Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Carnuntum, 204 vC


Liza Louw - 2011-09-15

Die skare juig en hits. Hulle dors na bloed. Die stof staan op uit die donderende hout-amfiteater en hang in die lug bokant ons Ryk-dom hier op die amberroete. Buite die houtmure van ons nedersetting lê die heuwels woudgroen en sing voëls sekerlik in die bome.

Ek verseker jou, my duifie, ek was voorbereid op Aurelius se slinkse taktieke met sy lans, die luis. Die man is grof en massief, ’n gebore krimineel. En wou nou sy pad oopveg na vryheid.  Sy teenstander ek, die gevangene. Ek glo steeds Jupiter is met my.

Dis om jou guns, my liefling, dat ek Aurelius se uitdaging aanvaar het – jy weet dit reeds. Dis sy vryheid vandag, of myne.

Die geveg was wild en verwoed. Die toeskouers wou mal word. My kragte was eindeloos. Eers hy, sy lans soekend, dan my swaard blitsig in antwoord. Ek het eenkeer so byna my skild verloor, maar dit goddank behou en op my voete gebly. Tot die hou my tref teen die bors, heeltemal onvoorsiens. Vanwaar? Dit het as ’n hartskok gekom toe ek my eie warm bloed teen my vingers voel. Geurig en rooi. Ek het my hand afgelek; dit het souterig geproe, en na lewe.

Waar ek nou met my wang teen die grond lê, neem ek jou waar in jou wit gewaad in die voorgestoeltes, jou donker lokke kurf oor jou borste. Jy staan op en ja, ek sien, jy waai jou sakdoek in my guns.

Anderkant die mure, weet ek, lê die begraafplaas van soveel gladiatore. Daar waar die Danubius verbyvloei.

Die skare brul. Waarom sien ek soveel vingers teen die bors gerig – wil hulle my werklik uitwis? So min sakdoeke.

Helaas, te min duime en voorvingers teen mekaar.

My liggaam sidder van die slag.

Snakkend sien ek hoe jy terugsak op die houtsitplek, jou olyf-oë oopgesper. My blik vind die sagte kuiltjie waarin jou hart geklop het laasnag.

Ek lees my naam in jou stil kreet.

My lief...