Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Kennisgewings | Notices

Ry en red Renosterveld


Gerrit Rautenbach - 2011-09-15

Daar is net vier persent Renosterveld oor in die Wes-Kaap. Dit het toentertyd gestrek van Vanrhynsdorp in die weste via Tafelberg tot by Mosselbaai in die ooste. Vandag is daar net loslappies oor, maar mense begin al hoe meer die rooi ligte sien. ’n Klomp van hulle het op hul bergfietse gespring om te kom help. Gerrit Rautenbach stel ondersoek in.

Die swart gedeeltes is al (vier persent) Wes-Kaapse Renosterveld wat oorbly – destyds het dit gestrek van Vanrhynsdorp in die weste via Tafelberg tot by Mosselbaai in die ooste.

Die Kaapse Blommeryk dek 90 000 vierkante kilometer (’n skamele 0,4 persent van die wêreld se landoppervlakte), maar spog met 9 600 spesies, waarvan 5 800 endemies is. Dis ’n unieke plant elke tien vierkante kilometer. In vergelyking dek die Amasone 9 000 000 vierkante kilometer, maar het ’n unieke plant net elke 300 kilometer. Die Kaap se biodiversiteit is voorwaar ’n wonderwerk.

Die Kaapse Blommeryk kan in drie verdeel word: fynbos, Strandveld en Renosterveld – fynbos in die berge, strandveld langs die kus en renosterveld in die middel. Simon van der Stel het desjare in sy joernaal oor “rhenoster bosch”geskryf, maar dis nie seker hoekom hy na ’n renoster verwys het nie. Dis moontlik vernoem na die swartrenoster wat lief was vir dié habitat, maar ’n ander teorie is dat renosterveld van ’n afstand af tipies soos die vel van ’n renoster lyk.

Renosterveld groei in vrugbare kleigrond waar daar ’n winterreënval van 250 tot 600 millimeter per jaar is. Die perfekte kombinasie vir wingerd en koring. Alhoewel landbou verreweg die grootste oorsaak is vir die ontbossing van renosterveld, dra nywerheidsontwikkeling (veral daar by Worcester rond), formele en informele behuising, nuwe paaie en brandstigting ook goed by. Dis vandag een van die mees bedreigde habitats in die wêreld en het al 29 spesies fauna en flora verloor. Vir altyd.

In wat oor is van Renosterveld sal jy (as jy baie gelukkig is) dalk ’n suurpootjie (Psammobates geometricus) kry. Met net sowat 2 000 van hulle nog oor, is dit die mees bedreigde skilpad in die wêreld. Terloops, daar is 41 soorte landskilpaaie op aarde waarvan, agt endemies is aan die Kaapse Blommeryk. Wat ’n skande as dit binnekort dalk net sewe is ...

 

Net hier en daar in die Tygerbergheuwels sal jy nog die Aristea lugens kry. Dis ’n immergroen plantjie van so 30–40 cm wat in September en Oktober met groot blou, wit en pienk blomme spog. Dan is daar die klein knapie wat so mooi op ons reënboogvlag sou lyk – die Kaapse dwergverkleurmannetjie (Bradypodion pumilum). Ongelukkig weerspieël hy deesdae net een kleur: rooi, rooi, rooi.

Daar is nog baie ander – altesaam 1 700 spesies soogdiere, voëls, reptiele, insekte en flora. En o ja, Homo sapiens is ook ’n inwoner van Renosterveld. Ongelukkig die enigste een wat dit tot dusver nog net vernietig het. Maar gelukkig lyk dit of Homo sapiens nou begin besef het dis net hulle wat dit kan red ook. Want mense oral begin nou saamtrek om juis dit te doen.

Baie boere besef die erns en doen iets om te help. Durbanville Hills het die wyn Rhinofields geproduseer met ’n uitvou-etiket agterop wat die hele Renosterveldstorie vertel. Ruth Parker van die plaas Altydgedacht het ’n unieke koffietafelboek, Renosterveld – a wilderness exposed geskryf. Tielman Roos van die plaas Mooiplaas is in beheer van die Bottelary-bewarea en  Nora Sperling-Thiele van Delheim is die voorsitter van die groter Simonsberg-bewarea. 

Dan is daar Justin Basson, ’n passievolle natuurmens en bewaarder. Elf jaar gelede het hy en sy vrou Tamma op Clara Anna Fontein net buite Durbanville ingetrek. Hy het ’n suksesvolle konferensieplek met ’n luukse tentkamp en die naaste wildpark aan Kaapstad, met 14 soorte wild, opgebou. Deur dié jare het hy besef hulle plaas is binne-in wat oor is van Renosterveld. Om dié habitat te red het sy grootste passie ooit geword. Hy reken hy gaan nie tou opgooi voor daar nie weer swartrenosters oor sy plaas loop nie.

Buiten Renosterveld-bewaring is Justin ook passievol oor bergfietsry. Daarom het hy die twee dinge gekombineer en die drie-dag-resies Ride the Rhino in 2010 bekend gestel. Dit was ’n klein begin, maar dit was ’n woeste sukses. Ryers van oor die land het kom ry tot die redding van Renosterveld. Vanjaar is dit weer so.

Ongeag hoe baie wedrenne jy al gery het, met Ride the Rhino van 30 September tot 2 Oktober 2011 (skoolvakansie) gaan jy meer blomme sien as op al die ander saam. Die roete begin by  Langebaan, dan deur die Weskus Nasionale Park, dan via Darling en Malmesbury, met die eindpunt by Nitida-wynplaas in Durbanville. 

Vanjaar kan jy op twee verskillende maniere inskryf. Daar is die Black Rhino, ’n kwaai drie-dag-ren wat oor die drie dae onderskeidelik oor 85, 90 en 80 kilometer strek en 1 650, 1 500 en 1 500 meter klim. Black Rhino het plek vir 200 spanne en 100 solo’s. Die White Rhino-opsie, wat net 60 kilometer per dag lank is, is baie meer vir die pret. ’n Goeie keuse vir skoolspanne.

Ride the Rhino is nie ’n piekniek nie, maar die skitterende blomme, wild en natuurskoon maak elke druppel sweet die moeite wed. En al is jy moeg geswoeg, kyk skerp. Net dalk sien jy een van die skaars suurpootjies wat jy help om te red deur dié wedren te ry. Ride the Rhino is nie ’n wedren teen mededingers nie. Dis nie eers ’n resies teen jouself nie. Dis ’n wedren teen tyd. Teen uitsterwing.

En dink net jy ry weer hierdie wedren oor ’n paar jaar en langs die pad kry jy ’n padbord wat lees: “Pasop vir die Renosters”. Want tien persent van die wins gaan aan die Renosterveld Trust.

Vir meer inligting en om vir Ride the Rhino te registreer, besoek www.renosterveldmtb.co.za.