Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Zentron – Derde-kwadrant buiteruimtelike platform, 23 Julie 2211


Oemdhan Pieterse - 2011-09-15

Hoofopskrifte in alle supersoniese hologrammatiese nuusflitse:

“Verstommende nuwe ontdekking ruk die mensdom in sy fondamente.”

“Opgrawings van oerkompakskywe werp lig op menslike evolusie.”

“Planeet Aarde bestaan wel: Twee miljoen ligjare ver.”

Die aap is uit die mou. Bewyse is gevind dat die planeet aarde wel bestaan het. Ook dat dit vroeër deur onderontwikkelde menslike wesens bewoon was. Interplanetêre deurbraak vir die wetenskaplikes. Onbeantwoorde vrae soos “Is parallelle integrasie moontlik?” duik nou al hoe meer in gesprekke op. Die antwoord op bespiegelinge rakende die “missing link” tussen organiese en meganiese dataprosesse van oneindige kosmiese datakoppelings met gepaardgaande aaneenskakelings begin ’n werklikheid word. 

Supersoniese tegnologie tien maal kleiner as ’n mikroskyfie hang voor my oë. Ek skakel hierdie hoëgraadse hologram-projektor met my gedagtes aan. Die donker, onpeilbare poele van haar oë se skadu’s wat my soos spulse magnete aftrek na benewelde hoogtes waar my rede en begeerte woer-woer speel op oerdrange se tamboergedruis. As ek magteloos na benede tuimel in hartstog en versoeking en die lewe se polsslag my opslurp in kuberruimtes van drange en gevoelens. Eers haat ek haar met die passie van verwerping en hartstog. Dan weer die liefde wat ontluik in atomiese uitbarstings van vuurspuwende vulkane en witwarm lawa wat emosies tot aswolke omtower. Steeds brand die agterdog gate in my mondering van geluk. Die selfopgelegde vrese eggo teen my lugkastele se mure van die “dalk’s” en die “miskien’e”. My lewenboei ry wipplank op tsoenami’s van passie en agterdog. Dan haar fluweel-fluistersagte woorde se soet heuning wat drup oor my dorre, droë honger. Ek wat soos ’n ster verskiet in die lugruim na onbesette oop ruimtes van geluksaligheid. Ek wonder hoe dit was jare gelede. Daardie gelukkige tydperk in die mens se geskiedenis voor kloning. Toe babas nog verwek en gebore was op natuurlike wyse. Nou is sy net ’n onbekende beeltenis. ’n Sexy stem uit ’n organiese rekenaarwese. Ek, kloon of mens – niemand weet meer vir seker nie. Half mens, half masjien.

Dalk, net dalk, kan hierdie ontdekking lig werp op die eeue oue vrae: Wie is ek? Waar kom ek vandaan?