Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose Liefde''-kompetisie: Gauteng 2010


Alti Viviers - 2011-09-08

Sy kan sommer sien aan die vaal grys van sy oë dat hy weer moeilik is vandag, weer te veel gedrink saam met sy pelle. Hy sal nooit groot word nie ... Dan rol sy haar oë vir haarself, wat ook maar lekker aan ’n boks droë rooi kan kuier.

Eintlik wens sy sy kan hom haat – sy het nie gevra dat haar bloed so moet kook elke keer as sy hom sien nie. Dis nie dat sy enige gevoel het vir enige van sy vriende nie. Dis net oor hom, simpel kind ...

Hy is ook darem nie rêrig meer ’n kind nie, hy is darem al drie-en-twintig hierdie jaar. Was maar sewentien die eerste keer toe sy haarself amper in sy grys blou oë verloor het en hy haar ewe vol bravade met ’n klapsoen vir die eerste keer gesoengroet het. Dit was toe net toe dat sy so met haar neus in sy nek vir die drukslag sy volmaakte reuk ingeasem het. Dit was net na hy rugby gespeel het, so dit was definitief nie Brut of iets nie. Sy het in sy laggende oë opgekyk en geweet hier kom moeilikheid. En so was dit van toe af hierdie ding tussen hulle, dit gaan nie weg nie. Hulle sien mekaar dalk vir maande nie, hulle het mekaar nog nooit gebel nie en sms ook nie mekaar nie. Sy hoor maar so deur die grapevine van al sy nuutste meisies, almal sy ouderdom ...

En sy – getroude vrou, ma van twee ... Natuurlik nie elke dag gelukkig getroud nie, maar ook darem nie elke dag ongelukig nie, en sy en Gideon het darem ’n paar dinge gemeen. Eintlik kan hulle darem nog lekker saam pret hê en lyk hy ook nog baie goed. Sy dink eintlik hy is nou ’n bietjie liewer vir haar as toe hul pas getroud is, sy het op hom gegroei, maar ongelukkig het die skaaf en pas van die getroude lewe haar laat besef dat Gideon dalk nie die één is nie. Dis ook nie dat hulle sommer halsoorkop getrou het nie, hulle het vir vyf jaar lank uitgegaan, getrou en toe die kinders.

“So wat sê jy, sexy?” Hy val in die stoel langs hare neer en praat so naby aan haar gesig dat sy sy warm asem op haar ooglede kan voel, want sy sit met haar oë toe en wag dat hy sal weggaan. Sy hand skielik op haar been laat haar oë oopvlieg, maar sy bly doodstil sit en laat die gevoel van genot stadig oor haar spoel. Sy probeer bepaal presies hoe dronk hy is, maar dis moeilik om te sê, hy het nog nooit te ver gegaan voor ander mense nie.

“Nie veel nie ...” probeer sy die gesprek lig hou terwyl sy vinnig loer na waar Gideon en die ander nog krieket speel. Dit voel asof hy in haar diepste wese in kyk, die atmosfeer om hulle is soos ’n seepbel wat hulle wegdra van alles en almal.

“Ek dink dit is tyd ...” Sy stem is laag, sy lippe so vol en soenbaar dat sy letterlik die stoel se armleunings moet vasklou om haar te weerhou om nie haar arms om sy nek te gooi en haar oor te gee aan elke begeerte in haar lyf nie.

“Tyd vir wat?” Sy kry die vraag skaars oor lippe, dit voel asof daar geen asem in haar lyf oor is nie en of sy glad nie weet hóé om weer lug in haar longe te kry nie.

Hy glimlag stadig. Hy ken haar en weet wat hy aan haar doen.

“Ek dink dis tyd dat jy moet kies, ek dink jy het my nou lank genoeg aan ’n lyntjie gehou, met jou geflirtery. Ek dink jy moet kies tussen my en Gideon. Ek weet jy wil my hê ...”

Tóé sluk sy amper haar tong in, so vinnig kry sy haar asem terug.

“Is jy mal!” sis sy. “Ek het kinders, jy weet ek sal nooit kies nie ... ek kan nie ...”

“Nou wat dan, ons kan tog nie vir ewig só aangaan nie.”
Elke sel in haar liggaam wil sê: “Kom ons klim in die kar en ry ver-ver weg van alles en almal en en wees lief vir mekaar vir ewig.”

Haar oog vang haar twee kinders wat laggend op Gideon afstorm en hoe hy hul laggend in sy arms opraap.

“Ek voel níks vir jou nie,” prewel sy met stywe lippe.