Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

LitNet Akademies: Vertaling as oortekening – Amanda Lourens gee haar mening


Amanda Lourens - 2011-09-14

Amanda Lourens reageer op die artikel “Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Pieter Odendaal.

Dit is werklik verblydend dat literêre vertaling – as praktyk en as teoretiese vakgebied – toenemend meer aandag geniet, soos blyk uit die verskyning van Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over, sowel as die artikel deur Pieter Odendaal wat die ongewone vertaalkeuses in die bundel ontleed.

Die grootste wins van die artikel is inderdaad – soos die opsomming aandui – om “die tradisionele opvatting van vertaling as die oordrag van betekendes uit te brei” (Odendaal 2011). Odendaal slaag daarin om die tradisionele siening van vertaling te verruim deurdat hy “oortekening” op oortuigende wyse as teoretiese instrument en vertaalstrategie aanbied. Dit is veral sy sistematiese aanpak, teoretiese onderbou en klassifikasie van verskillende dekonstruktiewe vertaalstrategieë wat beïndruk.

In sy teoretiese uiteensetting (afdeling 4) fokus Odendaal spesifiek op twee perspektiewe op vertaling, soos deur Derrida voorgestel – vertaling as transformasie (of reis) en as korruptering. Ek reken dat veral eersgenoemde die verdere gesprek oor vertaling in literêre verband belig, en dit is belangrik om Breytenbach (2009:60) se eie woorde in hierdie verband in die nota agter in die bundel (ook deur Odendaal aangehaal) te herlees:

Vertaling, om oor te gaan van die een taal in ’n ander, is ook ’n reis. Die landskap verander, winde met die reuke van onbekende groei waai soos nuus oor die hoogland na laerliggende valleie, jou skaduwee verskiet, die lied bly ’n wisseltong tussen bekend en onbekend.

Die implikasies daarvan om vertaling as reis te konseptualiseer, is talryk. In die eerste plek hou dit in dat vertaling ’n verkenning is van die volle ruimtes van taal, anderkant die gekaarte grense van betekenis. Dit is in hierdie sin dat die Afrikaanse komponent van die titel (“oorblyfsels”) besonder betekenisvol is: ’n Mens sou jou die betekenis van ’n woord as ’n beweeglike ruimte, eerder as ’n enkele vaste punt, kon voorstel. Binne hierdie ruimte lê die denotatiewe, die “gewone” betekenis van die woord, maar verder is die ruimte gevul met die “oorblyfsels” van betekenis, die eggo’s, die assosiasies, die (aspris)-verkeerd-gehoorde (waarna Breytenbach ook in sy antwoord verwys).  Dit sou kon wees die konnotatiewe betekenisse van die woord, maar die ruimte bevat waarskynlik méér as slegs konnotasies.  Meer waarskynlik is dit gevul met ’n oersop van talige moontlikhede wat mekaar soms toevallig ontmoet, soms transformeeer en/of muteer; hulle soms aanmeld vir seleksie. 

Gegee hierdie hipotese, sou ons kon raai dat die vertaler hom/haar tot hierdie ruimte sal wend ten einde die vertaling daar te stel.  Die belangrike hier sal wel wees dat die vertaler, maar óók die leser van die vertaling, oopgestel moet wees om die bestaan van so ’n ruimte te aanvaar.  Daarsonder is die kans goed dat die vertaling as bloot “swak” afgemaak sal word, soos een resensent wel opgemerk het. 

In die tweede plek hou vertaling-as-reis in dat die resultate van die vertaalhandeling waarskynlik onvoorspelbaar is; ook ondermyn dit die nosie van vertaling as deurdagte besluit, as keuse uit “vrye wil”.  Reis in hierdie sin beteken dat ’n onbekende landskap verken word en in die besonder, dat die landskap se besondere topografie jou roete bepaal.  Jy is die waarnemer en jou handelinge en ervarings word grotendeels deur die landskap bepaal.  Die eggo’s tussen die kranse is nie daar omdat die reisiger teenwoordig is nie – die weerkaatsing van die klankgolwe is ’n eienskap van die landskap waarvan die bewuste subjek waarnemer is met die fisieke strukture tot sy/haar beskikking, of hoogstens ’n meedoener aan die spel van klank en weerklank.

Toegepas op die vertaalpraktyk kom vrae soos die volgende dus na vore: Is die vertaler wél ’n bewuste subjek wat uit vrye wil sekere vertaalkeuses maak, sodat daar sprake kan wees van “vertaalbesluite”?  Of is die vertaler eerder ’n optekenaar of skriba van ’n spesifieke proses van tekstualiteit – een wat ons voorlopig as “verkenning” of “ontdekking” kan bestempel?  Word hierdie proses dalk bepaal deur die topografie van die teks?  Is dit moontlik dat die spel van eggo’s en assosiasies wat in die vertaling tot stand kom, deur ’n teksinterne energie geaktiveer word, eerder as wat hulle deur die aktiewe tussenkoms van die vertaler daargestel word?  In watter mate is vertaling hoegenaamd ’n bewuste, kognitiewe proses?

Die konsep van “oortekening” soos baie knap deur Odendaal daargestel, werk volgens my moontlik met die voorveronderstelling dat daar wel ’n agent teenwoordig is – die oortekenaar, oftewel die vertaler wat oortekening as strategie gebruik en dus instrumenteel is in die oorsettingsproses – hetsy transformasie of korruptering. Odendaal verwys na Chatzidimitriou se “translingual authors,” of “translingual writers” wat my laat vermoed dat hierdie outeur-tussen-tale veronderstel word as die setel van die vertaalproses.

’n Aspek wat moontlik verder ondersoek kan word, is in hoeverre die vertaler wel ’n beskryfbare agent is; of die vertaler nie moontlik, soos Barthes se outeur, dood verklaar kan word nie?  Indien ons laasgenoemde as hipotese aanvaar, kan ons spekuleer dat die intertalige spel van oortekening ’n eienskap van tekstualiteit is, eerder as die uitkoms van ’n bewuste oortekenaar se besluite.  Daar kan dan ook gekyk word na die implikasies van hierdie hipotese vir ons voorstellings van onsself as subjektiwiteit.

Dit sal nodig wees om ’n herbesoek aan Barthes af te lê ten einde oortekening as ’n eienskap van tekstualiteit, eerder as bewuste strategie, te kan oorweeg. Dit is veral sy idees rondom die outeur en tekstualiteit wat so ’n ondersoek kan rig.  Voor die poststrukturalisme bestaande sienings oor die outeur radikaal verander het, was die outeur die “anker” van die literêre werk se betekenaars en het hy/sy ’n sentrale posisie ingeneem as oorsprong van betekenis en eindpunt van die leeshandeling (Graham 2003).  Barthes (in Graham 2003) verklaar egter dat die teks hoegenaamd nie ’n liniêre struktuur met ’n enkele “boodskap” deur die Outeur-God het nie – eerder beslaan dit ’n multidimensionele ruimte waarin verskillende tekste (en betekenisse) byeenkom, waardeur Barthes se siening van tekstualiteit as in wese intertekstualiteit beklemtoon word.  Die term tekstualiteit staan dan ook in die poststrukturalistiese raamwerk naas begrippe soos écriture en différance om na die spel van betekenis in ruimte sonder ’n vaste kern van betekenis te verwys (Graham 2003).  Hiermee saam hang Bakhtin se bekende konsep van taal as dialogies, waar ons woorde nooit net ons eie is nie, maar altyd spore van die reeds gesêde bevat.  Daar is dus immer ’n ander(s)heid (“otherness”) in al ons woorde vervat, sodat enige stem altyd meerstemmig is.  In hierdie ruimte is die outeur slegs maar die samesteller van ’n netwerk van intertekstuele betekenisse en verhoudings. Dit kan beteken: Of ons praat, skryf of vertaal – ons beweeg daarmee tot binne-in ’n landskap wat gekenmerk word deur ’n saambestaan van stemme, uitings en betekenisse.  Ons sal die eggo’s hoor, maar nie die oorsaak of skepper daarvan wees nie.  Hoogstens kan die skrywer/vertaler die eggo’s opteken.

Barthes se onderskeid tussen ’n “Werk” en ’n “Teks” is ook ’n nuttige raamwerk om tekstualiteit en die eienskappe daarvan verder te ondersoek.  Die gedagte van ’n landskap wat die saambestaan van stemme en betekenisse is, word gekwalifiseer deur Barthes (1989:59) se beskrywing van die Teks as veelvuldig, maar óók meer as die saambestaan van betekenisse: “The Text is not coexistence of meaning, but passage, traversal... (my kursivering)”.  Hiermee word ons teruggeneem na Breytenbach se voorstelling van vertaling as reis, maar nou skyn teks inherent ook reis te wees.  Sou dit kon beteken dat vertaling teks is en teks ook vertaling – overgesetsynde, is vertaling-as-reis ’n inherente eienskap van tekstualiteit?

Barthes (1989:59) beskryf die teksinterne prosesse waardeur die betekenaar voortdurend voortgebring word, as “ ... not achieved by some organic process of maturation, or a hermeneutic process of ‘delving deeper,’ but rather by a serial movement of dislocations, overlappings, variations; the logic governing the text is not comprehensive ... but metonymic; the associations, contiguities, cross-references coincide with a liberation of symbolic energy.”

Dit skyn dus asof die vertaler se rol eerder dié van skriba is, maar dan een wat oopgestel is vir die ruimtes waarin betekenis sowel as tekstualiteit bestaan.  Ook is die vertaler die een wat kennis neem van die moontlikheid dat die self nimmer ’n afgeronde en voltooide konstruksie kan wees nie.  Teks, vir Barthes, hou immers soos die erotiese die moontlikheid in om die self as heel of intakte eenheid op te hef.  Die veelvuldige stemme in die teks fragmenteer ons subjektiwiteit en breek deur die simboliese grense waarop ons kulturele definisies van onsself en ons wêreld berus (Moriarty 1991).  Wie dít toelaat, kan in taal reis en die moontlikhede opteken, terwyl hy/sy self die kans kry om aan die spel deel te neem. En  wie weet, dalk onverwags, in Breytenbach se gevaarlike oomblik, die “essensiële wese van die Ander mag aanraak”.  Waarmee ons eensklaps midde-in ’n nuwe tameletjie beland, want is daar iets soos die “essensiële wese”; indien wel, wat is dit en in hoeverre word dit deur taal gekonstitueer? 

Bronne

Barthes, R. 1989 [1986]. The rustle of language. (Vertaal deur Richard Howard). Berkeley & Los Angeles: University of California Press. 
Breytenbach, B. 2009. oorblyfsel / voice over. Kaapstad: Human & Rousseau.
Graham, A. 2003. Roland Barthes. New York: Routledge.
Moriarty, M. 1991. Roland Barthes. Stanford: Stanford University Press.



<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<