Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Een Zulu op mijn bank verwoord rassisme in Nederland


Carina van der Walt - 2011-09-14

Onlangs het ’n publikasie by Uitgeverij International Theatre & Film Books verskyn. Dit is Een Zulu op mijn bank (2011) van die toneelregisseur Roelof R Twijnstra. Die boek is outobiografies. Daarin kry Zandile dit nié reg om in Nederland aan te pas nie. Sy vertrek met haar seuntjie Thabo terug na Suid-Afrika. Die hoofpersoon se onvermoë om Zandile  se aanpassingstryd in Nederland te verstaan is opvallend. Die boek openbaar ’n onvriendelike immigranteklimaat en vriendelike rassisme.

Is die titel een Zulu op mijn bank rassisties? Dit roep spontaan by my ’n assosiasie en ’n vraag op. Sou ’n titel soos ’n Dobermann op my stoel rassisties, of op sy minste diskriminerend, wees? Indien wel, moet die Dobermann dankbaar wees dat hy toegelaat word op die stoel? Hoekom? Want hy hóórt nie eintlik daar nie?

“Papa, je zat met een Zulu op de bank. Zo gewoon was het helemaal niet!” (p10).

Die buitebladfoto is van Zandile. Haar natuurlike velkleur sit onder wit gesigsverf. Dit kan op verskillende maniere interpreteer word: inisiëring; dis ’n foto van ’n verhoogproduksie of dis ’n simboliese poging om wit te word in Nederland. Die laaste moontlikheid is natuurlik gedoem tot mislukking, want die verf is tydelik van aard.

Dit word gou duidelik dat hierdie “ik” verskriklik selfgesentreerd is. Vyftien keer kom die woord “ik” in eenvoudige sinne op die eerste bladsy voor.

“Ik rij in het donker over de snelweg naar Schiphol” (p 1).

’n Dramatiese afskeid lê voor, maar die “ik” reageer afstandelik en wesenloos. Die beste waartoe hy in staat is, is om Zandile te herinner aan haar medikasie. Hy suggereer dat sy nie normaal daarsonder kan funksioneer nie. Vir Thabo gee hy ’n soentjie. Hy hoop dat die kind nie sal huil nie. As iemand hom die volgende dag bel met nuus dat Zandile en Thabo verdwyn het, lyk sy reaksie onbetrokke. Twijnstra speel in die boek met die verraderlike verhouding tussen outeur en “ik”-persoon.

Hy het sy vader se blatante, rassistiese raad oor Zandile geïgnoreer: “Als je gelukkig bent met haar, probeer dat te blijven, maar beloof me: trouw niet met haar, nooit. Verschillende culturen, leeftijdsverschil, dat gaat nooit goed. Ze is zwart, mooi, erg mooi en intelligent, dus pas maar op” (58).

Zandile wou met haar vertrek terug na Suid-Afrika eintlik die pille vergeet wat haar vir lang tye bedwelm het. Een van die verskynsels in Nederland is om mense wat om een of ander rede nie honderd persent in die samelewing funksioneer nie, baie vinnig vir sielkundige behandeling te verwys. Selfs tydelike aanpassingsprobleme, soos in de geval van Zandile, word subtiel ingedeel as ’n psigiatriese toestand.

Die “ik” vererg hom vir Zandile se Italiaanse psigiater as hy verduidelik: “De meeste Nederlanders lijken voor een immigrant vriendelijk, open en tolerant, maar op een volgend moment handelen ze vaak anders, ze zijn niet wat ze lijken te zijn. Nederlanders communiceren hun volksaard op indirecte, vaak hypocriete wijze, misschien is die wijze van communiceren zelfs wel onderdeel van hun volksaard (85).

Die psigiater raai Zandile aan om vir kort periodes in Suid-Afrika as aktrise te gaan werk. Dieselfde tipe hipokriete gedrag as waarna hierdie psigiater verwys, word deur die “ik” by ’n kollega ontmasker, ene Harry Winkelmans. Winkelmans speel graag as suksesvolle akteur in die Suid-Afrikaanse plakkerskampe, totdat hy bedreig begin voel. “De wapenstilstand tussen Harry en ons,” zegt Zandile, “herken ik elke dag als ik in Nederland ben. Mensen proberen met elkaar om te gaan, maar je voelt dat je niet gewenst bent, zoal Harry dat hier voelt. Ik ben bang dat hij ziek wordt, zoals ik dat in Nederland ben geworden” (96).

In ’n poging om hulle huwelik te red, bespreek die “ik” ’n vakansie vir hom, Zandile en Thabo op die Griekse eiland Rhodos. Tydens die vakansie raak hy een aand agter die stuurwiel aan die slaap. Hy lieg so oortuigend oor die oorsaak van die ongeluk wat daarop volg dat hy dit self begin glo. Die polisie glo hom ook, maar sy reddingspoging vir hulle huwelik misluk. Zandile en Thabo vertrek.

Vyf maande later besoek die “ik” Grahamstad. Hy sien Zandile onverwags. Sy dans in ’n toneelstuk op die kunstefees. Sy lyk gelukkig en gesond. Dit is hý wat psigoties optree as hy verward ineenkrimp en haar laaste pille wat nog by hom is, self sluk. Sy laat hom verstaan dat sy wakker was tydens die ongeluk; sy weet dat hy vir die polisie op Rhodos gelieg het en dat hy haar en Thabo nie kon beskerm nie.

Presies dit wat immigrante nodig het, beskerming en liefde, kon hierdie “ik” Zandile nie bied nie. In sy soeke na waarom hulle verbintenis misluk het, word dit duidelik dat sy probleem by homself lê. Zandile was sy eksotiese trofee uit ’n verre Afrika-land. Hy kon spog oor hoe tolerant, onselfsugtig, vrygewig en opofferend hy self is. Sy selfingenomenheid krap. Wat ook krap, is dat hy ’n uiters vlak karakter bly: een en al “image”. Tog is hy soos ’n verblindende son wat Zandile laat oplos en verdwyn in sy selfbeheptheid.

In ’n land van “niets moet, alles kan” en “nee heb je, ja kan je krijgen” het mense dikwels ongesonde porsies selfvertroue en selfgesentreerdheid. Vanuit só ’n opvoeding waarin jy self nog altyd die middelpunt was, is rassisme teenoor immigrante vanselfsprekend. Hierdie publikasie demonstreer dit. Die progressiewe seun is niks beter as sy konserwatiewe pa nie.