Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

''Tydlose Liefde''-kompetisie: Clifton-strand – 1972


Trudie Jordaan - 2011-09-08

Laasnag het my gees na die see weggeloop. Iewers tussen die duine en die see sal jy haar kry. In die maanlig. Want dis Valentynsdag.

Ek het op die strand geloop met die see wat blink voor my gelê het. Ek kon die see ruik. Die maan was helder en dit was warm. Toe, ineens, het ek hom uit die vlak branders aangestap sien kom. Die wind het deur sy blonde hare gewaai. Ek het gaan staan. Toe hy my sien, het hy gewink dat ek vir hom moet wag. My hart het wild geklop.

Die afgelope week het ek hom in die son sien bak. Sy bruingebrande gespierde lyf met vierkantige skouers het my laat dink aan die standbeelde wat ek van mans gesien het. Ek het gewonder hoe hy kaal sou lyk. In die helder maanlig het ek sy liggaam soos ’n grasieuse luiperd sien beweeg. Hy het sy kop agteroor gegooi en geglimlag. Dit was die mooiste gesig wat ek ooit gesien het - die surrealisme van aantreklikheid en krag. ’n Gevoel van plesier het deur my lyf beweeg. En soos rietjiesfluit in die wind het ek gebewe.

“Hoekom kyk jy altyd vir my?” het ek gevra. Ek het gedink dis die beste manier om alles te ontken wat ons al twee geweet het.

“Dieselfde rede hoekom jy vir my kyk.”

Iemand het geroep: “Julia Brenton!”

Ek het omgekyk. Dit was die hotelbestuurder.

“Meneer Brenton soek u dringend,” het hy gesê.

Ek het omgedraai en teruggeloop. In die kamer het ’n iesegrimmige man vir my gewag.

“Waar’s my pille?” het hy gevra. Ek het dit uit die kas gehaal en vir hom gegee. Toe het ek na my eie kamer geloop. Verras het ek ’n yslike bos rooi rose op die bedkassie gesien. Dit was nie daar toe ek gaan stap het nie. Daar was ’n kaartjie aangeheg waarop gestaan het: “Jou Valentine”.

Ek het op die bed gesit. Dit was baie laat. Daar was ’n sagte klop aan die deur. Ek het oopgemaak en voor my het hy nog in sy swemklere gestaan. Hy het tot teen my geloop. Ek kon sy bene teen my lyf voel. En my ribbes teen sy gespierde bors. Sonder inspanning het hy my gelig met sy mond in my nek. En hoër op beweeg tot op my mond. Ek het soos ’n dier teruggeveg. Maar met sterk hande het hy my op die bed neergelê. Die bloed het in my kop en keel geklop. Dit was die handeling van ’n ervare man. Toe het ek my lyf aan hom oorgegee. ’n Volkome oorgawe deur die mag van weerstand. Die vrylating van begeerte in ekstase. Ek het leeg en lig gevoel, maar geweet dis ’n plesier wat ons al twee wou hê.

Hoeveel jaar terug wat hy dood is, kan ek skielik nie meer onthou nie. Ook nie wat hy alles gesê het nie. Ek voel ontsettend eensaam. Wat ek wou sê, is op die punt van my tong, maar ek kan dit ook nie meer onthou nie.