Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Bloemfontein, 1999


Maritza Meiring - 2011-09-15

Op die verhoog het jy met kitaar in die hand gerock! Jou rasperstem ’n magneet wat my hele wese binnedring. My hart klop vining. Te vinnig. My hande sweet en my heupe het ’n mind van hul eie. Hul beweeg, asof in ’n dwaal, op die ritme van die musiek wat jy maak. “I wanna touch you, but I’d better stop. You’re poison …” Ja, jy is gif. Giftig vir my. Ons oë ontmoet. En vir enkele sekondes beleef ek die hemel. Sien ek my ... nee, ons kinders, ons toekoms, my begeerte. Jou musiek stop en terwyl die laaste note uitsterf, wens ek. Bid ek dat jy myne was, dat ons een kan wees, al is dit vir net een nag. Die Sand du Plessis-teater loop leeg. Enkele mense drom nog saam om die kroeg. Ek gaan staan op die balkon en kyk uit oor die stad van rose. Te bang om huis toe te gaan. Bang ek verloor die aand se bekoring. Skielik voel ek ’n hand op my skouer. ’n Mond in my nek. Ek draai om. Kyk vas in jou diepgrys oë. Ek wil praat, maar jou mond smoor my stem. Ek verloor beheer met elke soen, met elke beweging van jou tong. Ek vergeet van als om my. Ek is net bewus van jou; ek proe jou. Voel jou. Jy lig jou kop en vir ’n oomblik, ’n blitssekonde, wil ek jou kop nader ruk en jou smeek om my weer te soen, nie op te hou nie, nooit weer nie. Jy smile, vee my lang kuif agter my oor in en met jou diep rasperstem sê jy: “Ek het nog nooit so ’n mooi wese soos jy gesien nie. Jy is vir my bedoel. ’n Geskenk vanaf my muse. Ek het gevra vir ’n engel, ’n vrou wat my kan bekoor, inspireer … begeer. Vandat ons oë ontmoet het, het ek besef jy is die een – jy is myne.” Ek was verlore. Ek was joune! Hand aan hand is ons daar weg. Vir ewig saam. Vir altyd joune.