Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

'n Annerster soort se stem is sterk


Jaco Fouché - 2011-09-13

’n Annerster soort
Thijs Nel
Uitgewer:
Ateljee


Die stem van Thijs Nel se verhalebundel ’n Annerster soort is sterk. Die redigering is goed. Ek het nie ’n enkele drukfout raakgesien nie en die taalgebruik is op die man af, maar keurig. Beskrywings word in kort sinne baie doeltreffend aangewend.
         
Die boek bestaan uit drie dele, die eerste deel sowat 70 bladsye, die ander dele sowat 20 bladsye elk. Dit is ’n “tweede bygewerkte uitgawe” (volgens die titelblad) van ’n bundel verhale wat in 1997 by Human & Rousseau verskyn het. Agterop sien ’n mens die skrywer as bejaarde man met ingeleefde gesig, en ’n mens moet wonder hoeveel die wedervaringe van die seunsfigure van wie jy in deel I verneem, met daardie uiteindelike gelaatstrekke te doen het.
         
Want terwyl ’n mens met belangstelling lees, wonder jy hoeveel hiervan waar is. Op die oog af sou ek sê heelwat. As ’n man met soveel gemak tamboties, “slonsrose”, doodskiste, boormasjiene, uitgewerkte myne, wellustige pa’s, kens mense en kwaai oumas as agtergrond gebruik, moet ander dinge mos ook waar wees. Ek sou graag wou weet of dit die geval is met “Ou Mal Dawie van Skrikverby”. Was daar regtig so iemand wat ’n babatjie vermoor het? Die eerste deel van die boek adem veel van kontreikuns.
         
Die nuwe bundel is uitgegee deur Ateljee, ’n vir my onbekende druknaam van Oudtshoorn. Op die titelblad lees ’n mens dat daar slegs 200 eksemplare van die nuwe uitgawe beskikbaar gestel is.
         
Al die ou, ou plaasdinge en familiedinge waarvan ’n mens hier lees, herinner my aan wat ’n man in sy twintigs vir my gesê het nadat ek hom ’n dekade gelede met sy grunge-voorkeure na ’n Gert Vlok Nel-show geneem het: “Nou voel ek so Afrikaans.” Dis presies die indruk wat hierdie boek by my wek; dat ’n mens, wanneer jy hierdie werk ondersteun, in jou eie goed belê.
         
Die Nel met die voornaam Thijs dra, soos sy singende vangenoot, ’n kontreitema in ’n mens se leeslewe in en herinner jou aan wat Etienne van Heerden iewers geskryf het, dat “ons almal ’n plaas in ons verlede het”.
         
Voeg daarby die feit dat die materiaal ryp, selfs beleë, in die aanbieding daarvan is. Die stories word vertel in ’n stem wat van ervaring spreek. Dis ’n stem soms vol nostalgie, maar die sentiment oordonder nie die stories, wat gereeld met verrassingsmomente eindig, nie. (Ek bly aan die stomme Mal Dawie dink. Kon die mense nie gesien het hy gaan eendag so iets doen nie? En dan is daar die bokoppasser Martha, wie se verhaal in ’n sin nóg tragieser is. En die befoeterde pa wat so rondloop? Het hy bestaan?)

Onwillekeurig bekyk ’n mens weer die gesig met die groot oë wat jou van die agterblad af terug bekyk, en jy lees agter in die bundel van Nel wat ’n kunstenaar was, of steeds is. Hy kyk inderdaad met ’n kunstenaarsoog. Maar dis nie net visueel nie. Die temperatuur van vloeistof, die kraak van ’n boomtak, die gevoel van sand onder ’n kind se arms, en daardie kind se skrik vir die grootmense wat so maklik humeur verloor en ook vir ander kinders, soos die brutale Jan-Karel in “Die donkerderdonker” – dit alles dra by tot die leser se ervaring en herkenning van die situasies.

Daar word nie doekies omgedraai oor seksuele materiaal nie, hoewel ons die grafiese ergste gespaar word. Die titelverhaal met sy vreemde “annerster” vis en seun is ten spyte van ’n sekere kragdadigheid in die pa se gedrag wat my aanvanklik gepla het, op die ou end lieflik onderbeklemtoon. (Die pa-figure in ander stories is ook nogal kragdadig, maar wie sal weet hoe die model was, as daar van ’n model sprake is?)

Dan is daar, weer, “Die donkerderdonker”, wat in teenstelling op ’n kragtige en (miskien ook net vir my – dit sal interessant wees om ander menings oor die verhaal te hoor) skokkende manier eindig. Soos by die storie oor Mal Dawie het ek gewonder hoeveel werklikheid die vertelling onderlê.

En toe in “Ek, ek, jy’s my gek” word my vermoede weerlê wanneer die fokalisator wel belangstelling in ’n vrou, Ona, toon, en ook die moontlikheid van kontak met die losse Bella ondersoek, hoewel haar losheid hom uiteindelik ontmoedig. Dis ’n bundel om ’n mens aan die raai te hou.

Ek sê heelwat oor deel I, maar dit is nie net by verre die langste nie, maar ook die beste deel van die boek.

Deel II bevat ’n aantal moderne sprokies in die styl van Jan Rabie se 21. Nie te versmaai nie, maar wat my betref, lig in vergelyking met die voorafgaande deel.

Deel III is ’n kort stel herinneringe aan Ellisras, wat oorspronklik die plaas Waterkloof was, waar die skrywer gebore is. Hierdie deel bevestig suspisies omtrent die sterk outobiografiese inslag van die eerste deel.

Deel I herinner my in sy geduldige uitbeelding van ou dinge aan Uitsig op Perdekop van PJ Bosman. Daardie boek is wel ’n roman, maar daar kry ’n mens ook die uitborduring wat ’n sekere ritme en dromerigheid en nostalgie tot gevolg het en ’n “ou wêreld” by ’n mens oproep. Dit maak vir genotvolle en rustige lees, sonderhaasomklaartemaak.

Uiteindelik wil ’n mens die boek nie anders hê nie. Jy wil lees oor hoe die mense geleef het, wat vir hulle belangrik was, hulle wat by eerste oogopslag in ons versnelde tye moontlik oud, outyds en tydsaam in hulle deugdelikheid sowel as hulle foute voorkom.

Immer hoor ’n mens die karakters van weleer vir jou sê: “Ons het ook geleef.” Dit is in daardie aanspraak dat ons die krag van ’n Annerster soort aantref.