Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Rosendal, 2020


Annemari Coetser - 2011-09-15

Op die koffiewinkel se stoep eet twee meisies ontbyt by die tafel langs myne.

“Is hy nog in jou snelmobiel? Voor jy ry, móét ek hom net weer sien!” sê Blondekop.

“Sjuut.” Die een met die donker hare kyk om haar rond asof sy dink iemand luister hulle af.

Sy dink reg. Maar my oë dartel oor my E-lei asof dit al my aandag verg.

Blondekop giggel agter haar hand: “Ek moet sê, hy’s moer weird, maar so cute. Daai skerppuntvingers en webbed tone ... Is jy regtig lief vir hom?”

“Vreeslik!” Die brunet druk haar hand teen haar bors in ’n outydse gebaar. “Ek het nooit gedroom hy sou my voete onder my uitslaan nie. En hy’s lief vir my ook. Ek wonder net nog steeds hoekom het hy twee maande gelede juis in mý snelmobiel geklim?”

“Die noodlot? Of hy het jou voor die tyd dopgehou? Hy’s mos mal oor jou.” Blondie leun oor en steel ’n stukkie nimbus uit die ander een se bord. “En jy sê julle het toe ...?”

Donkerkop glimlag skaam. “Jip, ons het. Eindelik! Weet jy, hy’t agterna geel geword. Net sy kop was nog neongroen.” Sy byt op haar onderlip. “Toe ons klaar was, was die lê-mat vol ... skubbe.”

Voor sy weer praat, leun sy vertroulik oor na haar vriendin toe. Ek moet my ore spits, so sag is haar stem.

 “Sê nou hy vrek daarvan? Of liewer, sê nou hy sterf. Ek sal myself nooit vergewe nie.”

 “Nee wat, dit sal nie gebeur nie. Ek dink net jy moet dalk die een of ander tyd ’n polisieagent van hom vertel,” sê die blondekop ernstig. “Of nee, liewer nie. Dan beland hy dalk in ’n rehabilitasiehuis. Nee, hou dit liewer stil. Hou hom net vir jouself.” Sy druk ’n servet teen haar mond.

“Natuurlik! Ek sal hom nooit verraai nie.” Die donkerkop vee ergerlik met haar vingers trane af. Sy kyk weer na my kant toe.

Dis Blondekop se beurt om suutjies te praat. Haar oë blink: “Nou toe, vertel! Die seks was seker out of this world?”