Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Soetkoekiesfontein, 1968 versus Houghton, 2012


Oemdhan Pieterse - 2011-09-15

Desembervakansie 1968. In Ouma se kombuis daar doer in die Vrystaat met sy spierwit gerypte koppies. Vroeg smôrens as die hanslammers moedswillig pomp en stamp aan die louwarm tietiebottels wat ons styf in albei hande vasklem. Die melk en hul spoeg wat skuimborrels blaas om die gulsige, honger lippe. Dan daardie liefdevolle stem wat kamma kwaai oor die halwe agterdeur aanmaan. “Kom eet nou, kinders, ek roep nie weer nie!” Ons jongklomp wat dan uitgelate holderstebolder die kombuis binnestorm. Die snoesige hitte wat uit die ou koolstoof straal en ou aia Soef wat ons tot stilte maan. Die harde stem van oupa Kerneels vanuit die eetkamer langsaan as hy die seën vra vir die voedsel in ons liggame. In my geestesoog sien ek die grootmense wat om die yslike twaalfsitplek-geelhouttafel sit, in eerbied met hul geboë hoofde. Sy was ouma in murg en been. Haar lang hare in ’n netjiese bolla gebind; die kleur van ’n grysvalk was vir my die mooiste kleur op aarde. Teen haar plompe lyf met haar fris boarms van die baie knie het ’n kind veilig gevoel.  Sy was en is nog steeds vir my die liefde waarna ek smag. Daardie bederfies van soetkoekies, melktertbak om uit te lek, dik volgesuipte rosyntjies wat op die gemmerbier dryf en spesiale nastergalkonfyt. Die ou plaastelefoon met sy baie luitone en ons wat Sondaemiddae, as die grootmense gaan skuinslê, skelm ander afluister.

Desembervakansie 2012. Vandag is ek ook ’n ouma, maar ’n anderste ouma as Ouma. Ek kleur die grys weg, oefen drie maal ’n week in die gym, koop vooraf verpakte kospakkies by Woolworths en dra snyerspakkies. My kleinkinders Mixit en YouTube op hulle superslim selfone en wil my met alle geweld op Facebook sit, want hulle sê ek is ’n baie “cool oums”. My selfoon het ook baie luitone, maar dis om my te herinner aan afsprake, verjaardae, vergaderings en banktransaksies. Ouma het van alles geweet en sulke dinge sommer uit haar kop onthou. As ek eerlik moet wees, sou ek nie van die soort ouma wat ek is, gehou het nie. Tye verander en al dink hulle ek is cool, weet ek Ouma was Super-Cool – met hoofletters.