Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Paarl, 2011


Trudy Oosthuizen - 2011-09-15

Hy spuit die Axe liberaal oor sy lyf, ruk die hemp oor sy kop, glip in die broek in.  Sorg dat sy hare met ’n effense puntjie na bo opstaan. Vee met sy handdoek oor sy skoene, staan regop, ontbloot tande in die koshuisspieël, borsel met sy vinger en gryp sy tas. 

As hy haar in die voorportaal gaan raakloop, gaan dit ’n wonderlike dag wees. Hy weet sommer. Voor hom stap twee lummels. Hulle neem hulle tyd. Hy dans om en skiet verby.  Sien hy ’n blonde poniestert? Nee, dis nie sy nie. Sy gemoed val. Skielik ruik hy kaneel-Dentyne. Vervaard van senuwees stamp hy teen iemand sag. Hy kyk af en sien haar vlekkies-oë.  Sy mond is droog en hy kan homself skop dat hy nie geborsel het nie.

“Het jy geleer vir RTT?” vra sy.  Hy is bang sy stem kom skor uit en skud sy kop. Sy hand duik in sy sak waar die sjokolade skuil wat sy ma hom in die hand gestop het.  “Ietsie vir wanneer jou bloedsuiker laag word,” het sy gesê toe sy hom vroeër aflaai.  Die lag het gekreukel om haar oë.

Hy merk dat Chenay se wimpers taai is van die swart maskara.  En is dit ’n lovebite daar oop en bloot teen haar nek?  Die woede stoot rooi op in sy gesig. Sy kyk spottend na hom.

“Bloos jy?” vra sy tartend.

“Wat maak jy met die mommy’s boy?" kom die diep stem van die eerstespanrugbyheld.  Sy kennebak is ene bloubaard. Sy giggel en leun teen hom aan. Hy vou haar ru toe in sy groot lyf. Hulle loop hand om die lyf voor hom uit.

Hy vee oor sy mond, sukkel om te konsentreer. Almal se stemme klink skielik skerp. Sy vingerpunte prik. Ouens stamp van agter en mor omdat hy die stroom blok.  Hy kyk na regs en sien sy ma is nog daar.  Nog nie gery nie. Hy kan sien dat sy hom in die truspieël dophou.  Sy waai.  Sy ergernis kook oor.  Hy draai om en storm terug in die koshuis in. 
Kop onder die koue kraan.  Vloek.  Gooi die toiletrol dat hy bons. Hy haal diep asem en mik weer by die koshuis uit.  Die klok het al vyf minute gelede gelui. Sy skoen tref ’n los klip.

“Fok” vir die tweede keer.

“Henno!“ roep die oorbekende stem.  Sy hou die sportsak na hom toe uit.  Sy glimlag en haar oë straal op na hom.

“In die kar vergeet.  As dit darem nie vir jou ma was nie …”