Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Laurie Levine se Six Winters is hartverskeurend mooi


Leon-Ben Lamprecht - 2011-09-14

Six Winters
Laurie Levine

My fok! Hoekom het niemand my vroeër vertel van Laurie Levine nie?

Om die waarheid te sê, ek is so verstom deur hierdie kunstenaar, deur hierdie musiek, dat ek nie lekker weet hoe om te verduidelik presies hoe baie ek van Six Winters hou nie. (Verskoon my dus as ek spontaan “hallelujah!” en/of “hosanna!” sou uitroep.)

Maar ek gaan in elk geval probeer.

Vergeet gou bietjie van die biologie, maar as Katie Melua en Janis Joplin ’n kind moes gehad het, het sy waarskynlik soos Levine geklink.

Hallelujah, broers en susters, hallelujah!

Levine se musiek is bietjie country, bietjie folky, met ’n skeut melankolie en storievertelling en lirieke wat, anders as dié review, baie met min woorde sê.

Six Winters, haar derde album, is 12 snitte en 44 minute van meesleuring.

Dis meesterlik vervaardig deur Dan Roberts (hy speel ook ’n handvol instrumente: banjo, kitaar, ukelele) en jy kan onder meer jou ore oop hou vir Ian Roberts se bekfluitjie en Lize Wiid se puik backing vocals en trekklavier (nie gedink jy gaan “puik” en “trekklavier” in een sin lees nie, nè?).

Oh Brother”, die openings- en eerste enkelsnit, begin met bluesy kitare wat jou kriewelrig opgewonde laat. Dit dra die pyn in die lirieke goed oor: “Oh, it’s a long way down/ I’ve reached rock bottom/ but I don’t know how to climb.”

Gepraat van pyn, Dan Roberts verklaar in die persverklaring oor die album: “There's a lot of pain there, but extraordinary beauty too.” Dis inderdaad ’n tema wat regdeur Six Winters loop. In die einste titelsnit, byvoorbeeld: “It was the winter sun on your back/ that did it/ no turning back/ and the whole world was cold and stark.”

Maar dis nie ’n hopelose scenario nie, en sy kry dit reg om dit oor te dra sonder om soos ’n motiveringspreker te klink: “But you filled it up with your love/ we were kindred spirits of the dark.”

“Beautiful loser”, die uwe se uitstaansnit van die album, vat dié pyn-en-skoonheid-tema waarvan Dan Roberts praat, waarskynlik die beste vas: “He’s a regular guy/ but he can’t make a start/ a broken heart, a wounded streak/ some say gifted, some say weak/ look close to notice, he underplays/ his place in the world/ he’s too afraid.” En dan: “He’s a beautiful loser/ and God loves him that way/ no matter what/ he’ll end up in heaven.”

Dis ’n beeldskone lied wat jy oor en oor gaan wil luister. Na mekaar. Terwyl jy op ’n grou Kaapse aand met ’n glas pinotage by die ruit uittuur, en die reën jou venster in vlae aanval.

But I digress.

Met “Beautiful loser” – trouens, die hele album – kry Levine ook iets merkwaardigs reg: soos dit ’n goeie liedjieskrywer betaam, slaag sy daarin om die intens persoonlike universeel te maak. Wie van ons ken nie (of is nie) ’n beautiful loser of twee nie?

“Where have you gone” is nog ’n voorbeeld. Hierdie is nie sommer enige hierjy breakup song nie: “Now my eyes they are adjusting/ but there is nothing much here to see/ just a memory of a memory/ and a man I knew bended on one knee/ and I sing ... where have you gone?”

Dit verg ’n dapper kunstenaar om soveel van jouself in ’n lied te sit. Dit voel egter nooit oorweldigend nie, eerder intiem, asof sy sommer in jou sitkamer vir jou sing terwyl jy daai glas pinotage drink.

Nog iets wat dapper is, is om ’n Baie Bekende Liedjie soos “Ring of Fire” te cover, iets wat Levine doen en ’n onderskeiding voor kry. Waar Cash se weergawe ’n effense opgewektheid daarin het, is hare vol amperse selfvernietigende hartseer. Dis hartverskeurend mooi.

Dis régtig moeilik om oor dié album te skryf en nie in gushing clichés te verval of te klink soos Levine se persoonlike bemarker nie. Daarom gaan ek maar hier halt roep en net dié byvoeg: jy gaan baie moeilik ’n beter album as dié vanjaar hoor (hel, ek luister dit nou al vir amper ’n maand sonder ophou). Gaan koop die album, nou dadelik, en sorg sodoende dat ons in die toekoms nog van Levine se musiek gaan hoor.   

Hosanna! Hallelujah!

  • Koop Levine se album hier. As jy wil, volg Levine op Facebook of Twitter.
  • Levine tree binnekort hier op: Alexander-teater, Braamfontein, 19h30 op 22 September, R80 pp. Gaan na www.laurielevine.co.za vir besprekings.