Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Vertaling as oortekening – Carla-Marié Spies gee haar mening


Carla-Marié Spies - 2011-09-14

Carla-Marié Spies reageer op die artikel “Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Pieter Odendaal.

Die vertaling van poësie word dikwels as besonder uitdagend beskou, aangesien daar só baie in ’n gedig verweef is wat in die doeltaal oorgedra moet word. Dit kan onder andere verskillende vlakke van betekenis, ritme, rym, klank en ’n bepaalde struktuur insluit. Verder is elke enkele woord in ’n gedig belangrik en kan gelaai wees met betekenis, simboliek en assosiasies. Die poësievertaler moet dus uiters noukeurig met elke woord en elke klank te werk gaan om ’n geslaagde vertaling daar te stel.

In die vertaalteorie word daar melding gemaak van verskillende vertaalstrategieë wat op literêre vertaling toegepas kan word. In sy artikel oor Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over (’n elegiebundel ter herinnering aan sy vriend die ontslape Palestynse (Arabiese) digter Magmoed Darwiesj waarin Breytenbach gedigte skryf en self vertaal), gaan Pieter Odendaal deskriptief te werk deur te kyk na die vertaalstrategie wat hy oortekening noem, wat dikwels deur Breytenbach in hierdie bundel toegepas word. Hierdie strategie behels dat “[b]etekenisekwivalente ondergeskik aan grafiese of fonologiese ekwivalensie gestel [word]” (Odendaal 2011) en daar dus nie soseer op betekenisvlak vertaal word nie, maar eerder op fonologiese en grafiese vlak. ’n Mens kan dus nie in alle gevalle die doelteks terugvertaal na die Afrikaans en by dieselfde betekenis uitkom nie.

Die titel oorblyfsel/voice over weerspieël reeds hierdie verskynsel. Die Afrikaanse deel van die titel verwys na die “oorblyfsel” van Darwiesj, met ander woorde sy nalatenskap na sy dood in die vorm van digkuns, wat nou in Breytenbach se bundel geëggo word. Die Engelse deel van die titel, voice over, dui eerstens op weerklank van Darwiesj se gedigte in Breytenbach se nuwes en tweedens op die letterlike oorklanking wat onder andere as vertaalstrategie gebruik word en waardeur die fonologiese (en grafiese) ekwivalente van woorde in die bronteks na die doelteks oorgedra word (ek verwys ook, soos Odendaal, na die Afrikaanse gedigte as die bronteks en die Engelse vertalings as die doelteks). Hierdie oortekening, soos Odendaal (2011) daarna verwys, sluit met ander woorde ook oorklánking in, aangesien die oordrag wat van die bronteks na die doelteks gemaak word, op grafiese én fonologiese vlak plaasvind (sien Odendaal 2011 vir ’n volledige lys voorbeelde hiervan).

Hierdie skynbaar dekonstruktiewe benadering van oortekening, soos Odendaal (2011), met verwysing na die filosoof Jacques Derrida se dekonstruksie, daarna verwys, beteken dat die betekenis van die bronteks gekorrupteer word, aangesien die bronteksbetekenis nie in alle gevalle in die doelteks oorgedra word nie. Daar word egter terselfdertyd waarde tot die doelteks toegevoeg en núwe betekenis word gevorm, wat weer op ’n kónstruktiewe tendens dui. Die doelteks dra dus tot ’n nuwe dimensie van die bronteks by en betekenisekwivalensie raak van mindere belang. Hierdie beklemtoning van verskillende betekenisdimensies word verder bewerkstellig deurdat die bron- en doeltekste direk langs mekaar gedruk is en die leser die twee weergawes van elke gedig saam kan (en moet) lees.

’n Mens kan duidelike parallelle tussen wat Odendaal (2011) as oortekening beskryf en die manipulasie- of herskryf(vertaal)teorie trek. Hierdie teorie behels dat daar dikwels wegbeweeg (moet) word van norme of konvensies om ’n aanvaarbare, geskikte of voldoende vertaling te skep. Die doelteks moet soms ook ’n ander funksie as die bronteks vervul en om hierdie rede doelbewus gemanipuleer word. Daar is aanvanklik na hierdie tendens as dekonstruksie verwys, wat ’n negatiewe konnotasie aan die begrip verleen het, maar in 1985 is die term herskrywing begin gebruik (Hermans 1999:127). Bassnett (2002:6) beskou hierdie nuwe benadering ook as ’n herdefiniëring van die begrippe getrouheid en ekwivalensie, wat tradisioneel as voorvereistes vir ’n geslaagde vertaling beskou is. Die tradisionele idee van “ekwivalensie”, waar ’n vertaling as ’n spieëlbeeld van die bronteks beskou is, is dus omvergewerp. Hermans (1996) beskryf dit as “recasing and re-packaging a source text for a new recipient in a different cultural circuit”. Lefevere (1982:243), noem ook dat ’n “goeie” vertaling een is wat tot die doelteksgehoor spreek. In oorblyfsel/voice over is die bron- en doeltekslesergroep hoofsaaklik dieselfde lesers, maar word daar in die doelteks ’n nuwe dimensie tot die gedigte verleen waaruit die doelteksleser nuwe betekenis kan ontgin.

Die manier waarop Breytenbach sy gedigte in oorblyfsel/voice over vertaal, herinner aan die begrip omdigting wat gebruik word om Leon de Kock se Engelse vertaling van Cas Vos se digbundel Duskant die donker te beskryf. Dié vertaalbenadering kan ook as herskrywing bestempel word en Vos verwys na De Kock se vertaling as “kreatiewe omdigtings” van sy gedigte (Vos en Esterhuizen 2011).

Breytenbach (2009:62) noem dat aangesien hy nie altyd vertaal het met die doel om noodwendig of altyd dieselfde betekenis in die doelteks oor te dra nie, “’n eggo of ’n assosiasie in die Engelse segging weer ’n ander moontlikheid in Afrikaans oopgemaak” het. Die volgende uittreksel uit oorblyfsel/voice over is ’n goeie voorbeeld van waar nuwe betekenis in die doelteks ontsluit word en terugwerkend ’n invloed het op hoe die bronteks geïnterpreteer kan word:

wat net bewys
dat daar al sedert die begin van sterrebeelde
’n dors na lewe in die heelal was (Breytenbach 2009:22; my kursivering)

wat vertaal word as:

which only goes to show
that since the outset of stellar configurations
there’s been a door to life in the dark out there (Breytenbach 2009:23; my kursivering).

Odendaal (2011) bestempel hierdie gekursiveerde vertaalkeuse as een van drie soorte oortekening en beskryf dit as “daardie oortekening van brontekselemente waar die betekenis van die brontekselement glad nie in die doelteks terug te vind is nie” (Odendaal 2011). Die gedig het dus in sy bron- en doelteksvorm verskillende betekenisse, wat tog verwant is aan mekaar, en by mekaar aansluit om die volledige betekenis wat Breytenbach wil oordra, vir die leser te ontsluit.

Hierdie vertaalbenadering en oortekeningstrategie is ’n doelbewuste vertaalkeuse, soos Breytenbach (2009:60) in sy Nota agter in die digbundel, wat ook as vertáálnota dien, opmerk. Hy noem dat hy deur middel van die gedigte in oorblyfsel/voice over eerstens hulde wil bring aan Darwiesj deur van Darwiesj se gedigte in sy eie gedigte te inkorporeer en dan ook met sy eie stem te vervleg (hy doen dit deur na die Engelse en Franse verwerkings van Darwiesj se gedigte te verwys, aangesien hy self nie Arabies magtig is nie) en om dan Engelse weergawes van sy Afrikaanse gedigte te skryf “om ’n gesprek tussen die twee tale te bemiddel” (Breytenbach 2009:62). Hy noem verder dat die doelteksgedigte nie woordelikse “vertalings” van die bronteks is nie, wat beklemtoon dat woordelikse ekwivalensie, en dikwels ook betekenisekwivalensie, nie altyd bewerkstellig word nie en daar doelbewus van hierdie tradisionele benadering tot vertaling afgewyk word. Hierdie herskrywingsbenadering bied egter ’n nuwe uitdaging, naamlik om nuwe betekenis tot die doelteks toe te voeg en deur middel van die oortekeningstrategie die estetiese of fonologiese outentisiteit van die bronteks in die doelteks tot uiting te bring. Op hierdie manier word ’n baie besonderse kunswerk geskep.

Eerder as om betekenisekwivalensie te bewerkstellig, is dit vir die digter/vertaler belangriker, soos hy self ook noem, om in hierdie bundel op reis met Darwiesj te gaan en met hom in gesprek te tree om “tussen die woorde na hom te soek” (Breytenbach 2011:62). Die subtitel van die digbundel is in aansluiting hiermee “op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj” (Breytenbach 2009). Vertaling word hier dus ’n manier waarop ’n ontdekkingsreis van ’n gesprek tussen twee digters aangepak word. Breytenbach (2009:60) beskryf vertaling as ’n reis soos volg:

Vertaling, om oor te gaan van een taal na ’n ander, is ook ’n reis. Die landskap verander, winde met die reuke van onbekende groei waai soos nuus oor die hoogland na laerliggende valleie, jou skaduwee verskiet, die lied bly ’n wisseltong tussen bekend en onbekend.

In poësie word hierdie reismotief ook dikwels gebruik, soos DJ Opperman se oeuvre byvoorbeeld van getuig. Dié digter vergelyk byvoorbeeld in die slotreëls van sy gedig “Digter” (1949) digterskap met ’n reis: “reis met die klein skip/ geslote agter glas” (Opperman 1947:28).

Om die reis en gesprek tussen die twee digters tot verdere uiting te bring, en ook ’n gesprek tussen Afrikaans en Engels te bemiddel (soos Breytenbach aandui sy doel is) word die twee weergawes van dieselfde gedig telkens langs mekaar gedruk en tree die bron- en doelteks onmiddelik in gesprek met mekaar, en vul mekaar aan. Hierdie idee van ’n bronteks en doelteks wat mekáár aanvul is tipies by skrywers wat hulle eie werk vertaal, of nou betrokke is by die vertaling van hul werk. Ingrid Winterbach merk byvoorbeeld dikwels op dat sy die vertaalproses van haar boeke (waarby sy nou betrokke is) beskou as ’n geleentheid om weer aan haar teks te kan werk, dinge by te skryf en te kan verander. Nuwe dimensies word dus tot die doelteks toegevoeg wat die leser die bronteks met nuwe oë kan laat lees.

Op sommige plekke in oorblyfsel/voice over word Afrikaanse woorde vertaal met woorde wat hoegenaamd nie dieselfde betekenis as dié van die Afrikaans het nie, maar wel dieselfde klank en struktuur as die Afrikaanse brontekswoord het. ’n Voorbeeld hiervan is “donker” in gedig 1 wat as “danker” (wat klam(mer) beteken) vertaal word. Hier word grafiese en fonologiese ekwivalensie (Odendaal 2011), maar geen betekenisekwivalensie nie, of in hierdie geval ook geen vaspenbare betekenis nie, bewerkstellig.

Darwiesj (in Shatz 2001) merk self op: “[T]he importance of poetry is not measured, finally, by what the poet says but how he says it.” Hy sê ook dat hy skryf met “an eye toward the beautiful” (Darwiesj in Shatz 2001) en wil hê dat sy digkuns vir die literêre én estetiese eienskappe daarvan gelees moet word en dat nie net die betekenis daarvan of die (veral politiese) kommentaar wat daarin gelewer word, vooropgestel moet word nie (Sachs 2000).

Ter aansluiting by Darwiesj se eie bogenoemde mening oor digkuns merk Odendaal (2011) tereg op dat betekenisekwivalensie in hierdie digbundel nie as evaluerende maatstaf vir die geslaagdheid of literêre waarde van die vertalings van die gedigte beskou kan word nie. Hy noem dat Breytenbach op ’n bewuste vlak teen die “grein van tradisionele vertaalstrategieë” ingaan asook “groot taboes in tradisionele vertaalteorie” uitdaag. Die teks moet die leser juis aktief betrokke maak by die leesproses deur hom/haar te laat wonder, verder te laat dink, en weer (en weer) te laat lees. Of dit deur Breytenbach in ag geneem is, weet ek nie, maar toevallig beteken Darwiesj in Arabies “die mistieke” en is hierdie vertaalstrategie wat nie op semantiese ekwivalensie (wat ’n meer vaspenbare betekenis sou impliseer) berus nie, ’n goeie manier om aan Darwiesj hulde te bring.

Nuwe betekenis word telkens gevind soos die leser heen en weer tussen die bronteks en die doelteks beweeg en, soos Odendaal (2011) ook beskryf, die lees van die digbundel word ’n voortdurende dialoog, wat met elke weer-lees, en elke vergelyking tussen bron- en doelteks, nuwe betekenisse ontsluit. Intertekstualiteit is ook hier te bespeur, waar verskeie tekste met mekaar in gesprek tree, mekaar aanvul, kritiseer en dimensies tot mekaar toevoeg, net soos die bronteks en doelteks in hierdie bundel. Dit sal ook interessant wees om Breytenbach se gedigte as eggo’s van die oorspronklike Arabiese gedigte, asook hul Engelse en Franse vertalings, te ondersoek.

Breytenbach beklemtoon terselfdertyd in sy digbundel oorblyfsel/voice over die moontlikheid van poësievertaling en die korrupsie en herinterpretasie wat noodwendig daarmee saamgaan. Hy span dan hierdie ambivalensie konstruktief in deur juis dekonstruktief te werk te gaan en meer waarde tot elke gedig toe te voeg deur die bronteks en doelteks in gesprek met mekaar te laat tree.

Alhoewel die “moderne ideaal” binne die vertaalteorie is om ’n bron- en doelteks in ’n groot mate onafhanklik van mekaar te kan beskou (in die sin dat die doelteks as outonome teks gelees kan word), word die bron- en doelteks in oorblyfsel/voice over sterk interafhanklik van mekaar. Die grense tussen die bron- en die doelteks vervaag, soos Odendaal (2011) ook opmerk. Maar alhoewel die bron- en doelteks sterker as ’n eenheid staan, is elke weergawe van die gedigte op hulle eie besonders en kan die doelteks onafhanklik van die bronteks gelees word en steeds begryp word. Dit is omdat oortekening nie die enigste vertaalstrategie is wat ingespan word nie, die Engelse vertalings idiomaties lees, en die vertaalkeuses nooit té vreemd aandoen sodat die doelteks die doelteksleser in so ’n mate vervreem dat die gedigte vir hom/haar ontoeganklik word nie (sien Venuti 1995 vir meer oor die vervreemdingsbenadering). Die vertalings word doelbewus gekies om betekenis te hê binne die tema van die digbundel, asook om die ritme en klank van die verse te laat ooreenstem. Woorde wat soos die Afrikaans klink, word nie net lukraak in die Engelse doelteks geplak of ingeprop nie, maar word funksioneel in die doelteks ingespan om nuwe betekenislae tot die gedigte toe te voeg. Beskou die volgende vers uit gedig 10:

toevallig is ek as seunskind gebore    per ongeluk
het ek die maan so bleek soos ’n suurlemoen
gepluk   om vroue met die nag
wakker te fluister
in voue van die droom (Breytenbach 2009:40)

wat vertaal word as:

coevally born swanskin boy    angelic
jongleur I plucked the moon bled pale
like a lemon     to fluster awake
the women folded
in a doom of dreaming light (Breytenbach 2009:41)

Alhoewel ’n mens die ooreenkomste tussen die bron- en doelteks kan raaksien en die fonologiese en grafiese elemente in die bron- en doelteks deur middel van die oortekeningstrategie ooreenstem, word ’n heel nuwe betekenis en atmosfeer (baie meer onheilspellend in die doel- as die bronteks) oorgedra.

Verder speel die digter eintlik met sy leser ’n speletjie deur hom/haar te laat wonder hoekom hierdie spesifieke vertaalkeuses gemaak is. Joan Hambidge skryf in ’n resensie van oorblyfsel/voice over dat hierdie tekste allermins deursigtig is. “Dit sit vol verwikkelde en opwindende raaisels wat die leser moet oplos” (Hambidge 2009:4). Hierdie tegniek getuig ook van Darwiesj se eie skryfstyl. Hy merk oor sy digkuns op: “I have learned from experience that I can take my reader with me if he trusts me. I can make my modernity, and I can play my games if I am sincere” (Darwiesj, in Shatz 2001).

Deur middel van ’n herskrywingsbenadering, oortekening as vertaalstrategie, en goed-deurdagte vertaalkeuses binne hierdie strategie, slaag Breytenbach daarin om nuwe dimensies tot sy gedigte in oorblyfsel/voice over toe te voeg en die leser op ’n interessante ontdekkingsreis tussen die bron- en doelteksgedigte in hierdie bundel te neem.

Bronnelys

Bassnett, S. 2002. Translation Studies. Cornwall/New York: Routledge.
Breytenbach, B. 2009. oorblyfsel/voice over. Kaapstad/Pretoria: Human & Rousseau.
Hambidge, J. 2009. Breyten skuif grense. Volksblad, 2 November, bl 4.
Hermans, T. 1996. Translation’s Other. ’n Inwydingstoespraak, University College of London: Dinsdag 19 Maart 1996. Londen: University of London.
—. 1999. Translation in Systems. Descriptive and system-oriented approaches explained. Cornwall: St Jerome.
Lefevere, A. 1982. Mother Courage’s Cucumbers: text, system and refraction in a theory of literature. In Venuti (red) 2000.
Odendaal, P. 2011. Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over. LitNet Akademies. 8(2). http://www.litnet.co.za/cgi-bin
/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=108449
.
Opperman, DJ. 1947. Negester oor Ninevé. Kaapstad: Nasionale Handelsdrukkery.
Sachs, S. 2000. Poetry of Arab pain: are Israeli students ready? The New York Times, 8 Maart. http://www.nytimes.com/learning/teachers/featured_articles
/20000308wednesday.html
.
Shatz, A. 2001. A poet’s Palestine as a metaphor. The New York Times, 22 Desember. http://www.nytimes.com/2001/12/22/books/
a-poet-s-palestine-as-a-metaphor.html
.
Venuti, L. 1995. The translator’s invisibility. Londen: Routledge.
Venuti, L (red). 2000. The translation studies reader. Londen/New York: Routledge.
Vos, C en L Esterhuizen. Onderhoud met Cas Vos: Sonder die liefde is alles niks. In Versindaba, 27/02/2011. [Intyds] Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2011/02/27/onderhoud-met-cas-vos/. [5/05/2011].



<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<