Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Wasted on the Young bring niks nuuts na die tafel nie


André Crous - 2011-09-15

Untitled Document

Regisseur: Ben C Lucas
Kamerawerk: Dan Freene
Rolverdeling:
Oliver Ackland, Alex Russell, Adelaide Clemens
Looptyd: 90 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 9 September 2011


Wasted on the Young is ’n Australiese film met onbekende gesigte wat die onderwerp van klas en mag op hoërskool aanraak. In die verlede is heel interessante films al gemaak oor karakters op skool wat geboelie word, of wat voel hulle word deur die res van die samelewing (met ander woorde, die kinders rondom hulle in die klaskamers) geteister omdat hulle nie met elke tree die norm volg nie, maar Wasted on the Young gebruik die kamera, oulike beligting en harde musiek om die film aanmekaar te las.

Hierdie film het ’n interessante idee beet, maar soos in soveel ander debuutfilms is die regisseur te onervare om te weet dat “meer” gewoonlik “minder” beteken. As daar een woord is wat in elke resensie hiervan sal verskyn, dan is dit "styl". Maar pleks van stylvol is dit gestileerd tot op breekpunt. Die skool wat die tieners bywoon lyk eerder soos ’n futuristiese universiteit en vir ’n groot deel van die film dra almal hul netjiese skooluniforms. Voorkoms is uiteraard ’n belangrike tema en die filmmaker sou waarskynlik die vorm van sy film, waarin stadige-aksie-skote soms volg op ’n string ander skote wat teen ’n skrikwekkende spoed bymekaar gesny is, voorhou as ’n logiese uitbreiding van ’n belangrike tema. Ek is nie so seker nie.

In een gesprek is daar sprake van ’n parallelle wêreld en dit is ook wat die film self is: die film lyk met die eerste oogopslag of dit plaasvind in Perth, Australië, in die konteks van rykdom, geld en invloed, maar kinders is totaal en al oorgelaat aan hul eie drange en begeertes, en die wêreld bevat nie ’n enkele volwassene nie. Ja, daar is ’n groot stuk Lord of the Flies aan die kern van hierdie verhaal, maar die regisseur speel rond wanneer hy meer erns aan die dag behoort te lê.

Dis die verhaal van twee stiefbroers, jaloesie en die roekelose misbruik van mag. In ’n privaatskool is Zack die kaatjie van die baan. Hy is die kaptein van die swemspan en sy pa het genoeg geld aan hom beskikbaar gestel om elke aand megapartytjies te hou waar drank vloei, dwelms in neusgate op verdwyn en die seks so hard soos die musiek pomp. Zack hou van los meisies rondom hom en wanneer hy sy oog het op ’n mooi, opgeskote meisie, Xandrie, maar sy haar eerder verkyk aan Zack se baie meer introverte stiefbroer Darren, maak Zack seker dat hy by Xandrie kry wat hy soek, selfs al moet hy dit doen op maniere wat jou hare sal laat rys.

Daar is ’n gewelddadige verkragting wat Zack eenvoudig afskud omdat hy voel hy het die reg om dit te doen en almal rondom hom sal hom beskerm, want hulle wil nader aan hom en sy roem wees as aan die byna naamlose meisie wat nie wil saamspeel nie. Die res van die film draai om die gevolge van hierdie een aand, waarvan niemand behalwe Zack en sy makkers die hele prentjie het nie. Wanneer Zack sien dat die intelligente maar teruggetrokke Darren begin om die stukke bymekaar te sit, is hy bereid om enigiets te doen om te keer dat sy eie reputasie sou wankel.

Wasted on the Young is oorlaai met elektroniese musiek, spesiale visuele effekte en oulike kameraposisies en -bewegings. Soms is die visuele aanbieding heel gepas, maar ’n hele aantal tonele wil ons onkant vang deur te lyk of hulle werklik plaasvind, voordat ons besef dit is bloot ’n fantasie. So ’n spel met die werklikheid kan goed gedoen word, omdat dit wys op die gedagtes en die begeertes van sommige karakters, maar is hier heeltemal te onreëlmatig om enige werklike ritme of fokus te bemiddel.

Wat die film interessant maak, is nie soseer die raaisel rondom die presiese gebeure van daardie aand toe Xandrie haar heeltemal bedwelmd en onwillig in die arms van Zack bevind het nie, en dit is ook nie die ongemaklike romanse tussen haar en Darren, wat ’n weergawe van ’n ridder op ’n wit perd is, nie; dit is eerder die subtiele jaloesie van Zack, wat hoog bo almal rondom hom verhewe is, jeens sy stiefbroer, wat veel meer aantreklik en intelligent is.

Teen die einde van die film maak Darren ’n baie belangrike punt, naamlik dat mense populêr is nie noodwendig as gevolg van hul eie prestasie of charisma nie, maar omdat die mense rondom hulle toelaat dat hierdie persoon bo hulle uitrys. Dit gee ’n belangrike perspektief aan die gebeure van die film, wat soms werklik afgryslik is, maar hoewel die einde min of meer die film goed afsluit, val die sleuteltoneel uit die lug uit en is die presiese gebeure baie onduidelik. Wasted on the Young is ’n goeie poging om die spannings op hoërskool te ondersoek, maar die voorstelling verwyder die verhaal uit ons onmiddellike werklikheid en maak dit eerder ’n impressionistiese dwelmwalm waarvan die stukke nie altyd mooi wil pas nie. Dis niks nuuts om te sê die film is "styl, eerder as inhoud" nie, maar die film self bring nooit juis iets nuuts na die tafel nie.

Gaan kyk eerder die manjifieke Estlandse film Klass, wat in 2007 vrygestel is en tot dusver nog heeltemal te min aandag gekry het.