Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Vertaling as oortekening – Michiel Heyns gee sy mening


Michiel Heyns - 2011-09-14

Michiel Heyns reageer op die artikel “Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Pieter Odendaal.

Pieter Odendaal skep ’n interessante nuwe teoretiese kategorie van vertaling na aanleiding van Breyten Breytenbach se praktyk in oorblyfsel/voice over: “Die term oortekening is ’n neologisme wat ek voortaan sal gebruik om na die vertaalstrategie te verwys wat Breytenbach inspan wanneer hy bronteks-elemente vertaal op grond van hulle fisiese betekenaarooreenkomste, hetsy op fonologiese of op grafiese vlak.” Hy wys daarop dat Breytenbach hom heel dikwels in hierdie versameling hom laat lei nie deur die semantiese aard van woorde nie, maar eerder deur hulle voorkoms of klank: so sal Breytenbach byvoorbeeld (en ek haal aan uit gedig 3):

op die vliegtuig terug na Katalonië
se diep en soel en somber aarde
reeds begin damp met die vrugbare
aftakeling van herfs
begelei deur ’n beier
paddas in ’n poel

vertaal as:

in the air going back to where Catalonia’s
dipped and soiled and sombre earth
is set to smoke with the fertile
articling of fall
beguiled by a pealing
of frogs in a poem.

Teenoor die konvensionele vertalings (vrugbare/fertile; herfs/fall; beier/pealing) is daar die “oortekeninge” soos diep/dipped; soel/soiled; begelei/beguiled; poel/poem. Die voorbeeld bied ’n goeie aanduiding van die soort spel wat hier aan die gang is, ’n spel wat oog en oor betrek, en wat van vertaling ’n speelse variasie op die oorspronklike maak eerder as ’n slaafse semantiese navolging.

Ja, dit is bevrydend en verblydend: die hegemonie van die bronteks word omvergewerp en omtower deur die hupse lewenskrag van die doelteks, wat begin terugpraat met idees van sy eie. Maar helaas vir die vertaler word daar hom nie gewoonlik hierdie soort vryheid gebied nie. Soos Odendaal dan ook toegee: “Hierdie speelruimte, naamlik om bronteks-elemente na gelang van sekere doelteks-elemente te kan verander en om af te wyk van die bronteks-betekenis in die doelteks, is een waartoe vertalers van literêre werke selde toegang het, omdat die bronteks gewoonlik reeds vasgelê is wanneer die vertaler die bronteks na ’n ander taal moet transponeer.”

Breytenbach kan natuurlik na hartelus met sy eie teks omgaan en aangaan; maar min skrywers sal getroos toesien en toelaat dat vertalers speels raak met hulle babatjies; en daar is ook altyd die resensente wat met stroewe monde streng let op elke “afwyking” van die “oorspronklike”. En skrywer en resensent tesame voel vere vir die dekonstruktiewe insig dat “Omdat die betekende en die betekenaar nie van mekaar geskei kan word nie, blyk vertaling, in die sin van die oordrag van betekendes van een tekensisteem na ’n ander, streng gesproke onmoontlik te wees.”

Hierdie uitdagende uitspraak steun, soos groot dele van Odendaal se artikel, op die spreuke van Derrida, in hierdie geval die bewering dat “alle tekste onvertaalbaar is ‘because there is no fixed meaning to begin with and because it is also impossible to transform the différance from one system into another in fixed form’” (Derrida soos geparafraseer deur JL Kruger en aangehaal deur Odendaal).

Nou, Kommin Sens, daardie geswore vyand van Derrida en al sy werke, sê vir ons toemaar, die wêreld kom al ’n hele paar eeue oor die weg met die blote skyn van “fixed meaning” en met die illusie van vertaling. En die meeste skrywers en resensente is verbete ondersteuners van Kommin Sens, en verwag van vertalers om sy voorskrifte te gehoorsaam: Eerbiedig die Betekenis van die Oorspronklike is die Eerste Gebod van Vertaling. 

Is oortekening dan net beskore vir skrywers wat hulle eie werk oorteken, of wat, soos Odendaal aandui, die samewerking van die skrywer kan kry? Ek glo van ja, in hierdie ondermaanse – soos Odendaal dan ook sê: “[S]ogenaamde vertaalfoute, waar die betekenis van die doelteks afwyk van die bronteks, [word] onder ’normale’ produksie-omstandighede as ongewens beskou.”

Maar dalk kan selfs minderbevoorregte vertalings hulle tog soms die reg toe-eien om af te wyk van streng semantiese betekenis en hulle te verlustig, binne perke, in ’n spel van oog en oor.

Ek is onlangs gevra om, ander andere, MM Walters se satiriese gedig “Kerkkoor” te vertaal:

Kerkkoor

Oorgehaal staan hul en luister
soos brakke voor die jag –
ongeduldig, want hul ken die klanke
maar moet nog op die teken wag.
Die suurgesig-soprane skep die noot
met so ’n lekker uithaalslag,
tuitbek soos ’n trompetbrigade.
Die orreliste se vet bolletjies
maak sulke heerlike bultjies en borreltjies
soos sy heen en weer agter die klawers rol.
Gemeste Mara vat die fyndraai
en knyp die oë toe,
vlaag op vlaag loop die trillinge
oor haar keel en die drilling
in die spekwal agter die skof.
Die dik ou basse beur die borste
tot barstens toe vol wind,
die ander bassies trek die kenne
tot styf teenaan die keel en verbeel
hul dat húl die kerk laat dawer.
Die baritonne laat hul stemme bewe,
volbloed hingste,
wagtend op die groot strawasie.
Die alte dreun so onderlangs
’n bynes vol belofte,
raak dan al meer geanimeerd,
en dan uiteindelik grand finale almal saam
luidrugtig: halleluja, halleluja – onbeskaamd,
want al die baldadigheid
geskied plegtig in die naam van die Here.

Hier is my vertaling, soos deur Walters goedgekeur:

Church Choir

With pent-up breath they stand and hearken
like hounds alert before the hunt –
impatient, for they know the strains,
but never ever jump the gun.
The sourish-faced sopranos scoop the note
with powerful opening of the chest,
lips pursed like buglers on parade.
The organist’s little tremolos of fat
bulge and burble con fuoco
as she spreads herself over the keys.
Well-fed Mara shuts her eyes
to fetch a note from in her womb,
tremor upon tremor the tremolo trills
across the throat and rills
of blubber round the rump.
The stout old basses barrel the breast
filled to bursting with hot breath,
the beardless little basses push the chins
tight into the chest in proud belief
that they’re the ones who shake the church.
The baritones thrum up a virile vibe con brio,
stud stallions in fine fettle,
champing now to show their mettle.
The altos drone a low continuo,
a hive of bees at first adagio,
then pick up the pace and there they go,
till at last they all crescendo rinforzando,
simultaneously: hallelujah, hallelujah – brazenly,
for all the clamorous caterwaul
proclaims the greater glory of the Lord.

Ek hoop dit sal duidelik wees dat ek oor die algemeen probeer het om die semantiese betekenis te behou. Maar hier en daar het ek geswig voor die versoeking om effens af te wyk, en was ek gelukkig dat die digter my laat begaan het. Die orreliste se vetrolletjies het ek byvoorbeeld in musikale terme herinterpreteer, en vandaar myself begin vergryp aan musikale notasie as metafore vir die stygende drif van die lustige sangers; en waar Walters tog seker iets orgasties in gedagte had met “grand finale almal saam”, het ek al die toetse uitgetrek met “crescendo rinforzando”. (Ook gerieflik, natuurlik, dat al die musikale terme met mekaar rym.) Verder het ek iets van die energie van die oorspronklike probeer beklemtoon deur die sterk gebruik van alliterasie en assonansie, tog tradisioneel niesemantiese betekeniselemente.

Is dit oortekening? Miskien nie presies soos Odendaal dit beskryf nie, dws die vertaling van elemente “op grond van hulle fisiese betekenaarooreenkomste, hetsy op fonologiese of op grafiese vlak”. Maar daar is hier ook iets van die ondergeskikstelling van streng semantiek tot ander betekeniselemente, en van ’n doelteks wat ’n eie dinamiek ontwikkel. 

Dit is natuurlik nie toevallig dat hierdie voorbeeld, soos ook Odendaal s’n, geneem is uit ’n vertaling van poësie nie; dit sou moeiliker wees om hierdie “vergrype” te regverdig in die geval van prosa. En tog, byvoorbeeld, by die vertaling van 30 Nagte in Amsterdam het Etienne van Heerden my dikwels aangemoedig om weg te breek van die letterlike betekenis na iets vryer wat beter die gees van die oorspronklike weergee. Of ek die moed sou gehad het om dit te doen sonder die toestemming van die skrywer, is ’n ander vraag.

Breytenbach se bundel en Odendaal se artikel herinner ons aan die “ander” elemente van betekenis: klank, voorkoms, ritme, konnotasie. Dit kan ons dalk help bevry van die ortodokse geloof dat semantiese betekenis die enigste geldige betekenis is; kan ons dalk laat luister na die woorde en kyk na die woorde eerder as om hulle net serebraal te absorbeer.



<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<