Jack van der Schyff is deel van die kringetjie. ‘n Groot man, nommer 15 op die rug. Gee aan en waai, beduie een van die ander spelers, oë stip op sy kaptein. Fanie weifel ’n oomblik, maar maak toe so.

Rustyd is skaars verby en Cliff Morgan glip soos ’n skaduwee verby Basie van Wyk en gaan druk agter die pale. Demmit, hy kon die Springbokflank op sy hoede geplaas het! Hy het mos gewéét dit gaan gebeur – Johan de Bruin het dit dan altyd so mooi beskryf.

Dit word laat, en Ellispark se hoofpawiljoen gooi ’n lang skaduwee oor die veld. Die Britte loop voor, maar die Springbokke kruip nader. Fanie voel hoe sy hart al hoe vinniger klop. Elke duikslag, elke skêrbeweging is stukkies van ’n legkaart in aanbou, ’n legkaart wat hy so goed ken. Sal hy in die laaste minuut met die oorblywende stukkie in sy hande staan? Laaste oomblikke, laaste geleenthede. Hartslae wat al hoe harder word.

Toe gebeur dit – blitsvinnig, al is Fanie dit te wagte. Theuns Briers kurktrekker langs die hoofpawiljoenkantlyn af en duik naby die hoek oor. Fanie sukkel om by te bly, al agter die witkop-sandemmerseun aan.

Die skare kom weer tot bedaring toe die betekenis van die skop wat wag, tot hulle deurdring: oor, wen; mis, verloor. Beide kante met een puntjie. ’n Afwagtende stilte daal oor Ellispark en oor gans Suid-Afrika.

Te hel met werkreservering, besluit Fanie, en gryp die sandemmer by die blondekop-knaap. Die seun kyk hom oopmond aan, té oorbluf om te protesteer. Vir ’n paar oomblikke tik Ellispark se horlosie soos hamerslae in Fanie se kop. Hier staan hy op die kantlyn, en sy bene is lood. Jack van der Schyff staan klaar met die bal in die hande, en hy kyk al om.

"Toe, toe man, hy wag vir die sand!"

Die stem kom van iemand vlak agter Fanie, en die stilte laat dit nog harder klink. Harder en kwaaier. Fanie swaai om, want die stem klink bekend. Dis sy pa, dis wragtag sy pa, nogal met die mynspan se blazer en al! Hel, daai hoofpawiljoensitplek moes sy pa ’n fortuin gekos het, dink Fanie. Hy’s skielik lus en los die emmer sommer net daar. Laat die bal trek waar hy moet trek, maar laat hy net sy pa loop dagsê.

Twee dinge keer hom, steek skielik soos messe in die gras voor hom vas: die hand wat hy by voorbaat na sy pa toe uitsteek, is nie sy eie nie, en die hand wat so styf aan sy pa se boarm vasklou, is nie sy ma s’n nie.

Sy pa skree weer, en in ’n oogwink is Fanie by Jack van der Schyff. Terwyl die Springbok-heelagter ’n hopie sand op die gras uitgiet, bekyk Fanie hom. Groot en bruingebrand, met so ’n potloodsnorretjie. Nie die soort man aan wie jy stamp en sê “Hei! Mik ’n bietjie meer regs” nie. Veral nie as jou hande nie jou eie is nie.

Fanie maak keel skoon, maar Van der Schyff kyk nie na hom nie, net beurtelings na die bal en die pale. Dis sy werk om sand aan te dra, besef Fanie. Niks meer nie. Hy kan nie soos ‘n boss boy hier rondstaan en seker maak of die skopper sy werk doen nie.

Maar Fanie het ’n afspraak met die geskiedenis. "’n Bietjie meer regs,” probeer hy. “Jy moet ’n bietjie meer regs mik …"

Van der Schyff kyk nie om nie, stel net versigtig aan die bal. Tommy Gentles, die skrumskakel, gaan lê plat op sy maag om die bal vas te hou. Agter hulle gaan sit die skeidsregter, meneer Ralph Burmeister, op sy hurke. Alles, alles, net soos op die foto teen Fanie se kantoormuur. Die foto wat alles wys, behalwe sy pa en die vreemde vrou.

Fanie moet padgee, en gou. "’n Bietjie meer regs, baas Jack," sê hy hard en duidelik met die wegstap, maar dis so goed hy praat met die nommer 15 op die man se rug.

Hy hoef skaars om te kyk. Die skare se kreun en die nieblanke pawiljoen se gejuig sê alles. Dis vir Fanie asof hy hier op die veld die snik in Johan de Bruin se stem kan hoor. Die eindfluitjie is skril. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om weer vir sy pa te soek, maar die malende mag der menigte maak dit onmoontlik.

Hulle is in sy woonstel toe Fanie arriveer. Webster T Brown en sy kollega lyk verlig, maar hulle gretigheid om van sy reiservarings te verneem, kry sommer gou oorhand.

"Devastating," is al wat Fanie kan uitkry. "Nobody wanted to listen to me". Hy kyk na sy hande, voel oor sy gesig. Hy wil-wil ook van ander dinge vertel, van dinge wat toe al die tyd gebuig was, maar hy doen dit nie. Hy wil eers dink.

Lank ná die Amerikaners se vertrek, lank ná hulle herbevestig het die dollars is so te sê op pad, lê Fanie op sy bed na die plafon en staar.

Fanie dink aan Ellispark se menigte. Sy pa was reg, dit moet ’n rekordskare gewees het. Hoeveel mense was by Kliptown, ‘n paar weke tevore? Hy weet nie. En hy wonder hoeveel van die Kliptown-skare op die nieblanke pawiljoen agter Ellispark se suidelike doelpale sou inpas.

Fanie dink aan die duur rugbykaartjies en ’n verslete sitkamerstel. Aan Ellispark se groot pawiljoene en ’n klein rooibaksteenhuis. Aan die vashou-vrou aan sy pa se arm en sy eenkantma in die kombuis. Aan die vreemde vrou se oop, wye mond, en die dun lyn van sy ma se mond.

Sy pa was reg. Jy staan met die bal in jou hande. Is dit mis, is dinge gebuig, en kan jy dit nie regbuig nie. Jack van der Schyff het nooit ooit weer vir die Springbokke gespeel nie. En Fanie dink skielik aan sy pa en die bandopname van die radiokommentaar. Die kommentaar waarna hy en sy pa elke aand geluister het nadat sy ma kamer toe is. Hoe dit elke aand gelyk het asof sy pa gehoop het die uitslag sal dié keer dalk anders wees.

Foto: Ivor Haines