Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Is kapitalisme se dae getel?


Cornelius Jansen van Rensburg - 2011-09-08

Sedert die finansiële krisis van 2008 word daar opnuut gekyk na die wyse waarop die wêreld sake doen. Hierdie selfondersoek het selfs die idees van sentrale ekonomiese beplanning laat herleef en eintlik die hele debat oor die kernbeginsels van ekonomie heropen. Swak ekonomiese besluite deur regerings, asook die feit dat groot banke skotvry van hul troebelagtige praktyke afgekom het, het belastingbetalers wêreldwyd woedend gemaak. Dit is dus nie vreemd dat “bankiers” en “kapitaliste” skelwoorde in sekere kringe geword het nie.

Beteken dit egter dat daar ’n stille meerderheid in die wêreld is wat ’n politiek-ekonomiese skuif weg van die vryemarkstelsel sal ondersteun en dat kapitalisme se dae getel is?

Mens moet kennis neem dat oormatige en ongeoorloofde individuele skuldvlakke en roekelose spekulasie op markte die primêre oorsake van die krisis was. Gebrekkige regulering het dit toegelaat en derhalwe is finansiële markte vrye teuels gegee om ’n slegte en uiters riskante situasie eksponensieel te vergroot. Soos in die 1920’s was dit individue se gierigheid wat tot irrasionele gedragspatrone in die ekonomie aanleiding gegee het, en nie die stelsel op sigself nie.

Die term kapitalistiese stelsel is eintlik eerder ’n beskrywing van die mens se normale ekonomiese gedragspatrone. Die onsigbare hand omskryf hoe die mens al vir duisende jare die waarde van goedere en dienste bepaal en daarvolgens gehandel het. Die vrye vloei van hulpbronne, goedere en dienste is eintlik die natuurlike orde van ekonomiese aktiwiteit. Maar soos in die natuur, verander seisoene en kan rampe ook die finansiële stelsel tref. Daarom is ekonomiesebestuursinstrumente nodig.

Die verantwoordelikheid van mark-rolspelers (regerings, reserwebanke, ondernemings en dies meer) is om eintlik die bestuur van hierdie natuurlike proses so in te rig dat jy verskans is teen die wisselvalligheid van vernietigende rampe (soos dié van 1929 en 2008), maar terselfdertyd nie die natuurlike vloei van goedere belemmer nie. (Vandaar die debat tussen kapitalisme en kommunisme.) Dit is hierdie bestuursinstrumente wat ons in 2008 in die steek gelaat het en waarskynlik weer in die toekoms in die steek gaan laat. Hierdie mislukking was egter nie genoeg om die vrye mark te knak nie.

Indien kapitalisme se dae getel was, sou daar duidelike veranderinge in die beweging van goedere en dienste in die wêreld gewees het. Radikalisering en drastiese inperking van politieke regte sou in byvoorbeeld Europa en die VSA bespeur kon word. Waarom? Want politieke vryheid en ekonomiese vryheid loop hand aan hand.

Wat ons nie uit die oog moet verloor nie, is dat ’n vryemarkekonomie steeds ’n baie beter lewenstandaard teweeg bring as ekonomieë wat nie kapitalisties is nie. In gevalle van ekonomiese insinkings is die impak erger in lande waar daar nie ekonomiese vryheid is nie as in lande met ’n vryemarkekonomie. Die Arabiese Lente in die Midde-Ooste is ’n toepaslike voorbeeld.

Kapitalisme moedig handel, kommunikasie, die uitruil van idees en vernuwing oor grense heen aan. Handel verskraal die kanse vir geweld drasties, want wie wil oorlog maak as jy eerder kan geld maak?

Die siniese opvatting dat gierigheid en vrees die ratte is wat die ekonomiese masjien laat draai, is nie ver van die waarheid nie. Dit is dan juis die vrees om môre sonder hulpbronne te wees, en die behoefte om geld en besittings vir die dag van môre bymekaar te maak, wat elkeen van ons laat werk en planne beraam oor hoe om ons inkomste te verhoog. Juis as gevolg van gierigheid het middelklas Amerikaners ’n tweede verband op hulle huise uitgeneem om motors en platskerm-televisiestelle te koop en het makelaars aftreegeld in termynkontrakte belê, wat uiteindelik tot die ekonomiese krisis gelei het. Maar hierdie aspekte is ook die dryfveer agter die ondernemings en entrepreneurs wat vir die wêreld werk skep.

Vele mense meen dat die mark selfregulerend behoort te wees, maar die onlange resultaat bewys die teendeel. Indien gesonde finansiële beleid wat gesonde ekonomiese beginsels ondersteun in die VSA gevolg was, sou die krisis waarskynlik nie plaasgevind het nie. Daarteenoor kan Suid-Afrikaners gerus wees dat ons juis nie so wesenlik deur die krisis geraak is nie weens onder meer ons kredietwette en ander finansiële bestuursregulasies.

Goeie reëls beperk jou nie, dit maak jou vry. Regulasies wat die mark orden, moet aan hierdie beginsel voldoen. In beide die VSA en Europa se geval blyk dit dat ernstige oorweging geskenk behoort te word aan die wetlike verskansing van kapitalisme se spelreëls: deursigtige finansiële verslagdoening, gesonde leningsriglyne en kodes om wanpraktyke te verminder. Suid-Afrika se instellings soos die JSE, FSB en Mededingingskommissie, asook die Kredietwet, Fica en FAIS-wet, is uitstekende voorbeelde van verantwoordelike en bemagtigende regulering sonder om die vrye mark te beperk.

Op ’n meer universele vlak veroorsaak die kapitalistiese stelsel sekere “anomalieë”, of faktore wat ons waardes en sin vir waarde skeef trek. Waarom is onderwysers byvoorbeeld van die laagsbesoldigdes? Is die waarde wat onderwysers tot ’n land en sy toekoms toevoeg, nie meer as die waarde wat byvoorbeeld rekenmeesters toevoeg nie? Mense fokus eerder op kommissiegedrewe tussengangerberoepe as op beroepe wat werklik produksie en waarde tot die ekonomie voeg. Dit skend mos die waardes wat kapitalisme propageer?

Kapitalisme is ’n dier wat onder konstante evolusie gebuk gaan. Waar jy ’n 100 jaar terug jou graan na die mark geneem het om te bemark, doen jy dit vandag elektronies. Die wette wat dit reguleer, asook die deelnemers wat die waarde van goedere en die toedeling van hulpbronne bepaal, verander voortdurend en daarom sal die stelsel altyd verander. Soos PW Botha destyds gesê het: “Adapt or die.”

Indien kapitalisme tot ’n einde sou kom, wat is die alternatief? Kan ’n ander stelsel soveel welvaart en geleentheid skep soos die vryemarkstelsel? Kan politieke vryhede in ander stelsels so verskans word soos in die vrye ekonomie? Watter ander voorbeeld bestaan waar ’n arm kind deur harde werk, opoffering en vernuwing die rykste man in die land kan word? Enige ander stelsel veronderstel dat ’n magshebber ekonomiese besluite namens ander mense neem.

Dat kapitalisme tot ’n einde sou kon kom, was ’n groot risiko in Augustus 2008. As Gordon Brown nie die leiding geneem het met die herkapitalisering van Britse banke nie, sou die wêreld in ’n groot gemors gewees het. Eerstens sou likiditeit in die mark opgedroog het, wat beteken dat mense hulle spaargeld sou verloor het. Tweedens sou opstande regoor die wêreld plaasgevind het, met konflik tussen lande ’n sterk moontlikheid. Die Weste sou in iets baie ergers as die Depressie van 1929 vasgevang wees het, en ons sou letterlik weens hongersnood of geweld omgekom het.

In die film Other people’s money speel Danny De Vito die rol van ’n gierige belegger wat bates stroop sonder enige gevoel vir sy medemens. In die raadsaal waarsku hy sy prokureurs: “The communists are not gone, they’re only waiting in the bushes, and when they come out the first thing they do is shoot all the lawyers.” Dalk is dit eindelik die teenwoordigheid van die regstaat in baie lande wat verseker dat politieke vryheid blywend is en uiteindelik ’n meer doeltreffende ekonomie verseker.

Kapitalisme soos ons dit geken het, se dae is waarskynlik getel. Ons sit immers met ’n bykans totaal geïntegreerde wêreldekonomie: veranderende vergoedingspatrone, die opkoms van sogenaamde ontluikende markte, die vinniger verspreiding van demokrasie, groter sosiale uitdagings, en ’n toename in oumense en arm kinders. Hierdie faktore sal ons waardes en waardasie van hulpbronne drasties beïnvloed.

Solank daar mense met oneindige behoeftes en beperkte hulpbronne is, sal die mens (ongeag regeringsbeleid) altyd die natuurlike proses van vraag en aanbod steun. As elkeen bemagtig is om sy eie ekonomiese plan te maak, is daar miljoene moontlike oplossings vir die wêreld se uitdagings; as die stáát dit doen, is daar net een moontlike oplossing.

 

  • Cornelius Jansen van Rensburg is Woordvoerder: Ekonomiese sake by AfriForum.

 

<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<