Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Bloemfontein, 1988


Douwlina - 2011-09-15

My vriend

Dit is al wat ek jou nog noem. Die seer van ons skeiding is jare reeds vergewe, maar die liefde bly. Vreemd is dit nie vir my nie, want ek het altyd geweet dat ek een van daardie mense is wat slegs een keer waarlik kan liefkry. Daarom is die liefde ook nie vir my ’n verleentheid of ’n straf om te dra nie. Ná al die lelik wat om dit kom kleef het, dit omspoel het en dit byna verberg het, was dit maar altyd daar soos ’n gladde koel albaster.  Net tydelik versteek deur dít wat dit bedek het, het dit gewag op die eerste skoon reëns van die voller jare. Nie meer reën met hoop op ’n ryk oes in die vooruitsig nie – net ’n sagte, lawende, koel vertroosting.

Ons seun, wat ons met liefde en verwagting verwek het, met toekomsdrome ontvang het, is waarlik ’n groen olyfboomplant waarop ons trots kan wees. Hy moet die beste pyl in jou koker wees. Ek kan hom verseker dat hy in liefde verwek is. Dis al wat ek hom uit ons samesyn kan bied.

Hy is so vry, so eenders as ons in ons malse jeug en tog so anders met ’n vreemde wysheid vir sy ouderdom wat my hart soms laat kramp in my. Het ons hom so wys gemaak vir sy ouderdom, so te vroeg gepanser teen die seer van die liefde? Hy is so selfstandig, so vreesloos vir die toekoms, ’n jong godekind, ons s’n, myne en joune, en die onlosmaaklike naelstring wat ons vir altyd saambind.

So bly ek dan steeds lief vir jou, maar met ’n nuwe liefde, nie ’n allesoorheersende, seerkry-, bly, man-vrou-liefde nie, maar ’n gesplinterde, getroetelde malie-, alie-, albasterliefde soos ’n gekoesterde kleinood uit kommervrye kinderjare veilig weggebêre in ’n geheime laai.

Nou met ’n nuwe liefde.