Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Kampsbaai, 28 November 1999


Sonja Cilliers - 2011-09-15

(liefde in die tyd van bomme)

St Elmo’s Pizzeria. Hy is eerste hier. Staan solank nader. Table for two please. Sy hand voel so oor sy baadjiesak. Ja, dis nog daar. Dan: hy voel arms om hom glip, net so onder sy naeltjie verby. ’n Effense, hemelse blommegeur meng met die rokerige warm kaasdrifsels van binne. Dis sy. Beskermend glip sy binnevoorarm oor sy baadjiesak en vat hy haar polse vas in die omdraai na haar toe. Hallo. Parkering was nag, die plek is besig vir ’n Sondagmiddag. Follow me, sir.

Sy steek ’n sigaret op. Sy loer na hom deur die spiraalrook wat sy subtiel by haar mond laat uitsypel, trek die spyskaart nader. Lus om te deel? Met wat op? Dalk olywe, ansjovis?

En toe kan hy niks hoor nie, net ’n suising. Hoes. Wat nou? Iets tref sy kop – hy vat-vat. Bloed aan sy hand. Rook in sy neus, ’n ander rook, stofrook. Swart.

Later: hy maak sy oë oop. Raak bewus dat sy arm lam voel. Kom agter hy sit nie meer nie, maar lê – kop teen iets hards, arm vasgeklem. Stoei los. Hy maak sy lam hand oop en toe.

Hy kom half regop, begin rondkruip. Waar is sy? Probeer roep, al wat uitkom is ’n dierse geluid, soos ’n kerm. Oral voel hy bene en arms van ander mense, stamp teen hulle. Hulle is vreemdes, maar ook hulle soek, soos hy. En dan ...

Sy sit teen ’n muur. Haar mou is af, ’n groot skraap oor haar skouer. Haar hande is rooi. Verdwaas. Hy voel oor sy baadjiesak. Dis nog daar. Sy sien hom. Herkenning. Haar wange word nat. Haar mond trek af. Hy kruip nader.