Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die elites vs die hordes


Christi van der Westhuizen - 2011-09-08

Die oorsprong van die huidige krisis in kapitalisme lê in die skuif weg van Keynesiaanse kapitalisme na neoliberale kapitalisme in die globale Noorde. Histories is die deurslaggewende oomblik die VSA se besluit in 1971 om uit die Bretton Woods-stelsel van kapitaalbeheer te tree.

Hierdie besluit het die devaluering van die dollar ten doel gehad en is geneem weens Amerikaanse produkte se toenemende onmededingendheid in vergelyking met produkte van Duitsland en Japan, wat gelei het tot ‘n krisis van oorakkumulering van kapitaal in die VSA.

Oorakkumulering vind plaas wanneer kapitaliste nie winsgewende uitlaatkleppe vir opgehoopte kapitaal kan vind nie. (In Suid-Afrika is die krisis in oorakkumulering die rede waarom sakelui in die 1970’s eers by PW Botha se hervormingspakt tussen die regering, weermag en sakesektor ingeskakel het en toe dit nie die verlangde verlossing oplewer nie, in die middel-1980’s Dakar toe vertrek het om die ANC te probeer oorwen. Hul sukses weerklink in vandag se BBBEE-transaksies.)

Neoliberalisme was die antwoord op die probleem van oorakkumulering.

Die post-Tweede Wêreldoorlogse regime van kapitaalbeheer is in die 1970’s vervang met ‘n stelsel waarin kapitaalvloei gedereguleer is. Wisselkoerse is toegelaat om te fluktueer na gelang van vraag en aanbod in die internasionale markte. Lande se heroriëntering na uitvoerhandel beteken dat swakker geldeenhede nagejaag word.

Omdat kapitaal bevry is van beheer en dus globaal ongebonde kan beweeg, is lande gedompel in ‘n resies om beleggings. Dit vorm deel van die aftakeling van die mag van die staat: die staat is ondergeskik gestel aan “die mark” en is nou daar om te verseker dat “markkragte” nie ondermyn word nie.

Dus is die konsensus vernietig wat ná die Tweede Wêreldoorlog tussen die staat, kapitaal en arbeid tot stand gekom het. Mag is toenemend in die hande van kapitaal gekonsentreer.

Staatsbeskerming van plaaslike nywerhede teen buitelandse maatskappye is onaanvaarbaar verklaar in die naam van “kompetisie”. Daar word van werkers verwag om te “kompeteer” met ander werkers in ander lande, ongeag of daardie lande outoritêre regerings het wat menseregtevergrype pleeg, onder meer deur werkers hongerlone te betaal in onveilige, ongesonde werksomstandighede.

Die devaluering wat deur die afwaartse druk op werkers se lone veroorsaak word, help om die krisis van oorakkumulering aan te spreek.

Regerings se prioritisering van buitelandse beleggings beteken ekonomiese groei, wat werkskepping beïnvloed, hang nou ook af van die nukke van gesiglose makelaars in New York en Londen.

Nodeloos om te sê is die Keynesiaanse idee van “volle werksverskaffing” in die arbeidsmark oorboord gegooi, en daarmee saam die staat se gebruik van beleidsmeganismes in dié verband. As deel van die verskraling van die staat het grootskaalse personeelbesnoeiings in staatsdienste bygedra tot ‘n groeiende groep werkloses.

Verhoogde werkloosheid, ook in die Eerste Wêreld, vernietig sekuriteit. Gebrek aan sekuriteit vergemaklik die uitbuiting van werkers, vererger deur die intensivering van globale mededinging. Massas mense se sekuriteit is verder vernietig deur die aanslag op staatsdienslewering.

Om lande “aantreklik” vir kapitaal te maak, perk regerings belasting op rykes en op maatskappye in, wat beteken regerings het minder geld om dienste te lewer. Soos staatsbegrotings besnoei word en minder dienste beskikbaar is, so word openbare goedere soos gesondheidsdienste, water en vervoer geprivatiseer. Hierdie stappe plaas dienste buite die bereik van miljoene mense.

Al hierdie beleidstappe word geregverdig as “bitter medisyne” nodig vir “ekonomiese groei”. Tog is dit opvallend dat almal behalwe nasionale en geglobaliseerde superrykes en hul handlangers die bitter medisyne moet drink.

Kapitalisme se ingeboude neiging is om sosiaal-ekonomiese ongelykheid te verdiep. Keynesiaanse kapitalisme laat staatsingrypings toe om die sosiale gevolge van kapitalisme te modereer, grondliggend tot die sosiale kontrak ná die Tweede Wêreldoorlog.

Die neoliberale omwenteling het die sosiale kontrak laat ontplof en die mag stewig terug in die hande van elites geplaas. Hul handlangers – politici, senior burokrate en maatskappybestuurders – sorg dat die stelsel nasionaal en internasionaal gereproduseer word. Daarvoor word hulle beloon met, in die geval van politici, die reg om ondanks konflik van belange soomloos tussen regeringsampte en die sakesektor te beweeg en, in die geval van maatskappybestuurders, met buitensporige bonusse.

Die elite-vooroordeel van die stelsel word bevestig deur die stelselmatige aantasting van regerings se demokratiese verantwoordbaarheid. Internasionale organisasies (die Wêreld-Handelsorganisasie, die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank) word gebruik om die bostaande beleid op lande af te dwing en om dus regeringsbeleid te isoleer teen demokratiese druk.

(Eerste Wêreldse state se mag om in te meng in die binnelandse beleidsbesluite van ander soewereine state het gekom weens die skuldkrisis wat in die 1980’s ontstaan het. Deregulering van kapitaal en ‘n hoë olieprys het ‘n oormaat van kapitaal, veral petrodollars, in omloop gebring. Weens banke se onverskillige leningspraktyke is Derde Wêreldse lande in die skuld gedompel.)

Internasionale organisasies en supranasionale liggame soos die Europese Unie is buite die demokratiese bereik van burgers en terselfdertyd vatbaar vir beïnvloeding deur hoogs georganiseerde sake-drukgroepe.

Beleidsbesluite sorg dat die groeiende groep werkloses, die krimpende middelklasse en ‘n nuwe klas mense genaamd die “werkende armes” die bitter medisyne drink terwyl patologieë in die stelsel ongesteurd voortduur. Twee voorbeelde van laasgenoemde is: (a) die konsentrasie van kapitaal in die onproduktiewe finansiële sektor; en (b) kapitaal se monopolie-vormende dinamika, met ‘n handvol multinasionale maatskappye wat internasionaal domineer in elk van byvoorbeeld die farmaseutiese, media- en kleinhandelsektore en miljarde mense se toegang tot medisynes, bemagtigende inligting en kos met voedingswaarde ondermyn.

Dit is in hierdie konteks dat die oproere gelees moet word: nie net dié in Brittanje nie, maar ook dié in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Die neoliberale stelsel word ondersteun deur outokratiese én demokratiese regerings.

‘n Regstreekse gevolg van die stelsel is dat daar in beide outokratiese en demokratiese lande groeiende onderklasse – Lumpenproletariate – is wat sosiaal en ekonomies uitgesluit is en die lewe as toekomsloos ervaar (soos die jeug van Soweto in 1976). In lande waar mense mag stem en ‘n mate van menseregte geniet, bied liberaal-demokratiese prosesse geen uitweg nie, omdat die stelsel so sterk in die elites se guns werk.

Terwyl neoliberalisme ‘n tydelike oplossing gebied het vir ‘n krisis van oorakkumulering, ‘n verskynsel wat integrerend deel is van kapitalisme, het die deregulering van kapitaal tot gevolg dat gierigheid en materialisme die wagwoorde geword het.

Nog voor die globale finansiële ramp die wêreld in 2008 getref het, was daar reeds aanduidings van ‘n ongebreidelde gejaag na wins tot op die punt van misdaad, waarvan die inploffing van Enron een van die bekendste voorbeelde is.

Deregulering het die finansiële stelsel toegelaat om só hand uit te ruk dat Wall Street as ‘n rowersnes bestempel kan word. Die konsternasie oor die plundering in Londen se strate is oneerlik, gegewe dat Wall Street-skelms in hul ontwerperspakke die ontredderende omstandighede geskep het wat vervreemde jeug tot plundering in die tempels van neoliberalisme aangespoor het.

Die massale oordrag van rykdom van die publiek na die elites het grootskaalse deprivasie veroorsaak wat nou op só ‘n punt is dat die stelsel “onstabiel, onregverdig en onvolhoubaar” is, soos die ekonoom Jeffrey Sachs dit bestempel.

Ten spyte hiervan sal die dissipels van neoliberalisme, wat onwrikbaar in die Thatcheristiese slagspreuk, “Daar is geen alternatief nie” glo, nie sommer die stryd gewonne gee nie. Daar is tog nog baie geld om uit hierdie woesteny van ellende te suig.

Hoewel hierdie dissipels daarop aandring dat ons nou in ‘n era van “post-ideologie” leef, kan hul dweepsieke toewyding tot die stelsel net as ideologies beskryf word.

Die politieke wetenskaplike Wendy Brown wys uit dat neoliberalisme nie net ‘n stel ekonomiese beleidsmaatreëls is nie, maar ‘n orde of modus van normatiewe rede met die doel om elke lewensfeer volgens die logika van “die mark” te herorganiseer.

Sakebeginsels vervang die sosiale kontrak; geregtigheid en die gevoel van om êrens te “behoort” word waardeloos gemaak. Maar die oorwegendste effek van neoliberalisme is “de-demokratisering” en ‘n radikale inperking van burgerskap tot passiwiteit en inskiklikheid.

Neoliberalisme se model-burger werk strategieë uit oor bestaande sosiale, politieke en ekonomiese opsies, eerder as om daardie opsies te verander. ‘n Neoliberale burgery bestaan nie as ‘n publiek nie, maar as ‘n groep individuele entrepreneurs en verbruikers, aldus Brown.

Hierdie depolitisering ondermyn politieke agentskap, wat verklaar waarom die vandalisme en plundering in die Britse oproere sonder ‘n politieke projek van transformasie van stapel gestuur is, hoewel dit van politieke aard was.

Die linkses – van die links-liberales tot die sosiaal-demokrate tot die sosialiste tot die kommuniste – het wêreldwyd voor neoliberalisme gekapituleer, dus gaan die politieke antwoorde in dié stadium nie uit daardie oord kom nie.

Ten slotte: die plundering en vandalisme in Brittanje simboliseer die planeet se hordes by die hekke wat ingelaat wil word. Óf die stelsel sal meer inklusief gemaak word óf die de-demokratisering sal verder verdiep word, toenemend gerugsteun met militarisering. Die bestraffende, anti-armes-reaksie van die regs-populistiese Konserwatiewe Party in Brittanje op die oproere is ‘n besluit om laasgenoemde roete te neem.

Bron:

Brown, W., 2005. Edgework: Critical Essays on Knowledge and Politics. Princeton: Princeton University Press.

 

  • Christi van der Westhuizen is Erenavorsingsgenoot by die Skool vir Politiek, Universiteit van KwaZulu-Natal, en skrywer van White Power and the Rise and Fall of the National Party.

 

<< Terug na indeksblad | Back to index <<
<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<