Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Vertaling as oortekening – Leon de Kock gee sy mening


Leon de Kock - 2011-09-14

Leon de Kock reageer op die artikel “Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Pieter Odendaal.

Pieter Odendaal gee in sy artikel ’n mooi, teoreties volronde blik op hoe “afwykende”, of “ontroue”, vertaling beskou kan word as “gepas” binne ’n poststrukturele paradigma waarin betekenaars se arbitrêre aard ten volle aanvaar en self aangehelp of versterk word. Die artikel wys op ’n sterk en volledige manier hoe hierdie proses in die Breytenbach-teks geskied.

My gevoel is egter dat ’n wesenlike onderskeid getref behoort te word tussen die huidige geval, waar die betekenaar-ketting doelbewus gekorrupteer word deur ’n speelse outeur binne ’n losse en speelse konteks (waarin vryelik aanvaar word dat betekenaars arbitrêr is), en meer “normale” gevalle van vertaling, waar “jaloerse” outeurs soos valke hul brontekste bewaar teen “mistranslations” of “vertaalfoute”.

Ek weet, want ek het harde, persoonlike ervaring van outeurs en hul literêre agente wat vertalers vryelik korrigeer met betrekking tot “vertaalfoute” wat wesenlik as foute beskou kan en móét word in ’n markverwante konteks.

“Agente” word hier letterlik bedoel, die “literary agencies” wat vertalings aan uitgewers verkoop, nié as vertalings nie, nié as poststruktureel-korrupterende wonderwerke of “transformasies” nie, maar as “oorspronklike” werke deur outeurs, waar die vertaler self op die tradisionele manier moet “verdwyn” en homself net negatief kan wys deur “foute” te begaan, foute wat onmiddellik of so gou moontlik uitgeroei moet word sodat die gevoel van vertaling so vinnig moontlik weer kan verdwyn!

Dit is hier waar dit baie moeiliker word om die losse poststrukturele siening van betekenaar- pleks van betekende-vertaling te regverdig. Daarom behoort ’n sterk onderskeid getref te word tussen speelse “self-translation” (à la Breytenbach en Krog) of korrupterende (“ontroue”) vertaling met toestemming (soos byvoorbeeld in my eie vertalings van Cas Vos se werk), en markverwante vertaling, waarin groot angs heers (in die gemoed van outeurs en hulle agente, wat oormag het) oor die vertaling van betekendes.

Die punt is dat vertaling in die gewone sin van die woord – binne ’n mark- en produksiekonteks – bitter min kans sien, of gun, vir losse en speelse betekenaar-vertaling. As vertaler wens ek soms dit was anders, alhoewel dit ’n angswekkende verantwoordelikheid skep wanneer jy regtig begin om betekenaars in ’n bronteks doelbewus te verdraai, of daarmee te “speel”. Sonder die outeur se medewete en toestemming kan dit eintlik nie gedoen word nie. In my ervaring, as jy ’n outeur vra of jy dit mag doen, is die antwoord ’n besliste “nee dankie!”. Outeurs wil “klassieke” vertalings hê. As outeur sou ek self ook “nee dankie” sê, sekerlik omdat ek my eie betekenaars meer vertrou as ’n vertaler s’n, of enige ander skrywer s’n, om die waarheid te sê. Ek het die boek immers geskryf; dis mý betekenaars daai!

Die poststrukturele siening – waarmee ek groot simpatie het (ek was self immers vir ’n lang periode ’n eksplisiete poststrukturele kritikus) – neem nie altyd werklike toestande in ag nie. Eiendomsreg ten opsigte van betekenaars beteken nog baie vir outeurs! Vra byvoorbeeld vir Etienne van Heerden, wat sy romans se vertalings met ’n fynkam deurlees en tereg vra dat sy “betekenis” “reg” vertaal word. Vra vir Ingrid Winterbach, of vir Marlene van Niekerk. Op die keper beskou, en in reële marktoestande, bly klassieke vertaling die soort vertaling wat die knoop deurhaak. Speelse vertaling waarin die betekenaar lekker ge-spin word, is dus ’n opwindende rand-bedrywigheid.

Ek weet hoe lekker dit is – ek en Cas Vos is besig met ’n  nuwe projek met die naam Faithless/Ontrou, waarin ons mekaar se gedigte “ontrou” omdig eerder as vertaal. Lekker verdraai!

Maar dit kan net binne ’n vertrouensverhouding met die outeur gebeur, of in ’n situasie waar ’n outeur hom- of haarself self vertaal. Dit gebeur dus in werklikheid baie min. Tog is dit ’n baie opwindende spel om jou in te begewe. Ons het meer daarvan nodig – ons moet mekaar se werke oor en weer herskryf, om mekaar sodoende beter te (kan) lees. Ek bedoel behóórlik lees. Want dit is wat met vertaling gebeur. Ek soek MA- en PhD-kandidate om dit saam met my te doen op US. Ek het reeds een kandidaat wat Winterbach se Boek van toeval en toeverlaat wil hervertaal. Nog kandidate asseblief?



<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<