Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose liefde''-kompetisie: Stellenbosch, 2008


Thalia Kriel - 2011-09-14

Jy het altyd aan my nek gebyt. Persrooi merke wat in die donker gepols het, jou primitiewe pogings om my, vir die oomblik ten minste, as joune te merk. Ek het lang serpe om en om my nek gedraai; growwe wol het teen die seer rooi kneusplekke geskuur en met elke beweging het ek aan jou gedink, aan jou dringende warm mond.

Miskien was dit die redenasie daaragter: om my aan jou te herinner, sodat ek lank nadat jy weggegaan het, nog die ligte letsels in die spieël gesien het, onder my oor, teen my sleutelbeen, af teen die slagaar wat in my nek klop. Soos ’n rooiwynvlek het die merke bly sit, ’n flou cabernetspatsel wat al hoe ligter geraak het. Jy het weggegaan en ek het nie eers ’n foto van jou gehad nie – net die kneusplekke teen my nek wat ook later vervaag het soos die herinneringe.

Ek onthou dat ek gedink het: as ek net die presiese kleur van jou oë kan vasvang en dit neerpen vir eendag, wanneer my geheue vervaag en daardie skakering van blou verdwyn saam met die begeerte na jou blou oë op my, na jou lang vingers teen myne, jou warm mond en rooiwynasem teen my lippe. As ek eendag jou oë kan onthou, sal dit my vrywaar teen die winter, wat nou reeds sy vingers na my strek. Jou oë was blou soos ’n ewigheid en ek het jou hart voel klop met my kop teen jou bors.

Ek verf jou die persrooi kleur van cabernet franc, wyn by die glas by ’n koffiewinkel, die kleur van jou rusbank, espresso, die mineurnote van ’n klavier, gebarste bessies, soos dié wat groei op die plaas in die Helshoogtepas. Ek kan jou net in donker kleure teken, maar die meeste van alles onthou ek jou oë. Die blouerige, groenerige, gryserige silwer daarvan. My hart wat pols en saamtrek in jou uitgestrekte hand. Die klank van jou naam. Die kleur van jou oë.